’n Verkenning van konsepte van binne-/buite-wees in Danie Marais se debuutdigbundel, “in die buitenste ruimte”(2006), met paratekstualiteit as vertrekpunt

ABSTRACT
An exploration of the concepts inside/outside in Danie Marais’s debut anthology, in die buitenste ruimte [in outer space] (2006), with paratextuality as point of departure

In his poetry debut in die buitenste ruimte (2006) Danie Marais explores the concepts of place and identity, of being outside, of being on the other side. The article explores the ways in which paratextual aspects contributes to the central theme. The title itself already suggests the doubleness: the concepts of being inside and being outside are placed in binary opposition and the poet finds himself not only included in both spaces, but also excluded from both. The shift takes him from a central position to a marginal one – and eventually he becomes the Other, a position, as one of the mottos suggest, from which there is no return. From this new position there is an act of continuously looking back from one space to another, a movement which brings forward the aspect of liminality. Central to the work is the relationship with the loved one and the disintegration of this relationship, which can be read as a metaphor for the personal experience of loss of cultural identity, mother tongue and homeland.

1. Inleiding

Met sy debuutbundel, in die buitenste ruimte, verower Danie Marais drie literêre pryse en vestig hy opnuut die aandag op die sosiale tendense van ontheemding, vervreemding en buitestanderskap wat toenemend deel van die Suid-Afrikaanse literêre landskap uitmaak en terselfdertyd die internasionale tydgees reflekteer. Volgens Vertovec (2009:1) word transnasionalisme gesien as “a widespread interest in economic, social and political linkages between people, places and institutions crossing nation-state borders and spanning the world”.

In hierdie artikel word daar ondersoek ingestel na die konsepte van binne- en buite-wees en die gepaardgaande dubbelgerigtheid of dubbele bewussyn van Marais as diaspora-digter aan die hand van sy debuutbundel, in die buitenste ruimte, sowel as die wyse waarop die parateks in gesprek tree met die belangrikste deurlopende motiewe in die bundel. Die konsep van die dubbele bewussyn kan gesien word teen die agtergrond van die die feit dat transnasionalisme geskakeerde en nie-konstante formasies tot gevolg het − “taking the form of multiple, complex, messy proximities and interconnections” (Vertovec, 2009:2). Hierdie konsep veroorloof ook dat ’n gedifferensieerde siening van ‘behoort’ en verlange tot behoort tot stand kom (Dayal, 1996:47).

Reeds in die titel van die bundel word die dubbelgerigtheid ’n sentrale gegewe. Die konsepte van binne- en buite-wees word in binêre opposisie gestel; terselfdertyd vat die digter ook die komplekse aard van dubbelgerigtheid vas in die binne-die-buite-wees as ’n dubbele gesitueerdheid. Die digter is nie net teenwoordig ín albei ruimtes nie, maar bevind hom ook búite albei ruimtes, waardeur daar ’n konstante proses van verskuiwing vanaf binne (die sentrum) na buite (die periferie) en terug, plaasvind en waardeur die digter homself verplaas na ’n konteks van immer verskuiwende marginaliteit – hy word die Ander. Vanuit hierdie nuwe posisie vind daar ’n voortdurende terugkyk plaas – ’n terugkerende blik wat reeds in die Carver-motto aangekondig word. Die verskuiwing van een ruimte na ’n ander bring aspekte van liminaliteit na vore, wat ’n belangrike deel van die bespreking vorm.

In die ondersoek na aspekte van binne- en buite-wees word die dubbelsinnigheid wat inherent aan taal is, deel van die verwysingsraamwerk. Hiermee word Derrida (1997:158) se seminale stelling oor die buite-teks, vertaal as “there is no outside text”, wat die onstabiliteit van taal en die rol wat die ‘buitegegewe’ of die realiteit as deel van die teks en van betekenis speel, betrek. Alles wat in ag geneem word, word geïnterpreteer in verhouding tot alles anders. Die onstabiliteit van die binne/buite-tekstuele kan gesien word as deel van die gesprekvoering rondom die betekenis van teks en parateks.

Marais tree op vernuftige wyse in gesprek met die veranderende werklikheid en ideologiese verwantskappe tussen identiteit, ruimte, plek en teks. Die ruimte word ’n metafoor vir hibriditeit, die plek waar herinneringe aan die vaderland en die konkrete werklikheid van ’n Europese hede naas mekaar gestel word. Sentraal tot die bundel staan die verhouding met die geliefde en die prosesse van aftakeling en verlies wat gelees kan word as ’n metafoor vir die diaspora-digter se persoonlike ervaring van verlies aan kulterele identiteit, moedertaal en vaderland.

2. Paratekstualiteit in in die buitenste ruimte

Die voorblad en titel van die digbundel tree op as parateks, Gérard Genette se term wat verwys na die drumpel van die teks en die ongedefinieerde sone tussen die binnekant en die buitekant van die teks. Van Gorp (1991:294) definieer parateks as alle tekstuele gegewens wat die teks aan die leser aanbied wat as rigtingwysers dien by die ontleding daarvan. Sowel die visuele gegewe as die titel en motto speel ’n rol by die totstandkoming van betekenis ‘buite’ en op die rand van die gedrukte teks en beheer die lees van die teks. Die leser word by die buite-gegewe betrek deurdat ’n bepaalde persepsie gevorm word, waardeur hy of sy van meet af aan kreatief betrokke raak. Genette (1997:1-2) beskryf parateks soos volg:

More than a boundary or a sealed border, the paratext is, rather, a threshold, or – a word Borges used apropos of a preface – a “vestibule” that offers the world at large the possibility of either stepping inside or turning back. It is an “undefined zone” between the inside and the outside, […] a zone between text and off-text, a zone not only of transition but also of transaction.

Genette (1997:12) onderskei tussen tekstuele, ikoniese, materiële en feitelike paratekste wat lig werp op die verskillende funksies wat die parateks vervul. Drucker (2008:125) sluit hierby aan deur te wys op die verskillende rolle wat die parateks by die oriëntasie en navigasie van die leser speel. Sy voer aan dat vasgelegde leesgewoontes grootliks daarvoor verantwoordelik is dat paratekstuele elemente onsigbaar raak hoewel dit ’n groot rol speel by die wyse waarop die teks gelees, verstaan en betekenis gegenereer word. In haar artikel “Avontuur: ’n Praktykgebaseerde verkenning van intermedialiteit en materialiteit in ’n boekprojek” tref Greyling (2009:105) ’n verdere onderskeid tussen die epiteks wat buite die boek staan en die periteks wat binne die boek self staan. Die periteks word gesien as die materiële konstruksie van omslag, titelblad, die keuse van formaat, paper en lettertipe wat grootliks ’n sintuiglike ervaring is van hoe die boek lyk en voel. Genette (1997:2) wys daarop dat die onderskeie aspekte van die parateks in die meeste gevalle deur die skrywer gelegitimeer word, soos in hierdie geval ook waar is, waar die strokiesprent-illustrasie op die buiteblad deur Karlien de Villiers, vrou van die Marais, geskep is en as beeldteks optree.

2.1 Die buiteblad

’n Naïewe, kinderlike en vrolike element word geaktiveer deur die strokies-prentkarakter van die buiteblad – herhaal in die talle verwysings na kinders en die digter se eie jeug. Jeugdigheid en onskuld word direkte teenstelling vir die erns, hartseer en harde werklikheid van die daaglikse bestaan. Die herinnering aan die kinderjare word in ’n onderhoud met Ronel Nel (Marais, 2006:8) só deur Marais verwoord: “’n Mens se kinderjare is jou kosbaarste herinneringe aan onskuld en ’n baie intense ervaring van die wêreld – dit is ’n onthoude, deels verbeelde kosmos waar die wortels van kreatiwiteit lê en dit is onlosmaaklik deel van jou moedertaal”. Verder sê hy in hierdie onderhoud dat die “Dr. Seuss-met-die-winterblues-illustrasie” die “regte atmosfeer” vir die bundel skep (2006:8).

Wanneer die buiteblad as parateks geanaliseer word, word die reismotief “buite” die bundel in die vorm van ’n strokiesprent-illustrasie aangekondig: buite-wees en op reis wees na die buitenste ruimte – met die maan en sterrehemel as moontlike bestemming. Die beeldteks word as simboliese representasie ingespan om vollediger sin te maak uit die woordteks wat volg – die ervaring van buite-wees word aan die leser-kyker bekendgestel en die strokiesprent bied die gegewe aan as ’n primêre storielyn, soos by ’n kinderverhaal. Die reis is as’t ware ’n ontdekking van ’n nuwe wêreld, maar ook ’n voortdurende terugkyk en herinnering aan die ou wêreld. Daar word op meer as een wyse gekyk: van buite na binne, maar ook van binne na buite. Laasgenoemde geskied nie net deur vensters wat op die buitenste ruimte gerig is nie, maar ook deur middel van die moderne tegnologie, waar die satellietskottel toegang verleen tot die massamedia en globale kommunisienetwerke. Die ruimte daarbuite is globaal, onafgebaken, sonder persoonlike of nasionale identiteit. Die van-buite-af-binnetoe-kyk staan self ook in die skadu van globalisering en identiteitloosheid: al die wonings lyk dieselfde, al die vensters lyk dieselfde en by implikasie lyk/is al die mense ook eenders, sonder identiteit, deel van die naamlose massa van regoor die wêreld. Daar is lig in net een van die vensters van die voorste drie geboue of huise, aan die rand van die bladsy, aan die rand van die voorstelling, wat alreeds ’n moontlike vooruitwysing kan wees van die spreker-digter se buitestaanderskap. Die maan skyn op die agterblad, die kant wat aanvanklik verborge is vir die oog van die leser-kyker. By implikasie is die maan ver, deel van die buitenste ruimte en sluit aan by die tema van afstandelikheid, uitsluiting en onbereikbaarheid.

Onderliggend aan die kinderlike gegewe is ’n vreemdheid of vervreemding, ’n dreigende atmosfeer wat geskep word deur gedempte tersiêre kleurgebruik. Hiermee word ’n tweede laag betekenis onder die naïewe oppervlaktebeeld opgeroep – die gewaarwording van reeds in die buitenste ruimte wees. Die beeldteks roep ’n vreemde, kil winterlandskap op waarin enkele vlammende, vallende blare al aanduiding van ’n verbygegane somer en warmte is. Hierdie visuele aanbod van die winterseisoen vind weerklank in die omvattende inhoudelike opstapeling van seisoenale merkers waar winter/somer, warmte/koue en dag/nag teenoormekaar gestel word. Voorts gee die illustrasie, wat gestroop en sonder menslike lewe is, die gevoel van verlatenheid wat die eensaamheid en sosiale afgeslotenheid van die individu onderstreep. Die geboue kom visueel onvriendelik en onhuislik voor – allermins ’n beeld van tuiswees en geborgenheid.

Die buiteblad bied aan die leser ’n melankoliese uitsig op ’n troostelose landskap wat verband hou met die verliesmotief en onderliggende depressiewe toonaard van talle van die gedigte. Die gelyktydig kinderlike en dreigende aard van die buiteblad sluit aan by die idee van ’n dubbele bewussyn wat geaktiveer word.

2.2 Die motto’s

In terme van die onderskeid tussen periteks en epiteks kan die motto’s as epitekste gesien word. Die eerste motto, ’n aanhaling uit Raymond Carver se teks Locking Yourself Out, Then Trying to Get Back In lui soos volg:

You simply go out and shut the door
without thinking. And when you look back
at what you’ve done
it’s too late. If this sounds
like the story of a life, okay.

In hierdie aanhaling word die dubbelgerigtheid en dubbele bewussyn wat reeds deur die bundeltitel en buiteblad gesuggereer is, verder gevoer: die prosesse van uitgaan en terugkeer staan sentraal, met die onomkeerbaarheid van die situasie. Daar is ’n element van vergeefsheid: dit is te laat om enigiets daaraan te doen. Die bondigheid, intensiteit en minimalisme waarvoor Carver se oeuvre bekend was, word deur hierdie aanhaling geaktiveer. In ’n onderhoud op Versindaba erken Marais self dat sy poësie beïnvloed is deur die werk van Raymond Carver en Czeslaw Milozs (Marais, 2007).

Carver skryf in ’n styl wat as “Dirty Realism” (Dobozy, 2001:43-50) gedefinieer word en word saam met Charles Bukowski as die vader van die Vuil Realisme bestempel (Santana, 2006:71). Hierdie literêre beweging (rofweg vanaf 1970 tot 1980), wat meestal kortverhale maar ook poësie insluit, vind sy oorsprong in Noord-Amerika en is afkomstig van die minimalisme. Die narratief word gekenmerk deur ’n ekonomie van woorde wat op oppervlaktebeskrywing en nietige, futiele handelinge van die alledaagse lewe fokus. Dikwels word onderwerpe soos die ongehude moeder, die motordief, die grypdief, die dwelmafhanklike en die verwerpte huweliksmaat aangespreek – die uitgeworpenes van die samelewing. Belangriker nog is dat dit ook die die depressiewe middelklaswerker binne ’n uitsiglose omgewing insluit (Santana, 2006:70). Daar word met ontstellende afstandelikheid geskryf terwyl die onderbeklemtoonde, ironiese en soms wrede stem duidelik hoorbaar is. Dit kan humoristies voorkom maar word altyd met groot empatie gedoen (Santana, 2006:70).

Dieselfde gestroopte, onopgesmukte skryfvorm en oppervlaktebeskrywings vind weerklank in Marais se poësie: die uitsigloosheid van die omgewing en die dikwels ironiese beskrywing van die spreker-digter se depressiewe omstandighede en die gebroke huwelik. Die spreker-digter ervaar homself as uitgeworpene, in sy liefde verlaat, aan die rand van die samelewing – en hierdie emosies word in gestroopte praatpoësie aangebied.

In die tweede motto, ’n aanhaling uit die gedig “Ein Wintermärchen” [’n Winterverhaal] van Heinrich Heine, word temas aangeraak wat deurlopend in die bundel hul opwagting maak. In hierdie gedig van Heine gaan dit om ’n politiese, vaderlandse inhoud, met ’n soms snydende ironiese en satiriese kritiek op die toestande in sy vaderland. Heine was sy tyd ver vooruit in sy daarstelling van ’n wyer blik op Europese integrasie teenoor ’n eng Duitse identiteit en “Ein Wintermärchen” word gesien as die beste gedig wat nog deur ’n emigrant geskryf is.

In die gegewe motto-aanhaling word melding gemaak van ’n groot oordeelsfout wat begaan is, by implikasie die verlaat van die vaderland, en dan die heimwee en nostalgie wat uitgedruk word met die versugting dat die vaderland saamgeneem kan word aan die sole van die voete. Die digter, Heine, sien homself as iemand met ’n liefde vir sy vaderland, maar terselfdertyd ook as slegs ’n besoeker en ’n gas in sy eie land. Heine is veral gesien as die meester van ’n natuurlike liriese styl en talle van sy gedigte is deur Franz Schubert getoonset, wat aansluiting vind by die tema van verlore liefde. Daar is egter ook die implisiete verwysing na die siklus verse, “Winterreise” van Wilhelm Müller, tydgenoot van Heine, wat handel oor verlore liefde en die tragiese toestand van die menslike natuur. Heine se keuse van sy gedigtitel verwys implisiet na die toestand van bannelingskap van die menslike hart – die ontheemding van die skrywer van sy vaderland (waar sy hart is) en sy Heimatssehnsucht of vaderlandsverlange. Heine transformeer Müller se treursang oor die geliefde in ’n treursang oor sy verlore Duitsland (Pugh, 2004:667-679).

In die Marais-bundel word die proses van ontheemding en vaderlandsverlange parallel gestel aan die proses van vervreemding tussen hom en sy geliefde en die verlange na die geliefde. Net soos in die geval van Heine se gedig, word dit gedoen teen die agtergrond van die onvriendelike winterkoue van Duitsland – ook die natuur word in teenstellings uitgebeeld: die grimmige Europese (Duitse) winter teenoor die sonnigheid en warmte van Suid-Afrika. Hierdeur word nog ’n deurlopende motief in die Marais-bundel aangesny.

3. in die buitenste ruimte: die titel as sleutel

Die titel van Marais se bundel, in die buitenste ruimte, as deel van die parateks, vestig onmiddellik die leser se aandag op die ruimtelike aspek van die bundel: ’n bepaalde gesitueerdheid. Volgens Bachelard (1996:4-6) se ruimtelike opvatting is ruimtes nooit neutraal of betekenisloos nie, maar versmelt met die mens se verlede en herinnering, die plek waar die verlede gerekonstrueer word. Die essensie van die mens se bestaan word bevat binne bepaalde beskermende begrensinge. Hieruit volg dus dat as die mens hierdie begrensinge ophef hy homself in ’n vakuum bevind waar sy kern as mens in gedrang kom. Die toe-eiening van ruimte is een van die prosesse van assimilasie waardeur die mens metafories aan sy ruimte gekoppel word, waardeur sy herinneringe, belewenisse van geluk en drome, sy kultuur en waardesisteme as identiteitskepping optree. Identiteit is derhalwe onlosmaaklik verwant aan ruimte – as plek waar drome beskerm word, waar die integrasie van denke, herinneringe en drome plaasvind (Bachelard, 1996:6). Die verlies van hierdie ruimte veroorsaak emosies van angs, van vrees vir die onbekende en van vrees vir die Ander.

Die volgende kernmotiewe word in die titel aangekondig:

3.1 Binne-wees: in

Die in/binne-posisie sluit die volgende in: om fisies binne ’n huis of ’n gebou te wees; om binne die eie land, taal en kultuur te wees; om in die eie lyf te wees; en om in ’n verhouding wees. ’n Ruimtelike gesitueerdheid word veronderstel, wat geborgenheid, hoort, sosiale verbondenheid, warmte en kulturele eiening impliseer. Die in-posisie word dikwels gekoppel aan die Suide, Suid-Afrika, somer, son, warmte, die verlede, die kindertyd en jeugherinneringe. Een van die treffendste gedigte in terme van die binne-posisie is die gedig “Gebed in ’n Boeing” (24) waarin die spreker-digter vertel hoe hulle as kinders saam met hul oupa deur die Groot Karoo ry: “as ons sing en lawaai/soos die son sing en swaai” (31) – waardeur ’n geborgenheid van ruimte, (“in my oorlede oupa se ’74 bruin Audi”), tyd (“’74”) en geografiese plek (“Groot Karoo”) tot stand gebring word. Sosiale verbondenheid, samehorigheid en sorgeloosheid word in dieselfde gedig verwoord deur “soos op ’n kleuterpartytjie/klim en inbondel”. Die gedig word ’n nostalgiese rit terug die verlede in terwyl die maan, as vergestalting van die buitenste ruimte, geen bedreiging inhou nie, maar juis die eg-Afrikaanse FAK-liedjie, Suikerbossie, waarin daar “saam onder deur die maan” geloop word, oproep. Hierdeur word ’n dubbele bewussyn van gelyktydige binne- en buite-wees geaktiveer. Die oorspronklike “loop” van die FAK-liedjie word vervang deur “oorloop /soos die Gariepdam donder/oor die rand/van die nag se wydste kant”. Onmiddellik is die dreiging terug: “donder” suggereer ’n val die oneindigheid in, ’n verlorenheid van waar daar geen terugkeer is nie; ’n finale uitsluiting. In dieselfde gedig word liggaamlike en geestelike gesitueerdheid deur die woorde “in ons ou ekkies” gesuggereer. Dikwels word die voorsetsel “in” as plaasvervanger gebruik vir die taalkundig korrekte voorsetsel, byvoorbeeld in die gedig “Middagslapie”: “in ’n reëndag”(68) (in plaas van op ’n reëndag) en “In die Oujaarsnag” (50). Die fokus word dus telkemale gevestig op die posisionering binne ’n tyd, ’n plek of ’n toestand.

Die nostalgiese verlange na insluiting by ’n verlore ruimte uit die verlede word sterk verwoord in “Van waar ek vannag balanseer” (38) wanneer die digter sê: “Ek wil my Boeretroos drink/en my trane slyp”, en in “So hou die mens homself aan” (70) “stuur” die digter “liefdegroete” aan sy geliefdes “in die Vallei van Verlatenheid”, waardeur die dubbele bewussyn nogeens geaktiveer word. Ook in die die gedig “Ouma is dood?” (82) word ’n blik gegee op ’n sorgelose, geborge kindertyd, omring deur familie, vreugde en vrolikheid, terwyl die Suid-Afrikaanse landskap dikwels aan bod kom in die alledaagse en die triviale waardeur kulturele en sosiale identiteit geskep word, byvoorbeeld: “Cobra-krane”, braaivleisvure”, “vibacrete-mure” en “gholfbalposbusse” (83).

Verwantskap aan ’n taal is nog een van die aspekte van insluiting wat verwoord word. In “Gebed in ’n Boeing” (24) “bid” die digter “per ongeluk […] in Afrikaans” en in die gedig “In Duitsland waar die wolke in gelid marsjeer” sê die spreker-digter: “Afrikaans word jou huisgod, jou altaar”. Die kompleksiteite en permutasies van diaspora vind dikwels neerslag in godsdienstige en rituele praktyke, of selfs die gebrek of vervanging daarvan – soos blyk uit begenoemde aanhaling, waar die taal as’t ware die plaasvervanger van godsdiens word. Vertovec (2009:142) maak in dié verband melding van die wyse waarop hierdie permutasies die aanpassings wat aan die religieuse praktyke aangebring word, kenmerk – “a religion of ’nowhere’ of transcendence”.

3.2 Buite-wees: die buitenste (ruimte)

Die buite-posisie veronderstel eerstens letterlik om buite die aarde se atmosfeer te wees. Hierdie posisie word veral gesuggereer deur die verwysings na die film Star Trek (15, 39, 93) en kosmiese verwysings soos “êrens aan die gatkant van die kosmos” (71), “wit draadstoele tussen die sterre” (70), “om my skuit weg te stoot, en/van die brandsiek-aarde/te vergeet” (52) en die verwysing na die bundeltitel “in die buitenste ruimte” in “In die bad” (30). Die spreker-digter voel homself tot so ’n mate uitgesluit dat hy net sowel in die buitenste ruimte kon wees. Op ’n simboliese vlak dui buite-wees op die posisie van uitgewekene wees, vreemdeling-wees, nie tuis in jou eie omgewing/land/vel/familiekring/ taal nie. Laastens dui buite-wees ook op buite ’n verhouding wees (buite die liefde staan). Die twee posisies word in binêre opposisie met mekaar gestel, ’n patroon wat sigself herhaal in die verwante en opvolgende motiewe, byvoorbeeld dag/nag; naby/ver; hier/daar; sien/nie sien nie; bly/voortgaan; lewe/dood; tuis/op reis; ek/jy; mooi/lelik; insluiting/uitsluiting; jeug/ouderdom; vervlietendheid/ewigheid; bo/onder; toe/nou; verlede/hede; gegrond/onvas; insluiting/uitsluiting; geborgenheid/blootstelling; noord/suid; eendersheid/andersheid; en alleen/saam. Natuurelemente word dikwels gebruik om die troosteloosheid van die buite-posisie uit te druk terwyl die herhaaldelike polarisering van seisoenale en tydsmerkers soos dag en nag, die dae van die week, sonskyn, reën en sneeu as metafoor optree vir die polarisasie tussen Europa en Afrika en binding aan die bundel gee. Die seisoenale merkers vind intertekstueel weerklank in die gedig van Heine waarin die natuurelemente en merkers ook belangrike rolle as metafore speel (Schmidt, 1981:175-176). Samehangend hiermee word kleur- en atmosferiese merkers soos grys en grou en donker ook dikwels gebruik.

’n Verdere aspek van buite-wees neem die vorm aan van uitsluiting van die moedertaal, wat in “Die vlamdans van herinnering” (97) as volg verwoord word: “Dis hier waar die vreemdeling/gelyk word aan die onthoude uitspansel /van moeder, taal en verlies”. Ook in “Bundesstraße 51” (75) word verlies aan taal verwoord: “die taal waarin ek gebore is het verdwyn soos ’n tuisland/moes toemaak soos ’n haarsalon vir honed/aan die verkeerde kant van die spoor”.

Ballingskap en die ontheemdingsbelewenis word dikwels verwoord in terme van die nagmerrie-agtige, soos in die gedig “Droom” (80), waarin die digter homself as gevangene “agter maanligtralies” sien. In “Middagslapie” (68) maak die spreker-digter melding van die buite-liggaamlike waarneming van “uit” die lyf probeer kom, en in “In my ma’le se tuin” (22) word die tuin, wat normaalweg as nostalgiese paradysgegewe aangebied word soos in die gedig “Lea Andrews” (61), getransformeer tot ’n plek van “nagmerries en hoë heinings”. Die heinings dien ’n dubbele doel: dit is die liminale grens wat beide insluiting en uitsluiting veronderstel en derhalwe ’n dubbele bewussyn verteenwoordig. Die tuin as ruimte word ontgin as metafoor vir hibriditeit: herinneringe aan die vaderland versny met die donker kant van die hede wat opgeroep word deur woorde soos “bang”, “nagmerries”, “rou” en “dooie wind” (22).

Verlies neem in die Marais-bundel velerlei vorme aan. Eerstens is daar die verlies van die geliefde en aan liefde. Die persoonlike verlies word die metafoor vir die globale – die persoonlike verhouding teenoor die globale ontheemdingsproses. Skuldlas en groepsdruk word deel van hierdie ervaring. In “As ek deur geslote ooglede onthou” (93) vergelyk die digter die geliefde met die Starship Enterprise wat “outonoom / deur tyd en ruimte suis”. Sy word deel van die “buitenste ruimte”, afstandelik en onafhanklik van hom. Nog ’n terrein van verlies is dié van verlies aan kommunikasie en die voorkoms van kommunikasiesteurnisse, byvoorbeeld “die telefoon lui nooit nou nie” (88). Daar is ook ’n verlies aan luister en dus ’n verlies aan uitreik om te kommunikeer en om boodskappe te ontvang (9); ’n verlies aan lees en sien (9).

Uitsluiting word verwoord as ’n stadige dood, ’n doodswens en selfs regressie na ’n verlore kinder- of babatyd. Die rouproses word die wyse waarop die digter ’n konneksie met die vaderland probeer behou. In “Aan ’n seegroen kombuistafeltjie êrens” (71) sê die spreker-digter: “Jy loop lê nie soos ek in die bed/om aan jou kinderdae te suig/soos ’n baba aan ’n duim nie.” En verderaan: “Ek sê/om bietjie vir bietjie dood te gaan/is natuurlik […]”. In “Tussen ver en nietig” (88) verklaar die digter: “Verlange hang my aan my enkels by die venster uit”. Aangrypend en tekenend van die rouproses is ook die omgekeerde waar in die gedig “Die vlamdans van herinnering” (97) waarin dit die digter is wat deur sy verlede vergeet word:

Hier is die woord “ma”
’n wolkekrabber
in ligte laaie;
die woord “pa” ’n brandstapel
vir name en plekke
wat dreig om my te vergeet

Die rouproses sluit aan by die verlies van die geliefde. Soto-Crespo (2002:345) is van mening dat die verlies van die geliefde uiteindelik ’n allegoriese verhouding word wat ’n reeks konneksies bewerkstellig. Die vervlegtheid van die verlore liefde en die verlore vaderland word ’n deurlopende refrein in die bundel en dui ook op die digter se uitgeslotenheid van die liefde. Uitgeslotenheid hang saam met emosies van verlies, die ontheemdingsbelewenis, selftwyfel, depressie, skeiding (18), hartseer (16), vrees en eensaamheid. Daar vind ’n verlies aan vastigheid plaas (29), ontevredenheid en onvergenoegdheid (11), onsekerheid (19), bekommernis (19) en vervreemding van die alledaagse (19). Soms word die omgekeerde gevind: byvoorbeeld in “Dis buite die danssaal” (36) waar ‘buite’ juis warmte veronderstel, wat nogeens aanduidend van die dubbele bewussyn is.

In die gedig “Up so close” is ’n verlies aan sig ter sprake, en in die gedig “Tussen ver en nietig” vind ’n afstandelike kyk plaas: “Van die woontstel oorkant die straat sien/’n vrou met ’n koppie koffie by die venster/’n man voor ’n computer sit” (89). Verlies van plek staan egter sentraal tot al die ander vorme van verlies. Die term “unhoused” en “extraterritorial” verwys nie net na hierdie hawelose toestand nie, maar dikwels ook na die sogenaamde verlore generasie (Kaplan, 1996:30), die polarisering tussen “placement” en “displacement” en die wyse waarop ontheemding en afstandelikheid soms ’n selfgekose posisies is wat die individu inneem, nie afgedwing deur mag nie, maar gekies deur eie begeerte. Die verlies van plek word dan ’n selfgekose vervreemding, die vreemd-word teenoor ander, maar ook vreemd-word teenoor jouself. In Seeman se Vervreemdingsteorie (1959:784-787) identifiseer hy vyf eienskappe: magteloosheid, betekenisloosheid, normloosheid, sosiale isolasie en selfvervreemding, eienskappe wat by herhaling aangetref word in Marais se bundel.

Magteloosheid en die onvermoë om tot optrede oor te gaan word onder andere uitgedruk in “Sondag laat – Barcelona: “ek sit en kyk/na jou/sit net/en kyk na jou” (17) en “soos jy/kan ek nie anders nie” (74). Betekenisloosheid van die digter se bestaan en sy lewe word in “In die donkerkamer” (49) verwoord, waarin die oppervlakkigheid van sy bestaan en sy onvermoë om betekenis in sy omstandighede te sien, soos volg uitgedruk word, met die ondertoon van gelate aanvaarding van die situasie. Die proses van selfvervreemding word bevestig wanneer die spreker-digter sê: “Al wat van jou oorbly/is die buitelyne van ’n leemte” (40). Die self bestaan in verhouding tot die omgewing, en self-vervreemding hou dus verband met die proses waardeur die individu van sy eie belange en sy eie liggaam vervreemd raak. Verlies aan ruimte en dus aan plek en identiteit-plek is die mees diepgaande verlies van almal.

Uitsluiting en buite-wees en die gepaardgaande gevoel van verlies veronderstel buitestanderskap en die Ander: deur die verskuiwing vanaf die sentrum na die periferie (van binne na buite), verplaas die digter homself na gemarginaliseerde konteks en word hy letterlik die Ander, en sy ruimte waarheen hy terughunker, die Ander se land, soos alreeds in die openingsgedig (9) uitgedruk: “selfs al woon jy ver/in ’n ander land”. Die lewe self word die Ander: “tweedehands en plaasvervangend” (49) en “alles anders/[is] verby” (39). Vanuit hierdie nuwe posisie vind daar ’n voortdurende terugkyk plaas – ’n terugkerende blik wat reeds in die Carver-aanhaling in die motto aangekondig word. In aansluiting hierby maak Vertovec (2009:63) melding van “back there” wat as ’n verwysingspunt vir waardes en optrede en selfs as ’n strategie van perspektief dien. Hieruit voorspruitend is ’n emosionele transnasionalisme wat ’n stryd tussen eie verwagtinge en verwagtinge van die ouer of jonger generasies tot gevolg het (2009:63).

Daar word ook van buite af teruggekeer, aarde toe, vaderland toe. Dit word verwoord deur verwysings na “weer grond toe” in die gedig “Groot” (23) en “gil en stort” (26), “val en tuimel val en tuimel” (31) en “ek laat los” (58) – wat aanduidend is van die feit dat ’n terugkoms nie noodwendig ’n herstel teweegbring nie, maar eie angste en hartseer inhou. ’n Transformasie is bewerkstellig met die verskuiwing van die binne-posisie na die buite-posisie. Die spreker-digter is nie meer dieselfde nie. Identiteitsverlies sowel as identiteitsverruiming is ondergaan.

3.3 Die ruimte-motief

n Marais se bloemlesing As almal ver is: Suid-Afrikaners skryf huis toe skryf hy in sy essay oor die gebondenheid van identiteit aan herkoms. Hy voer aan dat “die plek waar ek vandaan kom, die plek waar ek hoort en van weggevlug het en na terugverlang het, nie ’n plek op ’n kaart was nie. Dit was nie ’n plek wat jy kon afneem of besoek nie, maar ’n onthoude plek, ’n verbeelde plek ten diepste verstrengel met taal en rou emosie” (Marais, 2009:250). Ashcroft (2001:125) tref ’n duidelike onderskeid tussen die konsepte van plek as plek van hoort en andersyds plek as ruimte of ligging. Plek van hoort verwys hoofsaaklik na die wyse waarop die individu vorm gee aan sy plek-as-tuiste in die wêreld. Dit is hierdie plek wat uiteindelik vormgewend en onlosmaaklik deel is van die individu se identiteit en wat alle ander ruimtelike ervarings bepaal en definieer: ’n identiteit-plek. In Marais se bundel is dit hierdie ruimte as identiteit-plek wat binne-wees en buite-wees definieer, maar wat terselfdertyd ook die tussenlandskap of tussenruimte definieer en afwesigheid omlyn en die spreker-digter aan die rand van albei ruimtes, in ’n dubbele bewussyn plaas.

Oor die verwantskap tussen ruimte en identiteit het Larsen (1997:291) die volgende te sê: “It does not just define part of one’s life; one’s entire life, including everything it contains, belongs to landscape.” Waardes word aan ruimte toegeken deur middel van komplekse prosesse van menslike assimilasie en transformasie waarin kultuur, verbeelding, waarneming en herinnering ’n rol speel.

Ruimte is ’n persoonlik-gelaaide en emosionele begrip wat in verhouding staan tot kulturele, sosiale en selfidentiteit, maar word toenemend onder druk geplaas of ondergaan verskuiwing en herevaluasie as gevolg van die diaspora oor land- en taalgrense heen. Deur geografiese ‘displacement’/vervreemding/ontheemding/ verplasing/ontworteling vind daar ook ’n wisselende verlies aan kulturele, sosiale en selfidentiteit plaas. Sodoende verkry ou en nuwe ruimtes ’n positiewe of negatiewe waarde-oordeel as gevolg van subjektiewe belewing van die landskap. Daar kom ook liminale tussenwêrelde tot stand waardeur ’n dubbele bewussyn geaktiveer word.

Soos in die inleiding aangevoer, word die komplekse aard van die binne- en buite-wees uitgedruk in die dubbelgerigtheid of dubbele gesitueerdheid waar die digter homself nie net binne albei ruimtes bevind nie, maar ook buite albei, waardeur ’n dubbele uitgeslotenheid bewerkstellig word. ’n Voorbeeld van binne-albei-ruimtes-wees, kan gesien word in die gedig “In die bad” (31): “in ’n bad / in ’n woonstel / in die buitenste ruimte”. Hierdie hibriditeit word onder andere uitgedruk in aspekte van naby- en verwees, maar verkry ’n soos verwoord in die gedig “Up so close” (10), waarin nabyheid juis tot afstand aanleiding gee, en albei gelyktydig bestaan. Die digter haal ’n liedjie van Cake uit die album “Motorcade of Generosity” (1994) in die gedig “Up so close” aan:

Ek sê dis soos daai lekker song van Cake:
Up so close
I never get to see your face
Microscope
I might as wel [sic] be out in space

Om binne te wees beteken nie noodwendig om die emosionele en sosiale kontak te maak, wat noodsaaklik is vir identiteitvorming nie. Afstand word gerelativeer binne die ruimtelike konteks. In die gedig “Vierde verdieping, in die hoek” (13) lui die slotreëls: “eendag gaan ek huis toe/twyfel of ek dit vandag tot in die badkamer gaan maak”. Ook in “So hou die mens homself aan” (70) waar die digter “deur ander tralies/terugverlang”, is ’n dubbelgerigtheid ter sprake, wat aansluiting vind by die bundeltitel as dubbele bewussyn: die gelyktydige buite-wees en binne-wees, maar ook van nêrens wees nie. Dayal (1996:47) beskryf dit as volg: “Doubleness as I am conceptualizing it is less a ‘both/and’ and more a ’neither just this/nor just that’. My attempt here is to conceive doubleness negatively, to explode the positive and equilibristic constructions of diaspora around the desire for belonging ideally to two or more places or cultures.” ’n Gedifferensieerde betekenis van “hoort” kom tot stand, grenssones tussen kulture verbrokkel en “die vreemdheid van die bekende” word raakgesien, of soos Dayal (1996:49)dit stel, “ourselves-as-others, others-as-ourselves”. Ook in die gedig “Middagslapie” word hierdie dubbele gesitueerdheid deur die digter verwoord, waarin hy homself gelyktydig binne en buite sy eie liggaam bevind, wat simbolies is van sy dubbele gesitueerdheid tegelyk binne en buite twee ruimtes.

Hoewel sosiale isolasie in ’n enkele ruimte dikwels verwoord word, verbreek die digter hierdie patroon in “In Duitsland waar die wolke in gelid marsjeer” (43) verbreek wanneer hy sê: “Duitsland is seker maar soos orals –/die soort van plek waar jy bang is/dat Die Mense gaan uitvind van jou,/gaan weet van jou”. Die Ander ruimte as buite-ruimte word nou dieselfde as die eerste, geliefde binne-ruimte; assimilasie tussen binne en buite vind plaas, polarisasie en binêre opposisies word opgehef en ’n buite-albei-ruimtes-wees kom tot stand met die spreker-digter as buitestander aan die rand van alle ruimtes. In hierdie bundel word die buite-ruimte dikwels geskep of verwoord in terme van ’n stedelike identiteit. En stedelike ruimte hang saam met stedelike kennis, gedefinieer as die vermoë om te improviseer, te oorleef en bowenal om suksesvol in die stadsruimte te wees (McLaughlin:156). Die stad as ruimte word gesien as a goed georganiseerde netwerk van koördinate, ’n beweeglike funksionerende sisteem, ’n “place as space to which a shared meaning has been attributed” (Vlasselaers:103), wat op ’n sosiale en gedeelde identiteit dui. Terselfdertyd kan die stadsruimte egter ook ’n plek van uit plek wees, van uitsluiting, ontmensliking en konstante verandering. ’n Woonstelgebou in ’n stad in Oos-Berlyn word deur die digter beskryf as “’n hol blok beton” (10); in “Verleë” ry die digter per bus skool toe deur “die ’nasskalte’ suburbs/van Bremen/nog steeds ’n toeris en toeskouer” (53); en in “Bundesstraße 51” sien hy “’n desperate rokie bo ’n wit dakkie/gevang in die ysig lae lug” (75).

In die gedig “Sondag laat – Barcelona” word die stad Barcelona beskryf as “vol van ver en weg […] dat alles na ’n ander lewe moet proe” (16) – ’n bevestiging van die gevoel‘van verlies en uitsluiting. Die digter bevind hom by geleentheid in ’n “skemertrein na Bremen” (29), wat behalwe die verlatenheid wat die woord ‘skemer’ oproep, ook op konstante beweging en verandering dui. In “Jy moet jou eie graf grawe” (46) bevind die digter hom “in koue reën” voor die nuwe “Wal-Mart in Bremen” in “die ewige grys / van die parkeerterrein / onder nimmereindigende kragdrade”. Binne die stedelike ruimte “hou alles aan met aanhou” – weer eens ’n verwysing na die immer bewegende, veranderlike en liminale aard van die stadsruimte as metafoor vir die spreker-digter se liminale toestand.

4. Tussenlandskap en liminaliteit: plek van onthou en plek van vergeet

Dayal se standpunt oor ’n dubbele bewussyn maak voorsiening vir die persepsie van diaspora as liminaal en onvoltooid (Dayal, 1996:51). Aguirre et al. (2006:6) beskryf limen as die drempel tussen twee ruimtes, “a threshold separating but also relating A and B, […] a crossover, a transgression or an entry into the Other”. Liminaliteit dui voorts op onvolledigheid en onvoltooidheid (Dayal, 1996:51), ’n proses en ’n toestand van wag, ’n eindelose en deurlopende transformasie van die self (Dayal, 1996:54). Die prosesse van identiteitvorming, hetsy individueel of kollektief, sluit noodgedwonge ook komplekse aspekte van grense en grensvorming, transformasie en grensoorskryding in.

Die digter se liminale toestand word tot stand gebring deur sy ervaringe as reisiger. As reisiger verplaas hy homself van een ruimte na ’n ander en ’n proses van transformasie vind plaas. Die bekende en veilige word gedekonstrueer tot die Ander; voltooidheid word gefrakteer. Die terugkyk deur middel van herinnering bring vervreemding mee omdat ook die bekende anders lyk ná die blootstelling aan die ervaring van reis. Hierdeur word ook herinnering ’n hibriede gegewe; verbeel en onthou is dikwels onlosmaaklik vervleg. Liminaliteit as ruimtelike tussenlandskap van gevangeneskap word verwoord in “Bundesstraße 51” (75) waar die digter “vasgevang in herinnering/in limbo/[…]/gevang” is.

Die liminale posisie wat die digter inneem is ook die grensposisie tussen herinner en vergeet. In “So hou die mens homself aan” (70) praat die digter van “’n vroeër, vreemder lewe” waardeur sy vervreemding van die bekende lewe in sy vaderland uitgedruk word en in “Jy moet jou eie graf grawe” (47) praat die spreker-digter van “baie pekke” waar “alles lankal verby” is. Ook in “Die vlamdans van herinnering” (97) word melding gemaak van “vergeetsug”. Die ruimtes van sy jeug en van sy herinnering verander of gaan tot niet. Herinnering en vergeet is uiteindelik onlosmaaklik deel van mekaar. Die prosesse van onthou is juis die onderliggende prosesse wat die vergetelheid bring. Die konsep van herinnering word nêrens meer akuut verwoord nie as in “Die vlamdans van herinnering” (97), wanneer “onthoude” gelees word as beide herinnering en weerhouding: “Dis hier waar die vreemdeling/gelyk word aan die onthoude uitspansel/van moeder, taal en verlies”.

Die reismotief, wat soos ’n goue draad deur die bundel loop, kan eweneens as liminale toestand beskou word. Dit veronderstel ’n beweging van een ruimte na ’n ander deur ’n transformerende grensruimte , transformasie teweeggebring deur die reisproses. Daar word gereis na die buitenste ruimte (soos die titel suggereer), van kontinent tot kontinent, en op mikroskaal word reise per bus, trein, trem en motor onderneem. In “Verleë” (53) bevind die digter homself in ’n bus, uitgedruk as ’n negatiewe ervaring: “Ry-ry-ry in ’n slegte bui”. Hy bevind hom ook alternatiewelik in ’n trem (14), in sy oupa se kar (24) en in ’n “metaalblou BMW” (65) waarin hy “wegdryf” na “’n plek sonder woorde,/’n plek sonder sein”. Die gebruik van die woord “wegdryf” impliseer ’n gevoel van onvastigheid en buiteruimelikheid waardeur lug of water geïmpliseer word as teenoorgestelde vir vaste grond en aarde. Dan is daar ook die verwysing na “papiervliegtuie” in “Ouma is dood?”(82) wat nie net op broosheid en verganklikheid dui nie, maar ook op die kinderlike, ’n verbeeldingstog van die reisiger. In hierdie gedig word die papiervliegtuig metafories die woord of taal waarmee op reis gegaan word: “’n gedig/soos ’n papiervliegtuig wat nooit val nie.”

Taal word uiteindelik die instrument waarmee die herinnering herroep en herverbeel word, waarmee dit wat nie op oomblik sigbaar of waarneembaar is nie, tot stand gebring word. Taal faal nie, hou steeds aan met “vlieg”, hoewel die digter dikwels vind dat hy wegdryf “na ’n plek sonder woorde,/’n plek sonder sein” (65). Volgens Adéle Nel (2006:190) veronderstel liminaliteit ’n drempel tussen die konkrete en abstrakte ruimte aan die een kant, en die innerlike of metafisiese ervaring wat in die skryfproses uitgedruk word. Taal word as’t ware aangewend as wyse om die liminale oor te steek en om die self binne die nuwe ruimte te plaas.

Die nou verband tussen reis en verbeelding word in Willie Burger (2009:186) se artikel oor taal as ingang tot die wêreld ondersoek waarin hy daarop wys dat die afwesige teenwoordig gemaak word deur taal. In “Bundesstraße 51” (77) sê die digter byvoorbeeld: “Om […] te ry is/om te onthou”. Ook in “Soms ontmoet jy iemand” (40) praat die digter van ’n oseaan “gedroom van woorde” – dus, ’n plek wat tot stand kom deur middel van woorde.

5. Slot

Die benutting van die paratekstuele gegewens in die bundel van Marais blyk effektief te wees deurdat dit as samebindende faktor optree en gestalte gee aan die gevoel van ontheemding, uitsluiting en verlies. Die verkenning van binne/buite-wees vind nie net in die tekstuele inhoud plaas nie, maar ook in die ‘lees’ van paratekstuele gegewens. Die teks en parateks word ’n verslag van enkele aspekte van diaspora as fenomeen, van die gebondenheid aan identiteit en herkoms, die prosesse van verlies en vervreemding, liminaliteit en die oorsteek van grense, asook die komplekse dubbele gesitueerdheid of dubbele bewussyn wat eie aan die diaspora is.

Susan Smith

Universiteit van Fort Hare

Verwysings
Ashcroft, B. 2001. Post-colonial transformation. Londen. Routledge.

Aguirre, M., Quance, R. & Sutton, P. 2000. Margins and Thresholds. An Enquiry into the Concepts of Liminality in Text Studies. Madrid: The Gateway Press.

Bachelard, G. 1969. The Poetics of Space. Boston: Beacon Press.

Burger, W. 2009. Taal as “ingang” tot die wêreld: reis, verbeelding, herinnering en identiteit na aanleiding van Breytenbach se A Veil of Footsteps. Tydskrif vir Letterkunde, 46(2): 184-200.

Callinicos, A. 2004. Obituary: The Infinite Search. Socialist Review, November. [Beskikbaar by:] http://www.socialistreview.org.uk/article.php?articlenumber=9101. [Toegang: 20 Mei 2010].

Chambers, I. 1990. Border Dialogues. Journeys in Postmodernity. Londen: Routledge.

Combrinch, A., Greyling, F. & Du Plessis, H. 2008. Uit die oogpunt van die buitestander: Die rol van identiteit en ruimte in die skep van ’n gemeenskapseie jeugnovelle. Tydskrif vir Letterkunde, 45(2): 32-47.

Dayal, S. 1996. Diaspora and Double Consciousness. The Journal of the Midwest Modern Language Association, 29(1):46-62, Lente. [Beskikbaar by:] http://www.jstor.org/stable/4023783. [Toegang: 4 Maart 2010].

Derrida, J. 1997. Of Grammatology. (Vertaal deur Spivak, G.C.) Baltimore en Londen: John Hopkins University Press.

Dobozy, T. 2000. Towards a definition of Dirty Realism. Doktorale proefskrif. Universiteit van Brits-Columbia. [Beskikbaar by:] https://circle.ubc.ca/handle/2429/11068. [Toegang: 20 Mei 2011].

Dobozy, T. 2001. In the Country of Contradiction the Hypocrite is King: Defining Dirty Realism in Charles Bukowski’s Factotum. MFS Modern Fiction Studies, 47(1): 43-68.

Drucker, J. 2008. Graphic Devices: Narration and Navigation. Narrative, 16(2): 121-139.

Du Plooy, H. 1993. Die huis as domein: ’n ganse lewe in ’n intieme ruimte. Stilet, XIV(2), September: 38-52.

Genette, G. 1997. Paratexts: Thresholds of Interpretation. (Vertaal deur Lewin, J.E.) Cambridge: Cambridge University Press.

Greyling, F. 2009. Avontuur: ’n Praktykgebaseerde verkenning van intermedialiteit en materialiteit in ’n boekprojek. Stilet, XXI(2), September: 91-113.

Hambidge, J.  2006. Marais se aangrypende, genoeglike debuut. Rapport, 22 Oktober: 5.

Hugo, D. Buitengewone debuut verwoord buitestanderskap. [Beskikbaar by:] http://www.cgi-bin/giga.cgi?cmd+cause_dir_news_item&cause_id+1270&news_id_3605. [Toegang: 18 Februarie 2010].

Kaplan, C. 1996. Questions of Travel. Postmodern Discourses of Displacement. [g.p.]. Duke University Press.

Larsen, E. L. 1997. Landscape, Identity and Literature. Journal of Literary Studies, 13(3/4): 284-302.

Marais, D. 2006. in die buitenste ruimte. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.

Marais, D. 2007. Danie Marais: die emosie van ontheemdin. [Beskikbaar by:] http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&news_id=2490&cause_id=1270. [Toegang: 17 September 2010].

Marais, D. 2009. As almal ver is: Suid-Afrikaners skryf huis toe. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.

McLauglin, F. 2001. Dakar Wolof and the Configuration of an Urban Identity. Journal of African Cultural Studies, 14(2), Desember: 153-172.

Meyer, S. 2006. Reise en identiteit: aspekte van plek en hoort in verhale van Elsa Joubert en Riana Scheepers. Literator, 27(2), Augustus: 61-82.

Nel, A. 2005. Tot verhaal kom: Dagboek teen ontheemding en verlies. Stilet, XVII(2), Junie: 87-102.

Nel, A. 2006. Die digter in transito: reisverhale en liminaliteit in Lykdigte en Ruggespraak van Joan Hambidge. Literator, 27(7), April: 189-210.

Nel, A. 2007. Spore van migrasie en verlies in Krzysztof Kieślowski se Three colours trilogy. Literator, 28(2), Augustus: 1-20.

Nel, R. 2006. Marais dig kinderlik eerlik. Beeld, 29 November: 8.

Odendaal, B. 2009. Narratiewe elemente in Danie Marais se debuutbundel in die buitenste ruimte (2006). Stilet, XXI(2): 114-133.

Peters, P. 1997. “Ergriffenheit” and “Kritik”: Or, Decolonizing Heine. Monatshefte, 89(3):285-306. [Beskikbaar by:] http://www.jstor.org/stable/30153659. [Toegang: 13 Oktober 2010].

Pugh, D. 2004. Heine’s Aristophanes Complex and the Ambivalence of “Deutschland: Ein Wintermärchen”. The Modern Language Review. 99(3), Julie: 665-680. [Beskikbaar by:] http://www.jstor.org/stable/3738994. [Toegang: 13 Augustus 2010].

Sammons, J.L. 1986. Heine as Weltbürger? A Skeptical Inquiry. MLN, 101(3), Duitse Uitgawe, April: 609-628. [Beskikbaar by:] http://www.jstor.org/stable/2905609. [Toegang: 13 Augustus 2010].

Santana, C. 2006. The Elephant in the Americas’ Room. Chasqui 35(3); Going Transatlantic: Toward an Ethics of Dialogue: 63-78. [Beskikbaar by:] http://www.jstor.org/stabl/29742149. [Toegang: 20 Mei 2011].

Sarker, S. 2002. Moving Target: The Study of Diaspora Opens up a Multitude of Paradoxes. Shifting Identities and Intellectual Challenges. The Women’s Review of Books, XIX(5), Februarie: 3. [Beskikbaar by:] http://www.jstor.org/stable/1315257. [Toegang: 4 Maart 2010].

Schmidt, H.J. 1981. Transformations: Heine’s Poetry in English. New German Critique, 23: 171-177. [Beskikbaar by:] http://www.jstor.org/stable/487946. [Toegang: 10 Oktober 2011].

Seeman, M. 1959. On the Meaning of Alienation. American Sociological Review, 24(6): 783-791.

Senekal, B.A. 2009. Vervreemding in Fanie Viljoen se BreinBliksem (2005). Stilet XXI(1), Maart: 101-118.

Soto-Crespo, R.E. & Kincaid, Ţ. 2002. Death and the Diaspora Writer: Hybridity and Mourning in the Work of Ţamaica Kincaid. Contemporary Literature, 43(2): 342-376. [Beskikbaar by:] http://www.jstor.org/stable/1209076. [Toegang: 4 Maart 2010].

Van Gorp, H. 1991. Lexicon van Literaire Termen. Gronigen: Wolters-Noordhoff.

Vertovec, S. 2009. Transnationalism. Londen: Routledge.

Vlasselaers, J. 2002. The modern city: A symbolic space of memory and a crucible for multiculturalism? Literator, 23(1), April: 97-106.

Wagener, P. 2008. Globalisering en ’n verdeelde gemeenskap in Suid-Afrika. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 48(4), Desember: 401-411.

Zeleza, P.T. 2005. The Politics and Poetics of Exile: Edward Said in Africa. Research in African Literatures, 36(3): 1-22. [Beskikbaar by:]. http://www.jstor.org/stable/3821361. [Toegang: 4 Maart 2010].

STILET — Jg. XXIII:2 — SEPTEMBER 2011

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s