Die taal van plek

Die stories van plek

Die stories wat plek(ke) het om te vertel en wat deur talle monde vertel en gevier moet word, is deel van die fisiese belewing van plek, die fisiese inleef in ‘n gegewe plek. Taal en beeld kan ‘n nuwe respek en herontdekking van plek tot gevolg hê – van hoe ons as deel van plek daarmee in interaksie tree.

Dit is om deel te word van die sensuele realiteit van dit wat ons omring en sensories en interaktief daaraan deel te hê. Plek bestaan uit ‘n oneindige hoeveelheid fisiese materialiteite – en ons kan dit slegs waarneem omdat ons self fisiese materialiteit is, tasbare, hoorbare resonante wesens wat self tekstuur en vorm en kleur het.

20140426_083823

Baviaanskloof (Foto: Susan Smith)

 

Orale literatuur en plek

Wanneer die woorde neergeskryf is, wanneer die oorvertelde plek in ‘n boek opgeneem is, word die woorde die primêre bron van onthou. Die oorspronklike verhaal word draagbaar, beweeglik, nie-plek gebonde. Die draagbaarheid van plek is beide ‘n geskenk en ‘n verlies. Want woorde maak dit vir ons moontlik om deel te word van verskeie plekke. Dit word woorde (en plek) wat op reis gaan. Maar dit hou ook ‘n sekere afstandelikheid in, ‘n emosionele verwydering, ‘n losmaking. Die neerskryf van plek is ‘n tweesnydende swaard, wat die intieme band tussen taal en plek oopvlek. Deur oorvertelde stories neer te skryf, het ons gedink dat ons dit bewaar, dat ons dit toeganklik maak. Wat ons vergeet het, is dat in die proses van woorde op papier plant, ons die stories ontwortel, dat ons die vitaliteit daarvan versteur.

Ek is eerder geïnteresseerd in die wisselwerking tussen woorde en plek, die onmiddellikheid en liggaamlikheid van plek, want as dit verwoord word, voel die leser aan die een kant “deel” van hierdie plek, maar aan die ander kant is dit bykans of plek onnodig raak, of woorde genoeg kan wees. Dit is wat ek bedoel met die “uitplant” van die plantjie, met die “verskuiwing” en selfs “mobiliteit” van plek. ‘n Mens sou kon debateer daaroor of die integriteit van plek-gebaseerde woorde, die talle stemme van plek, dalk afwater of verlore gaan in so ‘n verskuiwing. Want plek is soveel wyer, soveel meer as ons ervaring daarvan en selfs as ons skepping (kreatiewe skepping deur woorde, deur poësie) daarvan. Terselfdertyd is veelstemmigheid en ‘n veelstemmige beskrywing van plek juis nader aan die hart daarvan, want dit laat toe vir veelheid van emosies, sieninge en vertellinge.

©Susan Smith

Advertisements

EsiKhaleni

EsiKhaleni

(Hole-in-the-wall)

 

mooi sing Ntombi

in die dubbelvolmaanmaand

waar die seeman met die vinhande

die meisie tussen kleihuise

en oor prilgroen heuwels sien loop

 

Ntombi sing

waar die golfbreker boegvis ploegvis stamp

en stamp       tot die sandsteen maagdelik

breek           tot die skalie in gitblou skywe

uiteenkraak

 

Ntombi sing

waar die meisie tussen strandnguni’s

oor die sandsoom water toe hardloop

opkyk      die halfgod en sy stormvis

déúr die landmuur sien kom

 

sing Ntombi     sing uit die water

sing waar die wit hingste skuimbek

runnik       die hoewe oor klippe

dreun         die water deur die sagte landplooi

van die Mpakovallei

stroomroof       die aarde skreeu     die tata

sy klere skeur

 

Ntombokuqala sing

die seemense sing

die landmense ween

die plek donder

die plek klink

esiKhaleni     sê die plekmense

die plek van klank

 

©Susan Smith

 

Die groen (in) die gedig

Woordfees 2012

 

Lesing gelewer oor “Die groen (in) die gedig” tydens Woordfees 2012.

 

____________________________________________________________________________

Die groen (in) die gedig

Susan Smith

Onlangse navorsing oor die wyse waarop die literêre teks as kultuurproduk deur middel van taal die samehang van die mensdom en die natuur uitdruk, het die belangrikheid beklemtoon van ’n groeiende bewussyn van die rol wat ekokritiek en ekopoësie in die letterkunde speel, plaaslik en internasionaal. In haar artikel oor die aard van ekopoësie, skryf Smith die volgende:

As wêreldwye reaksie op die toenemende vernietiging van die verhouding tussen die mens en die natuur bied ekokritiek ’n interdissiplinêre kyk op die wyse waarop kultuurprodukte soos poësie hierdie verhouding ontgin en verwoord en dien dit as ’n reaksie op die behoeftes, probleme en krisisse wat die mensdom in die gesig staar. (Smith 2012a:506)

Die verbintenis tussen die ekokritiek en plek is eweneens deur Smith ondersoek en sy beklemtoon die belangrikheid van plek en ingeplaaste skryf as definiërende kenmerke van die groen gedig (Smith 2012b:901–2). Tereg merk Linda Russo op dat plek en materiële geplaastheid binne die omgewing tot gevolg het dat die mens ’n verbintenis met plek opbou wat verder strek as woorde op papier:

 Thus addressing place, and more specifically the “being located” or localism that is central to environmental writing, enables consideration of the material “emplacement” of “environ-ment” of the writer, of language as a perceiving and construction tool, and of connection (affect, bond) in many senses. (Russo s.j.:2)

 Die ekogedig gebeur iewers, dit is verbonde aan ’n spesifieke plek, ’n gebeurtenis wat in samehang en gelyktydig met ander menslike en niemenslike gebeure plaasvind; die wisselwerking tussen gedig en plek veronderstel volgens Russo ’n ekopoëtiese praktyk, waardeur die grense tussen die gedig en die plek of landskap opgehef word en die gedig as ’n veld van aktiwiteit aangebied word (Russo sj.:4). Hierdeur word die materialiteit van taal beklemtoon, die plasing van die woord op papier binne die materialiteit van die oomblik en die plek. Russo beskryf hierdie aksie as “the poem [that] is on-the-page and in-the-world at once through a co-mingling of experience, thought, perception, and fact” (Russo s.j.:4). Die fisiese materialiteit van plek lei daartoe dat daar opnuut gekyk moet word nie net na die landskap en plek van die gedig en in die gedig nie, maar veral ook na die gedig as landskap.

In hierdie artikel sal daar ondersoek ingestel word na die wyse waarop die ekogedig as landskap optree deur die visuele en strukturele aanbieding van die gedig. Dit sal gedoen word aan die hand van voorbeelde uit beide die Afrikaanse en internasionale digkuns.

[…]

© Susan Smith

Taalbeleid by UFH

Taalbeleid by die Universiteit van Fort Hare

Die Burger

Beeld

Volksblad

22/11/2013

In ‘n rigtinggewende stap het die Universiteit van Fort Hare einde 2013 ‘n nuwe taalbeleid aanvaar. Professor Susan Smith, Departementshoof van Afrikaans en lid van die Taalkommitee van die Universiteitsraad, het ‘n leidende rol gespeel in die totstandkom en aanvaarding van hierdie beleid.

Die hersiene taalbeleid wat eenparig deur die Senaat van die Universiteit van Fort Hare aanvaar is, is ‘n oorwinning vir ‘n multitalige en multikulturele benadering en in ooreenstemming met nasionale taalbeleid.

Die taalbeleid maak voorsiening vir die insluiting van Afrikaans, naas Engels en IsiXhosa, as een van die amptelike tale van die instansie, wat ‘n weerspieëling is van die multikulturele en multitalige demografie van die universiteit en ‘n bewustelike houding van insluiting kommunikeer. Die doelgerigte en aktiewe ontwikkeling van IsiXhosa en sy funksies tot volwaardige akademiese taal, en ‘n erkenning van die waarde en status van hierdie taal sal ‘n belangrike komponent van die toepassing van hierdie taalbeleid uitmaak. So tree die Afrikatale ook toe tot die meertaligheidsdebat en word ‘n belangrike vennootskap met Afrikaans gesmee, wat tot wedersydse voordeel sal lei.

Die oorlewingskrag van ‘n taal word nie net gemeet aan die hoeveelheid sprekers wat die taal op ‘n informele en spontane wyse gebruik nie; soveel meer is op die spel. Dit is veral die sogenaamde hoër funksies van ‘n taal wat bepalend is vir lewenskrag: dit sluit in die gebruik van ‘n taal op ‘n formele vlak soos byvoorbeeld in staatsinstansies, in kerke, in howe, as onderrigtaal en in die openbare media; ook as taal waarin belangrike literêre tekste gepubliseer word. Dit het veel te make met die amptelike status wat ‘n taal beklee, d.w.s. die waarde en erkenning wat aan ‘n taal toegeken word.

In ‘n tyd wat Afrikaans toenemend onder druk kom by talle tersiêre instansies en waar Afrikaanse departemente in sommige gevalle gesluit is, is die erkenning wat by die Universiteit van Fort Hare aan Afrikaans gegee word, beduidend en moet geprys word. Dit beteken onder andere die insluiting van Afrikaans (saam met isiXhosa) tydens universiteitsgeleenthede, op amptelike dokumente, korrespondensie en beleidstukke – en dit by ‘n universiteit wat tot op hede uitsluitlik Engels vir al hierdie funksies gebruik het.

Die groot uitdaging vir die universiteit sal die effektiewe toepassing van die nuwe taalbeleid wees, ‘n voortdurend evolerende proses wat sal afskop met die totstandbring van ‘n Taalsentrum. Dit vra om ‘n daadwerklike verbintenis tot, ‘n beteknisvolle implementering en ‘n toegewyde bestuur van die beleid.

LEES DIE BERIG IN DIE BEELD

Susan Smith, Afrikaans, UFH

Afrikaans in die nuus by UFH

Afrikaans in die nuus by UFH

Susan Smith, Afikaans, UFH

 

Stille stryder vir Afrikaans

Rapport

2010-11-20 21:58

Berig: René-Jean van der Berg

Foto: Denvor de Wee

Terwyl die groot taalstryders om die behoud van Afrikaans op talle kampusse stry, werk
dr. Susan Smith stil-stil met ’n groep studente in Afrikaans op die Fort Hare Universiteit
se Oos-Londen-kampus.

Al sê akademici die Afrikaansvuur brand nie meer so hoog nie, is dit die klein, smeulende kooltjies wat dié taal van uitwissing kan red.Dié klein kooltjies is wat dr. Susan Smith, digter en hoof van die departement Afrikaans by die Fort Hare Universiteit in Oos-Londen, in die harte van jong studente aanblaas.

“My werk is hiér. Daar is genoeg mense wat in Stellenbosch op die verhoog kan klim en vir die taal baklei. Aan so ’n aggressiewe debat neem ek nie graag deel nie,” sê Smith, wat in 2002 bekroon is met die Premierstoekenning van die departement van kuns en kultuur in die Oos-Kaap vir haar bydrae tot die Afrikaanse taal en letterkunde in die Oos-Kaap.Toe die Afrikaansdepartement van die Fort Hare-universiteit in Alice in 2004 weens lae studentegetalle sluit, het juis dié debatte en noodkrete woes deur die land getrek oor die taal nou kwansuis besig is om te sterf. Die Rhodes-universiteit het in 1997 ’n satellietkampus in Oos-Londen geopen, waar Smith Afrikaans gedoseer het.

In 2005 het die Rhodes-satellietkampus saamgesmelt met die Fort Hare-universiteit.Smith het toe die kans gekry om ’n volledige Afrikaansdepartement tot stand te bring. In 2005 is daar met net nege eerstejaars begin en vanjaar is 109 studente vir die vak Afrikaans ingeskryf. Van dié groep is daar twee doktorale, twee MA- en vier honneursstudente.Baie van die voorgraadse studente is Xhosa- of Engelssprekend en neem dus die taal as hul tweede of derde taal. Smith verduidelik op voorgraadse vlak word die vak in twee strome verdeel: prakties en akademies. Veral die nie-Afrikaanssprekendes bestudeer die taal op praktiese vlak. Daar is egter ook studente wat baie negatiewe persepsies oor die taal het, maar Smith spog dat die persepsies nie van lange duur is nie.

Smith en haar medelektor, mev. Shamiega Chaudhari, verduidelik sommer op eerstejaarsvlak aan nie-Afrikaanssprekendes dat jy nié jou eie taal, geskiedenis en kultuur verraai deur Afrikaans te neem nie.“Van die negatiewe persepsies is dikwels deur die geskiedenis heen en selfs op skoolvlak in die studente ingemessel. Hul ouers se idee rondom Afrikaans het ook ’n groot invloed op hoe húlle die taal sien en ervaar. Ons probeer om ons klasse prettig te hou om dié idees af te breek. Dit is in dié klasse wat die studente vir die eerste keer leer hoeveel hul eie taal en kultuur Afrikaans beïnvloed het. “Dan besef hulle Afrikaans is nié ’n Europese taal nie, maar ons éie taal. Dan dink hulle, ‘hei, ek kan mos ’n stukkie van my hart ook vir dié taal gee’.”

Smith debuteer in 1997 in Nuwe Stemme 1 en van haar gedigte word daarna in verskeie publikasies opgeneem, o.a. in Groot verseboek (2000), Versereise (2001), Raamwerk 11 & 12 (2001), Pret met poësie (2007), Versjoernaal (2008), Groot verseboek (2008), De Onbestemmelingen (2011) (saam met ’n Nederlandse vertaling van haar gedig deur Gerrit Komrij) en Vonkverse (2011). Een van haar gedigte is nasionaal voorgeskryf vir gr. 12-leerlinge.

LEES BERIG IN RAPPORT HIER

Gemeenskapsbetrokkenheid en studenteaktiwiteite

Afrikaanse Feesaand, studentedrama, ATKV studentetak, Forum vir Afrikaanse onderwysers:

 

Afrikaanse aand 2012.1l00015   

    Afrikaanse aand 2012.2l00005

Studentedrama

UFH Kaap Toer 1 052  UFH Kaap toer 2013 015

Besoek aan die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl en Dianna Ferrus tydens die Kaapse taaltoer

 

2013 ATKV.1l00024   April 2012 018

Eerste student ATKV-tak in die land, so hoor ons!      Nederlands by UFH met Dr Daniël van Olmen

UFH Kaap Toer 1 128   214

Taalmonument en Tafelberg

179

Op Seinheuwel