LitNet Akademies Seminaarkamer

Ekokritiek: In gesprek met Susan Smith

Elzette Steenkamp, Susan Smith2013-04-11

Elzette Maarskalk: Jou jongste LitNet Akademies-artikel, “Plek en ingeplaaste skryf. ’n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk”, handel oor die idee van plek in die ekogedig. Omgewingsgerigte literêre kritiek, of ekokritiek, beklee steeds ‘n liminale posisie in die Suid-Afrikaanse akademie en kwessies van ras, klas en gender geniet voorkeur. Hierdie ekohuiwering (ek steel nou William Slaymaker se term eco-hesitation) het moontlik iets te make met Suid-Afrika se unieke geskiedenis van onderdrukking, gekenmerk deur geskille oor grondbesit en die gewelddadige ontworteling van inheemse groepe. Die praktyk van omgewingsbestuur het boonop ‘n noue verwantskap met Britse koloniale onderdrukking en uitbreiding. Einste Slaymaker beweer: “For some black African critics, ecolit and ecocrit are another attempt to ‘white out’ black Africa by coloring it green” (132). Jy is lid van ‘n klein groepie “groen” Suid-Afrikaanse akademici wat hulle op omgewingskritiek toespits. Wat is die stand van die ekokritiek in Suid-Afrika? Hoekom is dit so belangrik dat die kwessie van plekdieselfde aandag as klas, ras en gender in die klaskamer (en natuurlik in navorsing) geniet?I

Susan Smith: As bron van woorde het letterkunde die potensiaal om ’n kritiese bewussyn te kweek en te kan optree as ’n etiese en epistemologiese vrymaking. Net soos postkolonialisme en feminisme is ekokritiek ook ’n vorm van kulturele kritiek wat stem gee aan ’n stilgemaakte Ander. Anthony Vital sê byvoorbeeld in sy artikel “Towards an African Ecocriticism: Postcolonialism, Ecology and Life and Times of Michael K” (2008:1) dat ’n Afrikagerigte ekokritiek noodsaaklik is, “one which engages in debating what a society’s assigning of significance to nature (in varieties of cultural products) reveals about both its present and past”. Ekologiese studies ondersoek onder andere die nadraai en impak wat ’n gewelddadige koloniale bestel gehad het op mense en die plek waar hierdie mense gewoon het. Om vir natuur te “lees” beteken om ook te lees met ’n bewussyn van die koloniale geskiedenis en hoe ekokritiek en postkoloniale kritiek meewerk daartoe om Afrikagerigte vrae te vra wat Afrikagerigte, plekspesifieke antwoorde tot gevolg kan hê. Deur ekokrities op plek te fokus beteken dat die blik gewerp word op beide die historiese invloed van plek en hoe daar tans na plek gekyk word.Daar behoort ondersoek ingestel te word na die wyse waarop moderniteit in die Afrika-konteks die mens se verhouding met die natuur beïnvloed, en as gevolg daarvan, die impak van gemeenskappe op natuurlike omgewings. Die soeke na ’n meer haalbare, volhoubare en gesonder wyse vir gemeenskappe om hul plek te bewoon en selfbegrip te bevorder, staan sentraal.Herwaardering van plek en ingeplaaste skryf- en leesaksies bring dus die ondersoek terug na die plaaslike, die streek- en die nasionale omgewing. Dit veronderstel geen abstrakte ruimtelike ondersoeke nie, maar wil juis bemoeienis maak met die geheel en die wisselwerking tussen verskillende dissiplines en kritieke. Plek is in essensie onlosmaaklik verbind met klas en ras en gender. Dit behoort te lei tot historiese selfbegrip – hoe daar in die verlede met plek omgegaan is, hoe gewelddadige strukture van mag en onderdrukking en verskuiwing plek beïnvloed het en hoe daar in die hede met plek omgegaan behoort te word. Die geskiedenis van plek is ook die geskiedenis van sy mense. Die geskiedenis van ’n plek praat dikwels waar die mense van ’n plek stilgemaak was. Om vir plek te lees, is ook om vir stilte te lees. Anders as Slaymaker sien ek ekokritiek dus nie as ondermyning van die rol wat postkoloniale kritiek behoort te speel nie, maar as mederolspeler in die ondersoek na en verwoording van die menslike-niemenslike verbintenis. In dié verband sê John O’Donohue: “The silence of landscape conceals vast presence. Place is not simply location. A Place is a profound individuality.”

LEES VERDER OP LITNET WEBSEMINAAR

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s