Ekokritiek en nuwe materialisme: LitNet Akademies onderhoud met Susan Smith

In die jou onlangse LitNet Akademies-artikel skryf jy onder andere dat daar die afgelope tyd wêreldwyd groot belangstelling heers oor die nuwe materialisme en die objekgeoriënteerde ontologie. Kan jy kortliks sê waaroor hierdie teorieë gaan?

Die nuwe materialisme en objekgeoriënteerde ontologie (Object Oriented Ontology, of OOO) kan gesamentlik gesien word as verteenwoordigend van ’n opwindende nuwe terrein van ondersoek wat as gevolg van die multidissiplinêre aard daarvan oor ’n breë spektrum van dissiplines en navorsingsterreine ’n rol speel, onder andere dan ook die literatuur, waar dit heelwat gemeen het met die ekokritiek. Beide teorieë plaas materie (as objek) sentraal.

Die nuwe materialisme fokus op materie, wat tradisioneel gesien word as ’n fisiese substansie wat gewig het en ruimte beslaan. Binne die teoretiese raamwerk van die nuwe materialisme word materie egter gesien as ’n meervlakkige konsep: dit is die materialiteit van beide die menslike liggaam en die natuurlike wêreld. Die ekokritikus Serenella Iovino (2012:135) sê materie is die substansie van alle dinge en materiële formasies – menslike en niemenslike liggame, lewende en nielewende dinge – is onderskeibaar van die gees, die intellek en die bewussyn. Daar word van die veronderstelling uitgegaan dat die wêreld en alles wat daarin is, aktief en dinamies tot mekaar bydra en mekaar onderling beïnvloed.

Waar die nuwe materialisme veral op die vitaliteit en aktiewe, deelnemende krag van materie fokus, wil die OOO van onder andere die ekofilosoof Timothy Morton die klem lê op die ommekeer van bepaalde rolle en posisies, spesifiek die rolle van subjek en objek. Hierdeur verkry die objek ’n sentrale posisie en word die stel van die mens se bestaan bó die van niemenslike objekte verwerp. Dit staan antroposentrisme teen en wil objekte sien as onafhanklik van menslike persepsie, onbegrens deur menslike toekenning van betekenis. OOO neem ’n baie spesifieke standpunt in ten opsigte van die natuur en die gelykheid van objekverhoudings.

Dit is natuurlik opwindend om betrokke te raak by ’n literatuurteoretiese beweging wat so onlangs soos 2010 tot stand gekom het – dit beteken dat ons op literatuurteoretiese terrein in voeling is met wêreldwye tendense. Wat nog belangriker is, is dat die klem, sover my navorsing strek, internasionaal grootliks op teoretisering val en betreklik min teksontleding tot op hede plaasgevind het, ’n aspek waaraan ek in my navorsing probeer aandag skenk.

Hoekom is die nuwe materialisme belangrik vir letterkunde en in die besonder vir die ekokritiek en ekopoësie?

Daar bestaan wêreldwyd ’n toenemende sensitiwiteit vir die omgewing, aangevuur deur waarskuwings oor die mens se invloed op ons planeet en sy hulpbronne en die reeds onomkeerbare vlakke van aardverwarming. Die nuwe materialisme ondersteun ’n siening van die werklikheid wat minder antroposentries en meer ekosentries is, waardeur die niemenslike dinge van die wêreld wat ons omring, op die voorgrond gestel word.

Die probleem bestaan egter, volgens Morton, dat die mens die natuursien as iets “buite” die mens, verwyderd van die mens en sy daaglikse lewe. As ons die natuur beskou as ’n plek waarheen ons ontsnap iewers ver van hier, waarheen ons gaan om te ontspan en wat ons bewonder weens die skoonheid daarvan, vind ’n verromantisering van die natuur plaas, wat tot afstandelikheid en objektivering lei. Geen emotiewe band, kontinuïteit van plek of kollektiewe identiteitskepping met die natuur word tot stand gebring nie. Morton wys op die teendeel: ons leef bínnedie objek; ons is déél van die objek; ons ísdie objek. “Ecology is profoundly about coexistence. Existence is always coexistence. No man is an island,” sê Morton (2010:4).

Die nuwe materialisme en OOO as teoretiese raamwerke beïnvloed die wyse waarop ons die omringende werklikheid ervaar, wat uiteindelik weerspieël word in die wyse waarop ons na literêre tekste kyk, maar veral ook hoe literêre tekste tot stand kom en wat hulle wil oordra. Morton sê dat ekomimesis bo alles ’n praktyk van jukstaponering is (Morton 2007:143).

LEES VOLLEDIGE ONDERHOUD HIER

Advertisements