Tuin van mondings

Tuin van mondings

                            (Sylvia Plath)

 

Toe doen jy dit weer.

Jy was suksesvol, hierdie laaste keer.

 

Jou nat pensketse van geïnkte winterbome,

oorgroot tulpe, nog ingesneeu

en nabyskote in die leem

van sampioene se sagte vuiste,

 

nader nog, kring op kring in pers en swart en rooi

die dringende muskus van jou oopgeskilde

blomkrone wat jou asem smoor, bloedpapawers

is jou mond se vel, die saadkapsules vol ingedrinkte

dampe opiaat herinner aan ’n vorige keer,

 

die moed van geslote monde

en uitmondings se rooi vlamme –

 

al die rame waardeur

jy na jou wêreld kyk.

 

Op ’n koue dag in Februarie is jou mond

’n mond van rou wonde, ’n mond

van taai pêrels

in jou tuin van digte mondings

 

toe die laaste lug aan jou tulpe vashaak

en jy bloedloos die wêreld uit jou oë loslaat.

 

© Susan Smith

quinera

hierdie rivier

wat landin ‘n blink lint deur groen valleie sny

– ‘n groen vyftig miljoen jaar oud –

hou die hart van haar mense vas

trek aan hul ledemate

met die oerstuwing van alle tye

toe almal eens vis was, vóór

longe, vóór asem

voor die kraakbeen van kieue

neus en oor geword het in ‘n baarmoedersee

wat ligroos deur klein toegelymde ooglede skyn

 

© Susan Smith. Uit: “In die afwesigheid van sin”