Ekokritiek en die nuwe materialisme: ’n Ondersoek na die nuwe materialisme in enkele gedigte van Johann Lodewyk Marais uit die bundel In die bloute (2012)

Advertisements

Die tasbaarheid en die on(aan)tasbaarheid van literatuurteorie

Poolshoogte

1.

In die postmoderne tyd waarin ons leef is literatuurstudie in ’n konstante toestand van verandering en fluktuasie. Om in die jaar 2014 poolshoogte van die stand van Afrikaanse letterkunde te neem, beteken uiteraard dat hierdie soort besinning binne ’n globale konteks moet plaasvind en dat daar ook na die stand van literatuurteorie gekyk moet word. Literatuurteorie kan gesien word as ’n heersende stel konsepte en intellektuele aannames wat die verhouding tussen die kunswerk en die samelewing op ’n gegewe tyd in die geskiedenis formuleer en reflekteer en wat inherent ’n kultuurproduk is wat die wyse waarop tekste kultuur skep, ondersoek.

Almal is dit eens dat daar nie ’n eenvoudige korrelasie is in die verhouding tussen teks en teorie nie. Die literêre sisteem is kompleks en interaktief en laat hom nie in netjiese boksies verpak nie. Meer nog, direkte ooreenstemming tussen lewens- en ideologieveranderende tendense en gebeure in die wêreld manifesteer nie noodwendig in ’n afgebakende, gedefinieerde literêre stroming nie.

Waaruit spruit literêre teorieë dan? Wanneer begin die pendulum swaai van een siening na ’n ander? En hoe onaantasbaar is die sentrale teorieë?

Hoewel die uitsonderlike literêre teks die grense van vooropgestelde idees en teorieë oorskry en grense verskuif, en hoewel sommige tendense uit die niet hul opwagting op ’n gegewe tyd maak, kan die verwantskap tussen breë literêre strominge en oorkoepelende globale persepsies ook nie geïgnoreer word nie. Dikwels is die literêre teorie ’n refleksie van of reaksie op een of meer van die dringendste vraagstukke wat die wêreld op ’n gegewe tyd in die gesig staar. So was ras, klas en geslag die gewilde onderwerpe wat tot aan die einde van die vorige eeu en begin van hierdie eeu aangespreek was en wat die teorieë van hierdie tyd oorheers het. Die voortspruitende teorieë was dan ook dikwels polities en ideologies gedrewe.

Gedurende die afgelope aantal dekades was dit egter die postmoderne teorieë van poststrukturalisme en dekonstruksie – deur sommige kritici die “linguistic turn” (Barad 2003:801) genoem – wat die literêre toneel oorheers en bykans onaantasbaar geword het, waarin ’n abstrakte tekstuele siening van die werklikheid voorop gestel is. Die gevolge van die sentrale posisie van hierdie teorieë is dat teorie en die tasbare werklikheid van mekaar geskei en linguistiese fundamentalisme op die voorgrond gestel is. Die linguistiese draai sluit onder andere die teorieë in van mense soos Jacques Derrida, Julia Kristeva, Luce Irigaray en Michel Foucault wat gefokus het op die krag van taal om die realiteit te skep – dus, dat taal verantwoordelik is vir die realiteit en nie ’n refleksie daarvan is nie.

Soos die wêreld om ons verander, ondergaan teorieë egter ook verandering en dit is in die aard van teoretisering om voortdurend na nuwe metodologieë te kyk wat herbesinning tot gevolg het. Ons verneem voortdurend van nuwe insigte wat poog om die grense te verskuif, die herlees van tekste moontlik te maak en ’n herkartering van die landskap tot stand te probeer bring. Literêre betrokkenheid by hierdie teorieë het tot gevolg dat daar met nuwe begrip na nuwe merkers gekyk kan word en dat nuwe leesstrategieë die leser lei tot groter insig in homself en die wêreld wat hom omring.

Vanaf 2010 gaan daar dus internasionaal al meer stemme op wat pleit vir ’n materiële draaipunt; literêre teoretici praat van “the material turn” (Iovino 2012:3). Die materiële draai word beskou as ’n teenreaksie teen sommige van die radikale tendense in postmoderne en poststrukturele denke wat dit ten doel gehad het om die wêreld te dematerialiseer tot linguistiese en sosiale konstruksies. Die belangrikheid van die materieel tasbare werklikheid wat interaktief inwerk op beide die menslike en die niemenslike wêreld is hierdeur grootliks geïgnoreer of ontken. Ten grondslag van die nuwe materialisme as uitgangspunt lê die ekokritiek, wat breedweg gesien kan word as die studie van kultuurprodukte soos kunswerke, skryfwerk en wetenskaplike teorieë wat sigself bemoei met die menslike verhouding tot die natuurlike wêreld. Cheryll Glotfelty en Harold Fromm, pioniers van die ekokritiese literatuurteorie, definieer ekokritiek in die seminale publikasie The ecocriticism reader (1996:xviii) as “the study of the relationship between literature and the physical environment”, terwyl die term in The Routledge dictionary of literary terms (Childs en Roger 2009:65) aangedui word as “[t]he study of literary texts with reference to the interaction between human activity and the vast range of ‘natural’ or non-human phenomena which bears upon human experience – encompassing (amongst many things) issues concerning fauna, flora, landscape, environment and weather”.

Scott Knickerbocker (2012:3) wys daarop dat ekokritiek sterk op die voorafgaande teorieë reageer en dat enige nuwe denkskool of denkrigting gedefinieer word in opposisie met die gevestigde praktyke. Hy sien ekokritiek en die nuwe bewussyn van materialiteit wat inherent daaraan is as ’n teenvoeter vir postmoderne teorieë waardeur die oormatighede van poststrukturele taalteorie ingekort word (Knickerbocker 2012:3). Dit is egter ook juis kritici soos Knickerbocker (2012:3) en Neil Evernden (1996:103) wat daarop wys dat die oorreaksie op tekstualiteit deur die ekokritiek politiese omgewingsaksie beklemtoon terwyl dit tred verloor met die estetiese (en by implikasie tekstuele en taalgerigte) ervaring wat juis so ’n aksie inspireer en deel daarvan uitmaak. Hul bepleit ’n gebalanseerde siening wat voorsiening maak vir beide materiële en linguistiese inhoud. Ten spyte van belangrike tekortkominge in bied ’n fokus op materialiteit en die objek ’n verruimende blik wat ’n belangrike bydrae tot ekosentriese teorie lewer.

Teen die agtergrond van heersende tendense en oorkoepelende globale gebeure is daar internasionaal ’n steeds groeiende getal vooraanstaande literatuurkritici wat hulself uitspreek oor die vreemde verskynsel dat dreigende globale ekologiese vraagstukke steeds so ’n geringe impak op die literatuursisteme het, iets wat veral ook in die Afrikaanse konteks merkbaar is. In haar inleiding tot The Ecocriticism Reader sê Glotfelty dat, ten spyte van voortdurende vernuwing,  dit wil voorkom of vakkundigheid steeds akademies en teoreties ingestel bly “in the sense of scholarly to the point of being unaware of the outside world” (Glotfelty & Fromm 1996:xv). Mens sou bykans nie weet dat daar ’n aarde is, of dat die aarde se lewensonderhoudende sisteme onder druk is nie. Hoewel literêre tekste, beide plaaslik en internasionaal, ’n toenemende belangstelling in omgewingskwessies toon, is ekokritiek steeds, veral plaaslik, nie een van die groot rigtingwysers in literatuurstudie nie.

Glotfelty se aantyging dat, hoewel susterdissiplines in die geesteswetenskappe, soos filosofie, regte en sosiologie al lankal met groen kwessies besig is, die literatuurstudie grootliks onbetrokke gebly het, is nie so vergesog nie. Ian McCallum (2005:67-69) wys op die skokkende en gevaarlike ooreenkomste tussen die onwilligheid of onvermoë van die hedendaagse mens om die wetenskaplike bewyse oor aardverwarming te aanvaar, en die reaksie van die middeleeuse samelewing op Copernicus se teorieë oor die beweging en draai van die aarde om sy eie as. Copernicus is deur die mense van sy tyd as ketter uitgejou; hedendaagse aardgesentreerde argumente oor aardverwarming word eweneens deur ’n groot hoeveelheid mense afgemaak as onbelangrik, oordrewe of niebestaande. In beide gevalle word die stem van rede en verifieerbare wetenskaplike ondersoek misken en ondermyn.

Lees die volledige artikel hier:

LitNet Akademies: Poolshoogte