Susan Smith ontvang ATKV/SA Akademie Navorsingsprys 2014

Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) stel jaarliks prysgeld van R60 000 beskikbaar vir die bekroning van ses gepubliseerde Afrikaanse artikels wat in ’n betrokke jaar in ’n geakkrediteerde tydskrif verskyn het. Vier pryse is bestem vir artikels in die geesteswetenskappe en twee vir artikels in die natuurwetenskappe. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hanteer die keuringsproses.

Vanjaar is die beste artikels wat in 2012 verskyn het en deur redakteurs van geakkrediteerde tydskrifte aan die Akademie voorgelê is, beoordeel. Daar is 16 artikels uit 8 tydskrifte voorgelê en die pryswenners van die van die ATKV/SA Akademieprys 2014 is pas bekend gemaak.

Drie van die wenartikels is in LitNet Akademies gepubliseer. Die pryse is toegeken aan:

Susan Smith, Departement Afrikaans, Universiteit van Fort Hare vir haar artikel: “Plek en ingeplaaste skryf. ’n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk” wat in LitNet Akademies, jg 9, no 3, Desember 2012 verskyn het.

Volledige artikel op LItNet

Susan Smith

Francis Galloway
Redakteur: Geesteswetenskappe

JM (Jannie) Otto, Departement Privaatreg, Universiteit van Johannesburg vir sy artikel “Die afkoelreg in die Nasionale Kredietwet en die Wet op Verbruikersbeskerming” wat in LitNet Akademies, Jg 9, no 1, Maart 2012 verskyn het.
Jannie Otto

Johann Neethling
Redakteur: Regte

Helgard Raubenheimer, Departement Chemie en Polimeerwetenskappe, Universiteit Stellenbosch vir sy artikel “Asikliese karbeenkomplekse maak eerste opslae in goudstormloop” wat in LitNet Akademies, jg 9, no 3, Desember 2012 verskyn het.
Helgard Raubenheimer

Dirk Laurie
Redakteur: Natuurwetenskappe

 

Image may contain: 2 people, people smiling

Prof Susan Smith en Mnr Japie Gouws, van die ATKV, tydens die oorhandiging by NMMU in Port Elizabeth.

Advertisements

2014 Kokertoekenning van die Afrikaanse Taalraad vir Beskerming van Afrikaans aan Susan Smith

Viertal erken vir taalstryd

Beeld: Deur Susan Cilliers Maandag 03 November 2014 4:00 vm.

Van links is prof. Wannie Carstens, Marlene le Roux en prof. Susan Smith. Regs is Christina Mashobane, ‘n Afrikaans-onderwyseres van Hammanskraal, naby Pretoria, wat met ‘n aansporingsmedalje vereer is. Foto: susan cilliers

In 2005 het sy ’n Afrikaans-departement by die Fort Hare-universiteit in Oos-Londen gevestig.

Prof. Susan Smith het boonop ’n groot rol gespeel om Afrikaans naas Engels en Xhosa as amptelike tale by Fort Hare erken te kry.

Sy is Vrydagaand hiervoor en vir verskeie ander projekte om Afrikaans te bevorder met ’n Kokertoekenning vir die beskerming van Afrikaans vereer.

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) het haar en nog twee mense met Kokertoekennings in Potchefstroom beloon vir hul bydrae tot Afrikaans.

“Ek is oorweldig, ’n mens doen maar wat voor jou is om te doen,” het Smith, ook ’n digter, gesê.

Marlene le Roux, direkteur van Kunstekaap se Kunstesentrum, is ook met ’n Koker vereer vir haar bemagtigingswerk op die gebied van die kunste, opvoeding, armes, en veral binne gestremde gemeenskappe.

By Kunstekaap bied sy jaarliks Afrikaanse voorgeskrewe letterkunde van gr. 1 tot gr. 12 aan. Só het sy meer as 50 000 leerders deur Afrikaans bereik. Le Roux is ook ’n Afrikaanse skrywer en medeskrywer van onder meer Die Wellingtonse Klopse.

Sy is voorsitter van die Wes-Kaapse Kultuurkommissie en die enigste Suid-Afrikaner ooit wat in die Olimpiese en Paralimpiese Spelekomitee gedien het.

Oor haar eerbewys het sy gesê: “Afrikaans moet met liefde en omgee beskerm word. Mense van inbors en integriteit moet daarmee geassosieer word. Ek besig nie net die taal nie, ek leef daarin. Ek wil my ouma bedank dat ek soggens 4:00 kon wakker word met die klanke van haar Afrikaanse gebed.”

Prof. Wannie Carstens, wat leiersposisies in talle taalorganisasies beklee, is ook met ’n Koker vereer vir sy rol in die bevordering van Afrikaans.

“Enorme foute is in die verlede in Afrikaans begaan, maar ons moet besef ons het die wil en vermoë om dit reg te maak. Ons moenie die ba­klei-tipes wees nie, maar oorredende tipes. Ons moet goeie en sterk mense wees.”

Carstens is direkteur van die Skool vir Tale by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus.

“Die mooiste Afrikaanse woord is ‘oupa’ en die tweede mooiste is ‘Afrikaans’,” het Carstens gesê en sy vrou, Wilma, en hul kinders vir hul ondersteuning bedank.

Hy is outeur en mede-outeur van verskeie akademiese boeke. Onder sy inisiatief is samewerkingsooreenkomste met België gesluit.

Lees ook die artikel hier.