Biebouw-resensie: Reisiger te perd deur Piet van Rooyen

48376307_0_Img2

Susan Smith

LitNet Biebouw-resensies

29/10/2014

Titel: Reisiger te perd

Outeur: Piet van Rooyen

Uitgewer: Protea

’n Perd van ’n ander kleur

Piet van Rooyen debuteer reeds in 1973 met Draak op die erf, waarna nog vier bundels en ook die bekroonde romans Die spoorsnyer (1994) en Die olifantjagters (1997) die lig sien.

 

Reisiger te perd is by uitstek ’n eenheidsbundel wat perde as sentrale fokus het. Die werkwyse van skryf en die samestelling van die bundel word deur die digter self aangebied in ’n ietwat buitengewone aanspreek van die leser in die voorwoord. Hierin sit hy sy werkwyse uiteen en nooi dan die leser “om saam te reis deur hierdie wye en vlammende landskap” (5). Ook die plasing van ’n bronnelys aan die einde van die bundel is ’n minder algemene werkwyse. Enersyds noop dit die leser om verder te delf in die digter se navorsing; andersyds skep dit die gevoel dat die leser ietwat aan die neus gelei word om die gedigte binne ’n voorafbepaalde konteks te lees.

Oorkoepelend word die perd as “die teken van onrus en geweld” (14, na Vergilius) en die “edel perd” (62) aangebied, die draer van die ridder wat as bewonderde en seëvierende held in die gevegsituasie optree.

Plasing binne die wêreldletterkunde maak van die bundel ’n historiese dokument en ’n weerspieëling van sy tyd en van die persepsies van daardie tyd. En dit is hierin wat die grootste krag van die bundel geleë is. Die gedigte getuig van ’n wye en indrukwekkende belesenheid en deurlopende intertekstualiteit word op vernuftige wyse met klassieke tekste en outeurs soos Voltaire, Jean-Jacques Rousseau, Leo Tolstoi, Anton Tsjechof, Joseph Conrad en selfs Virginia Woolf (om maar enkeles te noem) bewerkstellig. Terselfdertyd slaag die digter daarin om die gedigte meestal gestroop en toeganklik aan te bied, ’n helderheid wat dikwels bedrieglik kan wees. Hoewel die naamverwyings onderaan elke gedig belangrike sleutels bied tot die konteks van die gedig en as ‘t ware ’n groot verskeidenheid van stemme word wat oor die onderwerp praat, moet daar ook van die veronderstelling uitgegaan word dat die omdigting van verhale op so ’n wyse geskied dat die gedig selfstandig kan staan en die stem van die digter self hoorbaar is.

Volgens die digter word die gedigte in tydvolgorde volgens die publikasiedatum van brontekste geplaas, beginnende heel gepas by die klassieke antieke era met tekste van Homeros (900 vC) en Vergilius (19 vC), en eindigende met tekste van die eietydse Roberto Bolaño (2004) en Isabel Allende (2005). Teen die agtergrond van die klassieke riddertyd versterk die eerste aantal gedigte in die bundel onmidellik die idee by die leser van die man as ridder en held. Tipiese eienskappe van die ridderromanheld word herhalend in die gedigte teruggevind, byvoorbeeld sy krag, sy “kranige ruiterskap” (21), sy “meester”-skap (21), die “perd en ruiter albei barstens vol selfvertroue” (25), met “vele bewonderaars” (19) terwyl die ruiters “met vlae en baniere en ’n harde gejuig” (54) afgesien word voor hulle vertrek.

Daar word beklemtoon dat die man sonder sy perd eintlik niks is nie: “kaalgestroop het hy homself gelê en bekyk / beroof van sy perd en sy lans en sy swaard” (16). Hierdie beelde van manlikheid is egter nie beperk tot die “tydperk” wat die eerste gedigte representeer nie, maar word deurgetrek tot die einde. In een van die laaste gedigte sê die digter: ’n man is veel meer ’n man in die land van perde” (110) en “sonder ’n perd is ’n man nie meer ’n man nie” (72). Manlikheid word dus gelykgestel aan die heerskappy oor of besitterskap van ’n perd – ’n beeld wat deurlopend in die bundel van krag is en waardeur die verhouding tussen die ruiter en perd metaforiese dimensies verkry. Perd en man word uiteindelik uitruilbaar.

Die tema van manlikheid word deur herhaalde verwysings versterk: “manlikheid” (25); “krag” (25); “ons manne” (33); “hy met sy pluimveerhoed en sy bultende manlikheid” (39). Daarbewewens word die manlike voorkoms ook aangespreek: “die ruiter het donker oë en sy wenkbroue is ru” (25).  Eienskappe van manlikheid van perd en ruiter word met mekaar vereenselwig, terwyl die sensuele dikwels aangebied word: “poedelnaak die vier ruiters op hul poedelnaakte perde” (47), “wydsbeen” (39), “blootsrug”(36), “so bloots” (31), “wydsbeen op hul perde” (30), en “ons bene wydweg” (29).  Die herhalende aard van hierdie beelde dra by tot ’n fokus op die liggaamlikheid van die ruiter as sentrale figuur.

In aansluiting by die manlikheidsbeelding en die ridderromantematiek kom herhalende beelde van oorlog, geweld, vernietiging, wapens en die vreugde en edelheid van “die geveg” (13) in talle gedigte aan bod.  Daar word byvoorbeeld melding gemaak van die ruiter se “geweer” en sy “pistool” (25) en van “koeëls wat huil” (41). In die gedig “segeparade” (44) beskryf die digter-spreker die “windmaker-bataljon […] op hul windmaker perde”:

soos ’n grys slang met sy kronkels

dan weer soos ’n bruisende bruin rivier

al met die strate langs kom die berede soldate

die magdom troepe van die seëvierende generaal (44)

Die bevelvoerder is egter “vet en vrolik soos ’n rubberbal”, wat op ironiserende wyse met die manlikheid van die soldate gekontrasteer word.

In teenstelling met die seëvierende aantog te midde van die bewondering van die mense, word die teendeel van die ridderskap ook uitgebeeld: “die verwese infanteriesoldate / met geskeurde uniforms en koue voete” (45), “die verslane ridder” wat met ’n “geweeklaag en gekners van tande” reflekteer op die ridder se “lewe van gedurige oorlog en van sonde / die prooi van selfwaan en van jaloesie” en sy aankoms aan die “huis van die groot visserman” (16):

dáár is g’n plek vir ’n man op ’n spoggerige perd nie

wees liewer tevrede – versterk en vol moed

so kaal soos jy gebore is sal jy daar aankom

van alle pretensie en hoogmoed gestroop (16)

Die reis en die oorlog transendeer die fisiese, en word ’n verwysing na die mens se ewigheidsbestemming en sy gereedheid daarvoor. Dit is egter steeds die edelheid en inbors van die sentrale figuur wat seëvier. Aansluitend by die fokus op wapens word ook enkele verwysing na jagaktiwiteite gemaak:  die ridder wat “pyl na pyl loslaat” (74); die pa wat ’n “voorslagjagter” was, “selfvoldaan en arrogant” (53).

Die gedigte bied meestal ’n hedendaags-kontroversiële blik op vroue. In die gedig “troika” (26, na Tolstoi) word vroue beskryf as “los dames” en “vrolike vrouens”, terwyl die “drywer” “jaar na jaar” “vel en been en hare / tot beskikking van ons plesier” stel. Op satiriese wyse word vroue en perde as plesieritems en verbruikersgoedere aangebied, ’n beeld wat ’n eertydse historiese leefwyse reflekteer en waarop die gedig skalkse kommentaar lewer wanneer daarop gewys word dat hulle “reg tot binne in die poorte van die hel” ry. In die gedig “brose besittings” (33, na Charles Doughty) word vrou en perd aan mekaar gelykgestel, albei besittings van die man; sy is “die ekstra las” en “wie ’n perd of vrou besit / kan nooit behoorlik rus nie” (33); sy verg “hoë onderhoud” (33). Die vrou word dikwels uitgebeeld as ’n “wilde” “meisiekind” (29), “woes” (31) en “wildweg” (29), met  “ hare woes na agter gegooi” (31) – ’n beeld wat ooreenstemming toon met die vrou as wilde amasone. In die gedig “volledige prentjie” (71, na Lin Yutang) sinspeel die ironiserende titel daarop dat die meisie saam met die perde en koeie die mooi prentjie afrond en volledig maak, en “hoe mooi sy met die omgesing saamsmelt / met die berge en die koeie en die perde” (71), wat enersyds op ’n pastorale siening berus, maar ook degenererend gelees kan word. Aan die ander kant word die vrou ook meer as een keer met hoofse afstandelikheid aangebied. In “by die deur” (63, na Elias Canetti) rig die spreker-digter homself in die gedig op bykans gemoedelike wyse tot die leser en sy identifisering met die ridder wanneer hy na “ons eie edele ridder” en sy galante optrede teenoor “die skone dame” verwys – die patroniserende ondertone duidelik sigbaar. In die gedig “vrouekryger” (101, na Maxine Hong Kingston) word die bordjies wel verhang wanneer die vrou as kryger uitgebeeld word. Vanuit die perspektief van die vrou voel sy “wonderlik om sterk te wees” en “wonderlik om hoog te sit” in haar “mansgewaad”. Dit is egter nie as vrou wat sy seëvier nie, maar as vrou in mansgewaad – sy moet haar dus laat geld binne die norme en riglyne wat steeds manlik gesentreerd is.

Wanneer die verhouding tussen die ruiter en die perd nagegaan word, word dit meestal aangebied vanuit die perspektief van die ruiter as heerser en subjek, en die perd as ondergeskikte objek. In “hobbelperd” (21) “aanvaar die ros tog heel kalm sy meester” en in “dromer” (36, na Thomas Mann) word die baasskap van die ruiter uitgedruk in die woorde: “hy ken alreeds sy baas”. Die liefdevolle, versorgende verhouding tussen ruiter en perd word wel ook aangebied.

Tot dusver ’n enigsins versplinterde blik op die bundel. Is daar meer waarna die leser moet kyk?

Die digter waarsku self dat die wyse waarop daar gekyk moet word – ook na die gedigte – nie tot versplintering moet lei nie. In die gedig “die perdheid van perd” sê hy:

’n mens kyk mos nie soos ’n kamera

in klein stukkies vierkantige momente nie

daar is ’n spesifieke voortrol in die mate van sig

die verbeelding self wat begin tol en swaai

die denke wat die elemente bymekaarplak

en verskuiwe na die beeltenis van ’n perd

eers dan verskyn die perd vir wat hy is (48)

Die perd is uiteindelik meer as wat hy is, meer as die somtotaal van sy elemente; hy word die draer van die mens in al sy lewensmomente:

en ek moet myself knyp om te onthou wie ek is

’n reisiger van een tydvak direk na die ander

’n kind wat vooruitkyk na die gang van die lewe

’n man wat terugdink aan die poele van sy kleindae

’n spuitontein in die antieke deel van ’n stad

’n tuimeling van water wat herinneringe verbind (92)

Die bundel fokus dus nie net op die verhouding tussen en perspektief op die ruiter en sy perd soos dit deur die eeue verwoord is nie, maar wys op die transformasie van die perd tot geestelike gids vir die mens wat “hom die pad […] wys” (115) en uiteindelik lei tot “trans-spesifieke kommunikasie / tussen mens en dier” wat bestaande grense oorsteek (113):

die trans-spesifieke kommunikasie

tussen mens en dier – die ruiter en sy perd

is ’n slingerpad wat grense verbind

met ’n eindpunt aan die oorkant (113)

Die grense waarna verwys word, kan moontlik ook gesien word nie net as die grense tussen subjek en objek en die omverwerping van die objektivering van die perd nie, maar ook die opskorting van die wyse waarop daar deur die eeue na die perd (en sy ruiter?) gekyk is. Kommunikasie tussen perd en ruiter toets dus die bestaande stereotiperinge en bring ’n nuwe verhouding tot stand.

’n Uitspraak oor die bundel? Ons kan ons in die woorde van die digter die volgende afvra: “is dit wonderlik is dit goed? “ (29). ’n Knap bundel? Gewis. Leesbaar? Gewis.  Dat die bundel hom daartoe leen tot verdere ontleding, dalk vanuit ’n feministiese perspektief? Verseker. Het die bundel ’n “bruising in [die] bloed” (29 ) van hierdie leser veroorsaak? Nee.

Te veel testosteroon tussen die bladsye vir hiérdie leser se smaak.

Volledige resensie hier besikikbaar

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s