Plek as liggaam en liggaam as plek. Tendense van die nuwe materialisme en interaksie tussen mens en plek in enkele tekste uit Verweerskrif (2006) van Antjie Krog

Susan Smith

Volledige artikel hier beskikbaar

Resensie: Skadu oor die sonwyser – Kobus Lombard

Skadu oor die sonwyser

Skadu oor die sonwyser
Kobus Lombard
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485303022

Resensent: Susan Smith

LitNet Resensies

13/7/2015

Skadu oor die sonwyser is Kobus Lombard se vierde digbundel, wat Geknipte naelstring (2001), Tussen wysvinger en duim (2005) en Vlerke vir my houteend (2010) opvolg. Die bundel volg grootliks in dieselfde voetspore as die voorafgaande bundels deur die ontginning van temas soos die verhouding met die afwesige biologiese moeder (’n gegewe wat ook in die flapteks genoem word), digterskapsbeskouinge, religieuse kwessies, outobiografiese gerigtheid en plekspesifieke temas wat veral die Namibiese gegewe betrek.

Die bundeltitel en voorplat skep by die leser die verwagting van tematiese bou rondom aspekte soos lig en donker, lig en skadu, tydsverloop, en ook ’n situering binne Afrika/Suid-Afrika/Kaapstad – aspekte wat dan wel gestand gedoen word. Die sewe onbenoemde afdelings in die bundel word elk voorafgegaan deur ’n motto, reëls wat telkens uit een van die gedigte binne die afdeling geneem word en wat bedoel is om as riglyn te dien vir die inhoud van die afdeling.

Die openingsgedig, “Laaste saluut” (11), betrek die mens te midde van die aftakeling wat tyd meebring, nie slegs op die liggaam self nie, maar ook in die groter konteks van “die land”, en spreek van die verlies aan die self en aan die ideologieë van die verlede. Die titel is simbolies van die heengaan van mens en plek. Die digter sê:

niemand herken meer

die land van herkoms

op sy brasso-honger

lapelwapens nie

sy ongepoetsde stewels

spieël nie meer

sy parate figuur nie

die vlag wat hy salueer

is deur te veel winde

aan flarde gewapper.

Binne die groter konteks van die bundel wys die ontgogeling van die openingsgedig vooruit na die verbygaande aard van alle dinge, die herlewing van jeugherinneringe, die geprojekteerde en eensydige liefde vir die afwesige moeder, ontnugtering met die vroeër tye se religieuse vastighede, die agteruitgang van die aarde deur die menslike toedoen en ’n dikwels ontluisterde blik op die hedendaagse Namibië.

Die verlies aan die moederfiguur word skreiend verwoord in “Om die beurt” (39) wanneer die rolle van ouer en kind omgeruil word:

ek het toe ouer as jy geword, Ma

nou kan jy jouself opkrul

en teen my bors kom lê

ek sal jou toemaak in die nag

en jou huil teen my ouer wang druk

jou jong vrouhande toevou

en jou nooit weer toelaat

om my weg te gee nie.

“Moeder Aarde” (67) in afdeling VI het ook die aandag getrek:

noudat ek uit die reste van fossiele

benaderd weet hoe oud jy is

huiwer ek

om sommerso op jou lyf te trap

buk ek om ’n klip te lig

van jou verkreukelde gesig

wonder ek meteens

hoe ewigheid moet voel.

In hierdie kompakte, eenvoudige gedig praat die digter direk met Moeder Aarde, soos ook in “Paraydsopdrag” (71), en praat ook met die kokerboom in “Ontwortel” (73). Die gedig getuig van respek vir die aarde, en die gebruik van die aanspreekvorm plaas die gesprek in ’n persoonlike konteks en suggereer ’n persoonlike verhouding tussen die sprekende ek en die niemenslike omgewing. In die bykans elegiese “Paradysopdrag” word die bewaringstema voortgesit:

ons is die delwers uit Genesis

ons hardloop steeds resies

om kleims op jou buik af te steek

ons haal jou ingewande uit

sif dit en smelt dit

tot rygoed

leefgoed

en hanggoed aan ons ore

al wat ons aan jou moederskoot teruggee

is die fosfaat van ons beendere

dat die gras weer oor jou oop wonde groei.

Dit is een van die sterkste gedigte in die bundel en smee implisiet die temas van die verlore biologiese moeder en die aarde as moeder saam.

In enkele gevalle verskuif die blik vanaf die lokale na die kosmiese vlak, soos in “Gondwana” (74) wanneer die digter sê: “geen geslag leef lank genoeg/ om kontinente te sien skuif nie”, en daarmee tematies ook die gang van tyd (“sonwysersekuur”) aan die kosmiese gang van tyd koppel.

Die plekgerigte slotgedig is “Gobabis” (84), waarin die dorp aanvanklik vernuftig in menslike terme beskryf word:

die Swart-Nossob konkel

soos ’n ou aar oor jou hand

die stof hang ’n kring

om jou tiervelhoed

die vensters van jou oë is gebreek

jou mure skilfer soos oumensvel

die torings van jou kerke

steek gate in die reënlose lug

jou ongeskraapte strate

bedel soos loopneuskinders.

Die beeld van die kerktoring wat “gate in die […] lug” steek (’n verbeeldingryke en geslaagde beeld), word ook in “Ontnugtering” (23) herhaal: “kerke is torings/ wat gate in die hemel steek”. ’n Aantal knap metafore word in die bundel ingespan, maar daar is ook enkele gevalle waar die beeldgebruik nie die mas opkom nie. ’n Metafoor soos “die vensters van jou oë” is uitgedien en hoort nie in die werk van iemand wat al drie bundels agter die rug het nie. Ook die gedig “waar vind jy taal” (45) oortuig nie, terwyl die beeld in “Onwillekeurig” (49), “met elke weggooilam se blêr/breek my kraal se drade/ soos natgereënde wol”, nie klop nie.

Die digter maak, soos in sy vorige drie bundels, gebruik van ’n sober, gestroopte aanslag. Die gedigte in hierdie bundel is eweneens deurlopend kort (soms net vier reëls) en is gestruktureer deur ’n kort daarstelling van ’n bepaalde beeld, opgevolg deur ’n fokus op die slotreël of -reëls waarin ’n verdieping of insig aangebied word. Hoewel hierdie strukturering goed werk vir gedigte oor die dood deurdat dit gelade woordgebruik en ironiserende trefkrag bewerkstellig, werk dit gaandeweg eenselwigheid in die hand, ’n kritiek wat reeds teen vorige bundels van Lombard uitgespreek is. ’n Mens kry die gevoel dat daar nie werklik groei ten opsigte van die temas en die verstegniese vaardighede plaasgevind het sedert die vorige bundels nie, en dat die verse min blyke toon van intertekstuele betrokkenheid by die groter poëtiese diskoers.

Skadu oor die sonwyser bevat stil poësie, wat nie noodwendig negatief is nie. Die aanbod bly egter skraal. Maar verder: hierdie verse bied aan die leser geen aardskuddende momente nie; dit verskuif nie die grense nie. Inteendeel – dit is poësie wat die gevaar loop om in die vergetelheid te kan verdwyn.

Lees volledige resensie hier