Resensie: Skadu oor die sonwyser – Kobus Lombard

Skadu oor die sonwyser

Skadu oor die sonwyser
Kobus Lombard
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485303022

Resensent: Susan Smith

LitNet Resensies

13/7/2015

Skadu oor die sonwyser is Kobus Lombard se vierde digbundel, wat Geknipte naelstring (2001), Tussen wysvinger en duim (2005) en Vlerke vir my houteend (2010) opvolg. Die bundel volg grootliks in dieselfde voetspore as die voorafgaande bundels deur die ontginning van temas soos die verhouding met die afwesige biologiese moeder (’n gegewe wat ook in die flapteks genoem word), digterskapsbeskouinge, religieuse kwessies, outobiografiese gerigtheid en plekspesifieke temas wat veral die Namibiese gegewe betrek.

Die bundeltitel en voorplat skep by die leser die verwagting van tematiese bou rondom aspekte soos lig en donker, lig en skadu, tydsverloop, en ook ’n situering binne Afrika/Suid-Afrika/Kaapstad – aspekte wat dan wel gestand gedoen word. Die sewe onbenoemde afdelings in die bundel word elk voorafgegaan deur ’n motto, reëls wat telkens uit een van die gedigte binne die afdeling geneem word en wat bedoel is om as riglyn te dien vir die inhoud van die afdeling.

Die openingsgedig, “Laaste saluut” (11), betrek die mens te midde van die aftakeling wat tyd meebring, nie slegs op die liggaam self nie, maar ook in die groter konteks van “die land”, en spreek van die verlies aan die self en aan die ideologieë van die verlede. Die titel is simbolies van die heengaan van mens en plek. Die digter sê:

niemand herken meer

die land van herkoms

op sy brasso-honger

lapelwapens nie

sy ongepoetsde stewels

spieël nie meer

sy parate figuur nie

die vlag wat hy salueer

is deur te veel winde

aan flarde gewapper.

Binne die groter konteks van die bundel wys die ontgogeling van die openingsgedig vooruit na die verbygaande aard van alle dinge, die herlewing van jeugherinneringe, die geprojekteerde en eensydige liefde vir die afwesige moeder, ontnugtering met die vroeër tye se religieuse vastighede, die agteruitgang van die aarde deur die menslike toedoen en ’n dikwels ontluisterde blik op die hedendaagse Namibië.

Die verlies aan die moederfiguur word skreiend verwoord in “Om die beurt” (39) wanneer die rolle van ouer en kind omgeruil word:

ek het toe ouer as jy geword, Ma

nou kan jy jouself opkrul

en teen my bors kom lê

ek sal jou toemaak in die nag

en jou huil teen my ouer wang druk

jou jong vrouhande toevou

en jou nooit weer toelaat

om my weg te gee nie.

“Moeder Aarde” (67) in afdeling VI het ook die aandag getrek:

noudat ek uit die reste van fossiele

benaderd weet hoe oud jy is

huiwer ek

om sommerso op jou lyf te trap

buk ek om ’n klip te lig

van jou verkreukelde gesig

wonder ek meteens

hoe ewigheid moet voel.

In hierdie kompakte, eenvoudige gedig praat die digter direk met Moeder Aarde, soos ook in “Paraydsopdrag” (71), en praat ook met die kokerboom in “Ontwortel” (73). Die gedig getuig van respek vir die aarde, en die gebruik van die aanspreekvorm plaas die gesprek in ’n persoonlike konteks en suggereer ’n persoonlike verhouding tussen die sprekende ek en die niemenslike omgewing. In die bykans elegiese “Paradysopdrag” word die bewaringstema voortgesit:

ons is die delwers uit Genesis

ons hardloop steeds resies

om kleims op jou buik af te steek

ons haal jou ingewande uit

sif dit en smelt dit

tot rygoed

leefgoed

en hanggoed aan ons ore

al wat ons aan jou moederskoot teruggee

is die fosfaat van ons beendere

dat die gras weer oor jou oop wonde groei.

Dit is een van die sterkste gedigte in die bundel en smee implisiet die temas van die verlore biologiese moeder en die aarde as moeder saam.

In enkele gevalle verskuif die blik vanaf die lokale na die kosmiese vlak, soos in “Gondwana” (74) wanneer die digter sê: “geen geslag leef lank genoeg/ om kontinente te sien skuif nie”, en daarmee tematies ook die gang van tyd (“sonwysersekuur”) aan die kosmiese gang van tyd koppel.

Die plekgerigte slotgedig is “Gobabis” (84), waarin die dorp aanvanklik vernuftig in menslike terme beskryf word:

die Swart-Nossob konkel

soos ’n ou aar oor jou hand

die stof hang ’n kring

om jou tiervelhoed

die vensters van jou oë is gebreek

jou mure skilfer soos oumensvel

die torings van jou kerke

steek gate in die reënlose lug

jou ongeskraapte strate

bedel soos loopneuskinders.

Die beeld van die kerktoring wat “gate in die […] lug” steek (’n verbeeldingryke en geslaagde beeld), word ook in “Ontnugtering” (23) herhaal: “kerke is torings/ wat gate in die hemel steek”. ’n Aantal knap metafore word in die bundel ingespan, maar daar is ook enkele gevalle waar die beeldgebruik nie die mas opkom nie. ’n Metafoor soos “die vensters van jou oë” is uitgedien en hoort nie in die werk van iemand wat al drie bundels agter die rug het nie. Ook die gedig “waar vind jy taal” (45) oortuig nie, terwyl die beeld in “Onwillekeurig” (49), “met elke weggooilam se blêr/breek my kraal se drade/ soos natgereënde wol”, nie klop nie.

Die digter maak, soos in sy vorige drie bundels, gebruik van ’n sober, gestroopte aanslag. Die gedigte in hierdie bundel is eweneens deurlopend kort (soms net vier reëls) en is gestruktureer deur ’n kort daarstelling van ’n bepaalde beeld, opgevolg deur ’n fokus op die slotreël of -reëls waarin ’n verdieping of insig aangebied word. Hoewel hierdie strukturering goed werk vir gedigte oor die dood deurdat dit gelade woordgebruik en ironiserende trefkrag bewerkstellig, werk dit gaandeweg eenselwigheid in die hand, ’n kritiek wat reeds teen vorige bundels van Lombard uitgespreek is. ’n Mens kry die gevoel dat daar nie werklik groei ten opsigte van die temas en die verstegniese vaardighede plaasgevind het sedert die vorige bundels nie, en dat die verse min blyke toon van intertekstuele betrokkenheid by die groter poëtiese diskoers.

Skadu oor die sonwyser bevat stil poësie, wat nie noodwendig negatief is nie. Die aanbod bly egter skraal. Maar verder: hierdie verse bied aan die leser geen aardskuddende momente nie; dit verskuif nie die grense nie. Inteendeel – dit is poësie wat die gevaar loop om in die vergetelheid te kan verdwyn.

Lees volledige resensie hier

Advertisements

Biebouw-resensie: Reisiger te perd deur Piet van Rooyen

48376307_0_Img2

Susan Smith

LitNet Biebouw-resensies

29/10/2014

Titel: Reisiger te perd

Outeur: Piet van Rooyen

Uitgewer: Protea

’n Perd van ’n ander kleur

Piet van Rooyen debuteer reeds in 1973 met Draak op die erf, waarna nog vier bundels en ook die bekroonde romans Die spoorsnyer (1994) en Die olifantjagters (1997) die lig sien.

 

Reisiger te perd is by uitstek ’n eenheidsbundel wat perde as sentrale fokus het. Die werkwyse van skryf en die samestelling van die bundel word deur die digter self aangebied in ’n ietwat buitengewone aanspreek van die leser in die voorwoord. Hierin sit hy sy werkwyse uiteen en nooi dan die leser “om saam te reis deur hierdie wye en vlammende landskap” (5). Ook die plasing van ’n bronnelys aan die einde van die bundel is ’n minder algemene werkwyse. Enersyds noop dit die leser om verder te delf in die digter se navorsing; andersyds skep dit die gevoel dat die leser ietwat aan die neus gelei word om die gedigte binne ’n voorafbepaalde konteks te lees.

Oorkoepelend word die perd as “die teken van onrus en geweld” (14, na Vergilius) en die “edel perd” (62) aangebied, die draer van die ridder wat as bewonderde en seëvierende held in die gevegsituasie optree.

Plasing binne die wêreldletterkunde maak van die bundel ’n historiese dokument en ’n weerspieëling van sy tyd en van die persepsies van daardie tyd. En dit is hierin wat die grootste krag van die bundel geleë is. Die gedigte getuig van ’n wye en indrukwekkende belesenheid en deurlopende intertekstualiteit word op vernuftige wyse met klassieke tekste en outeurs soos Voltaire, Jean-Jacques Rousseau, Leo Tolstoi, Anton Tsjechof, Joseph Conrad en selfs Virginia Woolf (om maar enkeles te noem) bewerkstellig. Terselfdertyd slaag die digter daarin om die gedigte meestal gestroop en toeganklik aan te bied, ’n helderheid wat dikwels bedrieglik kan wees. Hoewel die naamverwyings onderaan elke gedig belangrike sleutels bied tot die konteks van die gedig en as ‘t ware ’n groot verskeidenheid van stemme word wat oor die onderwerp praat, moet daar ook van die veronderstelling uitgegaan word dat die omdigting van verhale op so ’n wyse geskied dat die gedig selfstandig kan staan en die stem van die digter self hoorbaar is.

Volgens die digter word die gedigte in tydvolgorde volgens die publikasiedatum van brontekste geplaas, beginnende heel gepas by die klassieke antieke era met tekste van Homeros (900 vC) en Vergilius (19 vC), en eindigende met tekste van die eietydse Roberto Bolaño (2004) en Isabel Allende (2005). Teen die agtergrond van die klassieke riddertyd versterk die eerste aantal gedigte in die bundel onmidellik die idee by die leser van die man as ridder en held. Tipiese eienskappe van die ridderromanheld word herhalend in die gedigte teruggevind, byvoorbeeld sy krag, sy “kranige ruiterskap” (21), sy “meester”-skap (21), die “perd en ruiter albei barstens vol selfvertroue” (25), met “vele bewonderaars” (19) terwyl die ruiters “met vlae en baniere en ’n harde gejuig” (54) afgesien word voor hulle vertrek.

Daar word beklemtoon dat die man sonder sy perd eintlik niks is nie: “kaalgestroop het hy homself gelê en bekyk / beroof van sy perd en sy lans en sy swaard” (16). Hierdie beelde van manlikheid is egter nie beperk tot die “tydperk” wat die eerste gedigte representeer nie, maar word deurgetrek tot die einde. In een van die laaste gedigte sê die digter: ’n man is veel meer ’n man in die land van perde” (110) en “sonder ’n perd is ’n man nie meer ’n man nie” (72). Manlikheid word dus gelykgestel aan die heerskappy oor of besitterskap van ’n perd – ’n beeld wat deurlopend in die bundel van krag is en waardeur die verhouding tussen die ruiter en perd metaforiese dimensies verkry. Perd en man word uiteindelik uitruilbaar.

Die tema van manlikheid word deur herhaalde verwysings versterk: “manlikheid” (25); “krag” (25); “ons manne” (33); “hy met sy pluimveerhoed en sy bultende manlikheid” (39). Daarbewewens word die manlike voorkoms ook aangespreek: “die ruiter het donker oë en sy wenkbroue is ru” (25).  Eienskappe van manlikheid van perd en ruiter word met mekaar vereenselwig, terwyl die sensuele dikwels aangebied word: “poedelnaak die vier ruiters op hul poedelnaakte perde” (47), “wydsbeen” (39), “blootsrug”(36), “so bloots” (31), “wydsbeen op hul perde” (30), en “ons bene wydweg” (29).  Die herhalende aard van hierdie beelde dra by tot ’n fokus op die liggaamlikheid van die ruiter as sentrale figuur.

In aansluiting by die manlikheidsbeelding en die ridderromantematiek kom herhalende beelde van oorlog, geweld, vernietiging, wapens en die vreugde en edelheid van “die geveg” (13) in talle gedigte aan bod.  Daar word byvoorbeeld melding gemaak van die ruiter se “geweer” en sy “pistool” (25) en van “koeëls wat huil” (41). In die gedig “segeparade” (44) beskryf die digter-spreker die “windmaker-bataljon […] op hul windmaker perde”:

soos ’n grys slang met sy kronkels

dan weer soos ’n bruisende bruin rivier

al met die strate langs kom die berede soldate

die magdom troepe van die seëvierende generaal (44)

Die bevelvoerder is egter “vet en vrolik soos ’n rubberbal”, wat op ironiserende wyse met die manlikheid van die soldate gekontrasteer word.

In teenstelling met die seëvierende aantog te midde van die bewondering van die mense, word die teendeel van die ridderskap ook uitgebeeld: “die verwese infanteriesoldate / met geskeurde uniforms en koue voete” (45), “die verslane ridder” wat met ’n “geweeklaag en gekners van tande” reflekteer op die ridder se “lewe van gedurige oorlog en van sonde / die prooi van selfwaan en van jaloesie” en sy aankoms aan die “huis van die groot visserman” (16):

dáár is g’n plek vir ’n man op ’n spoggerige perd nie

wees liewer tevrede – versterk en vol moed

so kaal soos jy gebore is sal jy daar aankom

van alle pretensie en hoogmoed gestroop (16)

Die reis en die oorlog transendeer die fisiese, en word ’n verwysing na die mens se ewigheidsbestemming en sy gereedheid daarvoor. Dit is egter steeds die edelheid en inbors van die sentrale figuur wat seëvier. Aansluitend by die fokus op wapens word ook enkele verwysing na jagaktiwiteite gemaak:  die ridder wat “pyl na pyl loslaat” (74); die pa wat ’n “voorslagjagter” was, “selfvoldaan en arrogant” (53).

Die gedigte bied meestal ’n hedendaags-kontroversiële blik op vroue. In die gedig “troika” (26, na Tolstoi) word vroue beskryf as “los dames” en “vrolike vrouens”, terwyl die “drywer” “jaar na jaar” “vel en been en hare / tot beskikking van ons plesier” stel. Op satiriese wyse word vroue en perde as plesieritems en verbruikersgoedere aangebied, ’n beeld wat ’n eertydse historiese leefwyse reflekteer en waarop die gedig skalkse kommentaar lewer wanneer daarop gewys word dat hulle “reg tot binne in die poorte van die hel” ry. In die gedig “brose besittings” (33, na Charles Doughty) word vrou en perd aan mekaar gelykgestel, albei besittings van die man; sy is “die ekstra las” en “wie ’n perd of vrou besit / kan nooit behoorlik rus nie” (33); sy verg “hoë onderhoud” (33). Die vrou word dikwels uitgebeeld as ’n “wilde” “meisiekind” (29), “woes” (31) en “wildweg” (29), met  “ hare woes na agter gegooi” (31) – ’n beeld wat ooreenstemming toon met die vrou as wilde amasone. In die gedig “volledige prentjie” (71, na Lin Yutang) sinspeel die ironiserende titel daarop dat die meisie saam met die perde en koeie die mooi prentjie afrond en volledig maak, en “hoe mooi sy met die omgesing saamsmelt / met die berge en die koeie en die perde” (71), wat enersyds op ’n pastorale siening berus, maar ook degenererend gelees kan word. Aan die ander kant word die vrou ook meer as een keer met hoofse afstandelikheid aangebied. In “by die deur” (63, na Elias Canetti) rig die spreker-digter homself in die gedig op bykans gemoedelike wyse tot die leser en sy identifisering met die ridder wanneer hy na “ons eie edele ridder” en sy galante optrede teenoor “die skone dame” verwys – die patroniserende ondertone duidelik sigbaar. In die gedig “vrouekryger” (101, na Maxine Hong Kingston) word die bordjies wel verhang wanneer die vrou as kryger uitgebeeld word. Vanuit die perspektief van die vrou voel sy “wonderlik om sterk te wees” en “wonderlik om hoog te sit” in haar “mansgewaad”. Dit is egter nie as vrou wat sy seëvier nie, maar as vrou in mansgewaad – sy moet haar dus laat geld binne die norme en riglyne wat steeds manlik gesentreerd is.

Wanneer die verhouding tussen die ruiter en die perd nagegaan word, word dit meestal aangebied vanuit die perspektief van die ruiter as heerser en subjek, en die perd as ondergeskikte objek. In “hobbelperd” (21) “aanvaar die ros tog heel kalm sy meester” en in “dromer” (36, na Thomas Mann) word die baasskap van die ruiter uitgedruk in die woorde: “hy ken alreeds sy baas”. Die liefdevolle, versorgende verhouding tussen ruiter en perd word wel ook aangebied.

Tot dusver ’n enigsins versplinterde blik op die bundel. Is daar meer waarna die leser moet kyk?

Die digter waarsku self dat die wyse waarop daar gekyk moet word – ook na die gedigte – nie tot versplintering moet lei nie. In die gedig “die perdheid van perd” sê hy:

’n mens kyk mos nie soos ’n kamera

in klein stukkies vierkantige momente nie

daar is ’n spesifieke voortrol in die mate van sig

die verbeelding self wat begin tol en swaai

die denke wat die elemente bymekaarplak

en verskuiwe na die beeltenis van ’n perd

eers dan verskyn die perd vir wat hy is (48)

Die perd is uiteindelik meer as wat hy is, meer as die somtotaal van sy elemente; hy word die draer van die mens in al sy lewensmomente:

en ek moet myself knyp om te onthou wie ek is

’n reisiger van een tydvak direk na die ander

’n kind wat vooruitkyk na die gang van die lewe

’n man wat terugdink aan die poele van sy kleindae

’n spuitontein in die antieke deel van ’n stad

’n tuimeling van water wat herinneringe verbind (92)

Die bundel fokus dus nie net op die verhouding tussen en perspektief op die ruiter en sy perd soos dit deur die eeue verwoord is nie, maar wys op die transformasie van die perd tot geestelike gids vir die mens wat “hom die pad […] wys” (115) en uiteindelik lei tot “trans-spesifieke kommunikasie / tussen mens en dier” wat bestaande grense oorsteek (113):

die trans-spesifieke kommunikasie

tussen mens en dier – die ruiter en sy perd

is ’n slingerpad wat grense verbind

met ’n eindpunt aan die oorkant (113)

Die grense waarna verwys word, kan moontlik ook gesien word nie net as die grense tussen subjek en objek en die omverwerping van die objektivering van die perd nie, maar ook die opskorting van die wyse waarop daar deur die eeue na die perd (en sy ruiter?) gekyk is. Kommunikasie tussen perd en ruiter toets dus die bestaande stereotiperinge en bring ’n nuwe verhouding tot stand.

’n Uitspraak oor die bundel? Ons kan ons in die woorde van die digter die volgende afvra: “is dit wonderlik is dit goed? “ (29). ’n Knap bundel? Gewis. Leesbaar? Gewis.  Dat die bundel hom daartoe leen tot verdere ontleding, dalk vanuit ’n feministiese perspektief? Verseker. Het die bundel ’n “bruising in [die] bloed” (29 ) van hierdie leser veroorsaak? Nee.

Te veel testosteroon tussen die bladsye vir hiérdie leser se smaak.

Volledige resensie hier besikikbaar

Vos leer Grieks Afrikaans Praat

49811870_0_Img2

Susan Smith

Die Burger/Media24

24/11/2014

Titel: Fragmente uit die Ilias. Homeros

Skrywer: Cas Vos

Uitgewer:

Die Illias en Oddusseia van Homeros word allerweë as die grondslag van die Westerse letterkunde bestempel, selfs die beginpunt van wêreldletterkunde weens die groot invloed op poësie en verhaalkuns. Die werk is egter oor die algemeen onbekend aan en selfs ontoeganklik vir die gewone leser. Met hierdie vertaling van Cas Vos, Fragmente uit die Ilias, bied hy vir die leser toegang, in Afrikaans, tot hierdie klassieke wêreldletterkundige werk.

Vos se teks is egter soveel meer as ’n vertaling. Dit is ’n omdigting van die oorspronklike teks waarin die leser nie net die gedigte self nie, maar ook ’n besinning oor die prosesse betrokke by die vertaling kan vind.

Voorts maak Vos die verse toeganklik deur ’n inleidende hoofstuk waarin hy waardevolle konteks vir die tekste verskaf, byvoorbeeld die wêreldwye invloed van Homeros se werke, kwessies oor outeurskap, die plek van die Ilias en van Homeros in die Afrikaanse poësie en die wát en hóé van die Homeriese versmaat. Ook die verhaalagtergrond word ingevul, wat die werk uiters toeganklik vir die leser maak. Al hierdie navorsing word vergesel van bronnelyste wat dit vir die speurende leser moontlik maak om self verder te delf.

Die verhaal van die Ilias gaan kortliks oor die beeldskone maar ook listige Helena, vrou van Sparta se koning Menelaos,  wat deur die Trojaanse koningseun, Paris, na Troje ontvoer word. Die bloedige en uitgerekte Trojaanse oorlog is die gevolg hiervan, ’n oorlog met kosmiese implikasies waarin selfs die gode ’n rol speel. Die gode is onder mekaar verdeeld, konkel onderlangs en veg saam in die stryd deur hul goddelike gunste tussen die strydende partye te verdeel. So word die lot van gode en mense onlosmaaklik deel van mekaar. Die bekende Trojaanse houtperd vol gewapende soldate word deur die Grieke gebruik wanneer hulle toegang tot Troje wil bekom, waardeur die slagting van Troje bewerkstellig word.

Vos slaag daarin om die verse op tweërlei wyse met die leser te laat praat.

Eerstens word dit aangebied met ’n onmiddellikheid wat tot die hedendaagse leser spreek.  Die keuse van fragmente bring die leser in kontak met die historiese gebeure wat ’n intens menslike en tydlose verhaal van haat, liefde, begeerte, deernis, woede en wraak vertel.  Mag, hebsug, jaloesie en ’n asemrowende vrou is die bestanddele van die hutspot waaruit al die aksie spruit: die leser voel die hartstog aan eie hedendaagse lyf en kan met karakters van vlees en bloed identifiseer.

Aan die ander kant, ten spyte van die hedendaagse toonaard, doen die digter die klassieke, onverganklike waarde van die oorspronklike teks gestand. Die oorspronklike verhaallyn word behou, die invloed van die klankryke Grieks word benut  en Homeriese styleienskappe word sover moontlik behou.

Afrikaans praat lustig en eietyds saam in hierdie verse, waarin ons talle voorbeelde vind van soepel en dikwels humoristiese taalgebruik, byvoorbeeld wanneer Achilles se moeder hom “elke dag / met ambrosia koester, snags met vurige kole bedek” maar sy vader “spoedig ’n stokkie hiervoor … steek” (81). Op ’n keer lees ons Zeus “staan bed se kant toe” (92), dat “Achilles se nerwe … maar dun” (85) is, hoe die Trojane “afgemaai” (93) word en Alexandros “die onderspit … delf” (95). “Apollo hoor net die nagklokke en weet nie waar die bel hang nie” (86) en Hektor wil nie “met Achilles oor koeitjies en kalfies praat nie” (131).

In ’n onderhoud met Gerda de Villiers sê Vos die volgende: “Die grootste uitdaging was om Grieks te leer om Afrikaans te praat. Ek wou dit ook in digvorm doen.” Dit het Vos inderdaad reggekry. Binne die raamwerk van die Homeriese stylkenmerke lees die verse steeds gemaklik en treffend in die eenvoud daarvan:

Die Achajers skreeu soos ’n wolk spreeus of kraaie wat angstig

rondom hulle hulpelose kleintjies krys wanneer hulle ’n valk

gewaar. Die Trojane is onverbiddelik op hulle hakke. Hulle laat

hulle kragtige wapens aan weerskante van die sloot val.

Oorlog ken geen rus nie. (122)

Eg Homeries  is die verse ryk aan metafore en vergelykings. So stuur Apollo vir hulle ’n kragtige wind; dit “vlerk die wit seile oop” (91); daar is “die god wat plae soos muise / uitstuur” (86), en “selfs sterre stik in hulle verdriet” (93).

Met hierdie bundel lewer Cas Vos ’n besondere bydrae tot die Afrikaanse letterkunde en, in sy eie woorde, is “Afrikaans ’n vasmeerplek waar die Griekse skip met sy Ilias aan boord ’n tuiste op Afrikaanse bodem kan vind” (39). Die Ilias het hiermee inderdaad toeganklik geword en in Afrikaans aan wal gegaan.

Die lywige bundel (160 bladsye) is pragtig afgewerk met talle illustrasies op die voorplat en in die teks – ’n versamelstuk op enige boekrak.

Artikel hier beskikbaar

Gifkaroo – voorteks maak vuis

untitled

Gifkaroo – voorteks maak vuis

Susan Smith

LitNet Biebouw Resensies

02/08/2013

Titel: Gifkaroo

Skrywer: Etienne van Heerden

Slegs 100 kopieë van Gifkaroo is gedruk. Dit is nie te koop nie. Lees die Engelse weergawe – Poison Karoo – hier.

Gifkaroo is ’n vuishou op die krop van jou maag. Dit laat jou rou.

Dít is die eerste gewaarwordinge ná die lees van Gifkaroo, Etienne van Heerden se voorteks vir sy roman, Klimtol, wat in September 2013 by Tafelberg Uitgewers verskyn.

Die beperkte oplaag van 100, genommer en geteken en onpretensieus gebind in bruin karton, is ’n protesteks teen die voorgenome breking in die Karoo wat aan gesaghebbende persone en partye gestuur is. Dit is letterlik die vinger wat teen die muur skryf, wat die waarheid en die leuen uitwys. Die Engelse vertaling in dieselfde band is gedoen deur Isobel Dixon, bekroonde Engelse digter wie se gedigte oor die Karoo ingesluit is in haar bundels The Tempest Prognosticator (2011), A Fold in the Map (2007) en Weather Eye (2001) waarvoor sy die Olive Schreiner-prys ontvang het. Die uitgawe word aangevul met ’n foto deur Obie Oberholzer, bekend vir fotografie wat vir jare reeds die Karoo en sy mense vaslê.

Gifkaroo volg dieselfde werkwyse as ’n vroeëre kortverhaal, Die gas in Rondawel Wilhelmina (1995), wat jare gelede as voorteks vir die roman Kikoejoe (1996) gedien het.Gifkaroo en Klimtol sluit aan by ’n lang lys tekste in Van Heerden se oeuvre waarin die Karoolandskap ontgin word, byvoorbeeld die onlangse Haai Karoo (2012), 30 Nagte in Amsterdam (2008), Asbesmiddag (2007), In stede van die liefde (2005), Die stilte na die boek (2004), Die swye van Mario Salviati (2000), Kikoejoe (1996), Die gas in Rondawel Wilhelmina (1995), Die stoetmeester (1993), Casspirs en campari’s (19991), Liegfabriek (1988), My kubaan (1983), Toorberg (1986) en Matoli (1979).

In Gifkaroo maak die leser kennis met die ou man Ludo Loeloeraai, op sy dag klimtolkampioen van die Groot Karoo, op ‘n bedevaartsreis na die Karoo-fonteinplaas met die soet water uit sy kindertyd, die plek wat hy ken soos die palm van sy hand. Sy reis na die fonteinplaas word ook ’n reis na die verlede, na sy kindertyd saam met sy pa, die waterfiskaal, die tyd van sy vernuf en handvaardigheid met die klimtol toe hy die rooibaadjieman was wat “speel” verhoog toe gebring het – maar ook ’n reis na homself as kartonman en die verlies van liefde. In die beperkte ruimte van enkele bladsye slaag Van Heerden daarin om die ou man “met oë wat al blouer raak”, sy verlange na sy verlore liefde, sy hunkering na die Karoo en die “onderaarde” (9) – die “ingedagte, private plek, daardie plek van water” (7) – en sy konfrontasie met homself voor die leser se oë lewend te maak.

In die mond van die meesterverteller Van Heerden word die Karoo ’n lewende wese; in die tradisie van die ekokritiek ’n objek wat tot subjek gemaak word – ’n karakter in die teks. Die Karoo “kug”, “suig”, “snak […] na asem”, is “ingedagte”, kan sy “asem intrek”, selfs “verdriet” toon (6) – menslike eienskappe wat aan die niemenslike landskap toegedig word. Die tradisionele grense tussen menslik en niemenslik word opgehef en die landskap vertoon dinamiese eienskappe wat die antroposentriese mens-in-die-middel–beskouing omverwerp. So is dit met Van Heerden se Karoo-as-karakter, ’n aspek wat reeds in talle vroeëre romans geaktiveer is.

VOLLEDIGE RESENSIE

Toevallige tekens is ‘n aangename speurtog

toevallige-tekens

Toevallige tekens is ‘n aangename speurtog

Susan Smith

LitNet Biebouw Resensies

2011-02-22

Titel: Toevallige tekens

Skrywer: Martjie Bosman

Uitgewer: Protea

ISBN: 9781869194000

Prys: R127.50

’n Belangrike digbundel wat aan die einde van 2010 verskyn het, is Martjie Bosman se Toevallige tekens. Die bundel verskyn sewe jaar na haar debuutbundel, Landelik, wat met die Ingrid Jonker-prys bekroon is. Die belofte wat met die eerste bundel gemaak is, word in hierdie bundel voltrek.

Met die invalslag suggereer die bundeltitel en pragtige buiteplat alreeds ’n interessante speurtog vir die leser op die spoor van allerlei tekens. Op die eerste vlak verwys die bundeltitel na die musikale terminologie van toevallige tekens, soos mineur- en majeurtekens, molle en kruise wat ’n verandering in die dominante toonsoort van ’n musiekstuk aandui. Dit word direk voor ’n noot of note geskryf en verander dan net daardie spesifieke noot of note se toonaard. Die implikasie is dat deur die kyk en raaksien van toevallige, vervlietende tekens van skoonheid die toonaard van emosionele belewing verander word, die neerdrukkende gelig word. Die gedekonstrueerde eendagskoon op die voorplat dien as teken van skoonheid, maar dui ook op die vervlietende aard van skoonheid; dit is ’n voorlopige teken vir al die variante van die blom wat aangetref word, soos “eendagskoon” (27) en “dagbreekroos” (48), maar ook van ander blomme, voëls en natuurgegewens.

Tekens verwys egter na veel meer: dit sluit seisoenale tekens in, tekens in die natuur (veral voëls), tekens as simbole wat vir iets anders staan, tekens van ’n bepaalde landstreek, tekens as verskynsels, en ook taal as teken. Dit word ingespan as vooruitwysing na en voorspeller van die toekoms, maar ook as spoor en oorblyfsel van die verlede. Ook die negatiewe aard van tekens word ontgin: tekens van verval, ellende, politieke onvermoë en rampspoed, en die invloed daarvan op persoonlike vlak.

Deur die motto, ’n aanhaling uit Tristia van Van Wyk Louw, tree die digter reeds in gesprek met aspekte van die taal as teken en betekenis en die ontoereikendheid van menslike taal om die werklikheid en verganklikheid onder woord te bring. Die magteloosheid van taal word sterk verwoord in gedigte soos “Mosambiekse vlugteling 1” en “Mosambiekse vlugteling 3”, waar verbrokkeling van normale taalstrukture plaasvind en die digter wys op die tale wat “tussen ons faal” (22). Hierteenoor word die krag van taal uitgedruk in “Die seun met die sere aan sy been” (17), waarin die seun genesing vind deur die woorde: “I will speak/ to this leg.”

Die programgedig “Op die spoor” (11) voorsien die sleutel vir die res van die bundel: die soektog na “’n duidelike woord”, ’n “metafoor” waarmee die tekens in die natuur beskryf kon word, waarmee nie net die “verrotte stomp” en die “dooie bulkalf” beskryf kan word nie, maar ook die miere en bruin kewers, die waterhiasint en die “kiewiet” en sy weerkaatsing in ’n poel.

VOLLEDIGE RESENSIE

In dié rymteskip van René so baie: ‘n resensie van In die niks al om van René Bohnen

in_die_niks

In dié rymteskip van René so baie: ’n resensie van in die niks al om van René Bohnen

Susan Smith

LitNet Biebouw Resensies

2012-06-14

Titel: In die niks al om

Skrywer: René Bohnen

Uitgewer: LAPA Uitgewers

ISBN: 9780799348835

Prys: R120.95

Ek weet dat daar tans gesprekke aan die gang is rondom die gebruik al dan nie van ’n inhoudsopgawe in ’n digbundel en of dit voor- of agterin die bundel moet verskyn. Poësie laat haar egter nie so voorskryf nie. Wat vir die een bundel reg is, is nie noodwendig reg vir die volgende nie. Ek hou van ’n aanloop – ek is gefassineer deur die paratekstuele gegewens en die konteks-skeppende rol wat dit speel in betekenisgewing van ’n bundel. Dus verkies ek om by die begin te begin: die voorblad.Die visuele impak van René Bohnen se bundel stuur ’n boodskap lank voor die bundel oopgeslaan word en is in samehang met die bundeltitel rigtinggewend vir die verstaan van die bundel. Bepaalde lesersverwagtinge word geskep wat spanning teweegbring tussen die buiteblad/bundeltitel en die teks terwyl daar van die leser gevra word om die paratekstuele gegewens aan te vul en as intrinsiek deel van die teks te lees. Die lotusblom en koi-visse plaas die bundel in die middel van die filosofiese konteks van Zen-Boeddhisme, waardeur die oorwegend rooi en amber kleure ’n definitiewe Oosterse karakter verkry.

Die lotusblom word geassosieer met reinheid en progressie van die gees, terwyl die Boeddha dikwels uitgebeeld word waar hy op ’n lotusblom sit. Die lotusposisie, ’n kruisbeensit-posisie, word in meditasie gebruik met die doel om die mediteerder by te staan om kalmte van gees en uiteindelike verligting te bereik. Ook die koi-vis speel ’n belangrike rol in die Oosterse filosofie. Dit is een van die agt beskermende simbole en verteenwoordig vryheid, krag en uithouvermoë. Die lettertipe van die titel dra by tot die Oosterse gevoel van die buiteblad. Dit skep die indruk van vinnige, vloeiende kwashale wat in ooreenstemming is met die bekende en tradisionele Zen-sirkel in gekwaste ink, gewoonlik op sy of ryspapier (in ooreenstemming met die agtergrond van die buiteblad), en uitgevoer in een vloeiende beweging, sonder dat die hand gelig word. Hierdie verftegniek wys, volgens die Zen-kultuur en -kalligrafie, op die uitdrukking van die oomblik wanneer die gees in beweging gebring word.

Die Zen-sirkel, of ensō (Japannees vir sirkel), is simbolies vir absolute verligting van die gees en druk ook krag, elegansie en die heelal uit. Die sirkel is die oomblik wat die intellek vry en leeg word sodat die gees/liggaam skeppend kan optree. Zen-Boeddhiste glo dat die karakter van die kunstenaar ten volle ontbloot is in daardie oomblik waarin die ensō geskep word. Die onegalige onvolmaaktheid van die sirkel suggereer die onderliggende wysheid van die onvolmaakte, onvoltooide en tydelike van alle dinge, maar terselfdertyd ook die strewe na die perfekte en die uiterste toestand van een-wees en eenheid wat groei vanaf ’n toestand van meervoudigheid.

Teen hierdie agtergrond is die herhalende gebruik van die sirkelmotief regdeur die bundel betekenisgewend – trouens, die sirkel kan as sentrale simbool gesien word. In “sjamaangrot” (13) sê die spreker-digter:hoe flikker hulle in my hande as ek in sirkels binne sirkels binne sirkels die oerpad vat.

VOLLEDIGE RESENSIE

Reis met vreugde saam in ‘n bundel wat onthou kan word

52dbf440ff32800f316c0a9e

Reis met vreugde saam in bundel wat onthou kan word

Susan Smith

Die Burger

19/01/2014

Titel: Atlas teen die vergeetrivier

Skrywer: Pirow Bekker

Uitgewer: Protea Boekhuis

Prys: 120.00

Pirow Bekker lewer reeds oor die afgelope 40 jaar ’n bydrae tot die Afrikaanse letterkunde, voorwaar ’n prestasie wat getuig van ’n deurwinterde en gevestigde digter. Sy agtste digbundel, Atlas teen die vergeetrivier, het onlangs by Protea verskyn en vorm ’n drieluik saam met Stillerlewe (2002) en Van roes en amarant (2008). Tematies sluit die nuwe bundel by die drieluik aan deur onderwerpe oor die dood, ouderdom, liefde en die natuur te ondersoek.

Die treffende bundeltitel ontsluit ’n breë mitologiese verwysingsraamwerk wat regdeur die bundel ontgin word. “Atlas” tree vir eers op as direkte verwysing na die Titaanse mitologiese figuur van navigasie en astronomie wat ook vir sy uithouvermoë bekend was. Anders as die algemene wanopvatting, dra Atlas nie die aardbol nie, maar die hemelse sfeer op sy skouers. Bekker benut egter eersgenoemde as sentrale gegewe in sy bundel.’n Verdere betekenismoontlikheid van “atlas” as ’n versameling kaarte word eweneens ontgin, wat die reistema en die tema van plek aktiveer.

In die vernuftige openingsgedig noem die spreker-digter homself die “ou reisiger” wat vra: Rus dié ou reisiger net een keer toe / met die krag van ’n Titaan, ’n mak Atlas / wat sy bevoelde aarde op sy skouer lig / en oor sy hangbrug dra. Die reis neem die reisiger-digter oor die Leterivier, een van vyf riviere van Hades, die onderwêreld of die vergetelheid, wat volgens die mitologie elkeen wat daarvan drink, van sy aardse bestaan sal laat vergeet. Brugbou en oorgange as tema speel ’n sentrale rol, soos getuig uit die afdelingtitels, “Die aard van brûe”, “Verbrande hebbelikhede”, wat slaan op die brand van brûe en die laaste afdelingtitel, “Vlugbrug”.

In die pragtige gedig, “Om ’n brug te slaan” sê die digter: “ ’n Brug moet geaard wees / soos die eerste bome / wat wolkekrabbers geword het – / […]/ en nuut uit die wortel uit / na ’n hemel reik.”Die digter is uiteindelik besig om met woorde sy wêreld te karteer en daardeur ’n brug te bou waardeur die verlies van geheue van die lewe hier en nou afgeweer kan word. Dit word ’n poging om steeds met verwondering na die wêreld te kyk, “steeds verwonderd […] /oor jou nugter maag [te vryf]”, om “op my minste nog / van ly na loef [te] laveer”.Benewens die mitologiese onderbou en verdere metaforiese benutting van die atlasgegewe, word intertekstualiteit voorts bewerkstellig deur verwysings na talle digters, onder wie Jonker, Van Wyk Louw, Opperman, Eybers, Boerneef en Malherbe – “aan almal, wat voorgegaan het”.

Kenmerkend van Bekker is sy uitgebreide gebruik van satire: in die tweede afdeling word daar met die politiek en die maghebbers die spot gedryf (“Klimmers”); die wyse waarop die mens met die natuur omgaan kom onder skoot (“Golfsekuriteitsoord”); kommentaar word op taalgebruik gelewer (“Woordskroot” en “Woordweë”) en die algemene beheptheid met media-ikone word gesatiriseer (“Op Juvenalis se panem et circensis”). Liefdesgedigte kom aan die bod in die afdeling “Die wêreld het nog te veel oor vir jou” en die pragtige liefdesgedig “Ingewing” trek veral die aandag. In “Kopatlas” word op ’n besonder sensitiewe wyse die verhouding tussen pa en seun belig. Daar is ongelukkig ook ’n paar gedigte wat minder geslaagd is en nie die aandag gevange hou nie. “Vandag”, “Oudisie”, “Sublimaat”, “Lyfspel”, “Sensorraat” en “ ’n Marsman laat na” is maar enkele voorbeelde van gedigte wat afbreuk doen aan die geheel. Sommige van die satiriese gedigte verloor hul skerp snykant deur die gebruik van ’n volkse, byna gedwonge poësie en geykte uitdrukkings.

In die geheel gesien is Atlas teen die vergeetrivier egter ’n bundel wat onthou kan word. Die leser kan met vreugde die reis na hierdie digter se “bevoelde aarde” meemaak. – Susan Smith is hoof van die departement Afrikaans, Universiteit van Fort Hare.