Broosheid van die blou hier opgeteken

Broosheid van die blou hier opgeteken

Deur Neil Cochrane 30 Januarie 2017 11:01

Die aarde is ’n eierblou ark

Susan Smith

PROTEA, R160

In dié tweede digbundel van Susan Smith is daar ’n bemoeienis en bekommernis oor die aarde.

Weens Homo sapiens (wyse man?) se vergrype word ons planeet daagliks weerloser. Dit is nie meer ’n groen planeet nie, maar ’n eierblou een.

In ’n onderhoud noem Smith dat blou op broosheid dui, ’n assosiasie wat deur die bundel se oorheersend blou omslag versterk word. Blou is ook die kleur van oseane, ’n ekogebied wat Smith deurlopend verken en met motiewe soos water, visse, bote en strande in verband bring.

In “Credo van die vibrerende materie” beskou Smith die aarde as moederfiguur (bl. 36):

ek glo dat die Aarde aan haarself behoort

sy, en al waaruit sy is

dat sy Moeder is

van al die voortdurend vibrerende dinge

In die slotstrofe bevestig sy haar verbintenis met ’n onvervangbare Moeder Aarde:

Ek is een met haar en hare

daar is net hierdie een aarde.

Die voorblad is gegrond op een van Smith se skilderye, getiteld “Netwerk” (2016), wat visueel beklemtoon dat mens en aarde aan mekaar verbind is. Die mens se verhouding met die aarde is egter nie so eenvoudig nie. Die mens is allermins Moeder Aarde se spogkind en sy verhouding met haar getuig dikwels van selfsug, vernietiging en geweld. Ons is probleemkinders wat sukkel om met ons moeder te kommunikeer (bl. 59):

die alfabet van mense

praat nie mét die aarde nie

maar daarván

In ’n aantal gedigte soos “aantog van die afkappers”, “renosterveld” en “albatros” ontmasker Smith die mens se vernietiging van die omgewing.

In “lewensiklus van die rara avis” (bl. 75) bestempel die spreker op ironiese wyse afvalmateriaal en petroleum as indringerspesies wat die natuurlike habitatte van voëls en visse oor-neem. Die Latynse benaming rara avis, wat vreemde of skaars voël beteken, versterk die ironiese perspektief op omgewingsbesoedeling.

Die spreker gebruik woorde soos “lewensiklus” en “eindhabitat” ironies, want ons assosieer dit met natuurlike spesies en nie met kunsmatige afvalstowwe nie. In die derde en vierde strofe wys die spreker op die allesoorheersende mag van petroleum wat alle lewensbronne oorneem. Petroleum is nie slegs ’n vreemde spesie nie, maar ook die enigste spesie wat oorbly. Dié versmorende situasie word slim deur die weglating van woordspasies aangetoon:

jyisdievoël

jyisdievis

jy

is

die

rare

water

jy drink die lug

Benoeming en optekening speel ’n belangrike rol in die bundel. Die gedig “Carl Linnaeus skryf neer” (bl. 84) handel oor die Sweedse natuurkundige Carl Linnaeus wat vorendag gekom het met ’n moderne stelsel om diere en plante te klassifiseer. Ondanks sy sistematiese optekening van baie spesies, kon Linnaeus nie alles oor fauna en flora uitpluis nie.

DIT IS NIE SLEGS DIE NATUUR-WETENSKAPLIKE SE TAAK OM OP TE TEKEN NIE, MAAR OOK DIE DIGTER S’N.

Dit is nie slegs die natuurwetenskaplike se taak om op te teken nie, maar ook die digter s’n, soos die bundelmotto uit Pablo Neruda se “Memory” aandui:

I have to remember everything,

keep track of blades of grass, the threads

of all untidy happenings

Dit is ’n rol wat Smith as ekosensitiewe digter ernstig opneem.

In “eierblou ark” (bl. 12) word die aarde met ’n knikkerneut vergelyk “waarin die groeibegin van woorde sit”. Die aarde verteenwoordig die oeroorsprong van taal en die ruimte waaruit alle poësie ontkiem. Dit is die ideale planeet vir digters om “daagliks silwer woordspane/deur sterstof te stuur”.

Deur die optekening van haar natuurwaarnemings verrig die digter ’n bewaringsdaad en vorm haar gedigte oor spesies en natuurverskynsels deel van ’n ekologiese nalatenskap.

Dié gedagte kom sterk ter sprake in die gedig “ark” (bl. 89) waarin die spreker “paar-paar uit Linnaeus se drie naamryke/vergaar”, sodat sy uiteindelik al haar kennis “te water laat/in ’n gevlegde boot van gras en taal”. Hierdie is ook ’n metafoor vir die digkuns, want die diere- en planteryk is ook ’n taalryk wat digters in hul verse bewaar. Die blote opnoem van die spreker se geliefkoosde natuurdinge is op sigself poësie:

kamassie-soet kleinpypgras en harsgeurige

kasuur   die ligweergewende

skubbe van rivierspringers

strepies en seisoenale besoekers

die halfmaan-skoenlappervis

In “velddagboek” (bl. 68) beskryf die spreker die boekstawing van veldspesies as “ ’n oopmaak van aanwesigheid” en “die asem van name”. Die digter gee via taal ’n andersoortige bestaansreg aan die veldplante wat sy in haar velddagboek opteken. Die spreker kies juis om die pragtige Afrikaanse volksname soos “boetabessie” en “knophout” te gebruik, want digters is ook taalbewaarders. Haar velddagboek is meer as ’n kennisbron, maar ook ’n konkrete rekord van haar bestaan as omgewingsbewuste digter:

dit is die plante waarvan ek weet

dit is waar my asem was

Smith is ook ’n ywerige notamaker in die intiemer ruimte van haar tuin. In “vyf kanttekeninge van ’n tuindagboek” (bl. 78) gaan dit om haar verwondering aan en waardering vir ’n aantal tuinspesies – die jangroentjie, hadeda, geraamteplant, mikstertbyevanger en kiepersol. Hiermee sluit Smith mooi aan by die Byderhand Tuinverseprojek in die NWU Botaniese Tuine en die tuinverse in Marlene van Niekerk se Kaar (2013).

Susan Smith lewer met haar tweede bundel ’n betekenisvolle bydrae tot omgewingsbewuste poësie in Afrikaans.

Sy waarsku teen vernietiging, sonder om te preek.

Sy verwonder haar aan die natuur, sonder oppervlakkige sentiment. Meer nog, sy inspireer jou om die klein stukkies poësie in jou eie tuin raak te sien.

Neil Cochrane doseer Afrikaanse letterkunde aan Unisa.

Advertisements