Reis met vreugde saam in ‘n bundel wat onthou kan word

52dbf440ff32800f316c0a9e

Reis met vreugde saam in bundel wat onthou kan word

Susan Smith

Die Burger

19/01/2014

Titel: Atlas teen die vergeetrivier

Skrywer: Pirow Bekker

Uitgewer: Protea Boekhuis

Prys: 120.00

Pirow Bekker lewer reeds oor die afgelope 40 jaar ’n bydrae tot die Afrikaanse letterkunde, voorwaar ’n prestasie wat getuig van ’n deurwinterde en gevestigde digter. Sy agtste digbundel, Atlas teen die vergeetrivier, het onlangs by Protea verskyn en vorm ’n drieluik saam met Stillerlewe (2002) en Van roes en amarant (2008). Tematies sluit die nuwe bundel by die drieluik aan deur onderwerpe oor die dood, ouderdom, liefde en die natuur te ondersoek.

Die treffende bundeltitel ontsluit ’n breë mitologiese verwysingsraamwerk wat regdeur die bundel ontgin word. “Atlas” tree vir eers op as direkte verwysing na die Titaanse mitologiese figuur van navigasie en astronomie wat ook vir sy uithouvermoë bekend was. Anders as die algemene wanopvatting, dra Atlas nie die aardbol nie, maar die hemelse sfeer op sy skouers. Bekker benut egter eersgenoemde as sentrale gegewe in sy bundel.’n Verdere betekenismoontlikheid van “atlas” as ’n versameling kaarte word eweneens ontgin, wat die reistema en die tema van plek aktiveer.

In die vernuftige openingsgedig noem die spreker-digter homself die “ou reisiger” wat vra: Rus dié ou reisiger net een keer toe / met die krag van ’n Titaan, ’n mak Atlas / wat sy bevoelde aarde op sy skouer lig / en oor sy hangbrug dra. Die reis neem die reisiger-digter oor die Leterivier, een van vyf riviere van Hades, die onderwêreld of die vergetelheid, wat volgens die mitologie elkeen wat daarvan drink, van sy aardse bestaan sal laat vergeet. Brugbou en oorgange as tema speel ’n sentrale rol, soos getuig uit die afdelingtitels, “Die aard van brûe”, “Verbrande hebbelikhede”, wat slaan op die brand van brûe en die laaste afdelingtitel, “Vlugbrug”.

In die pragtige gedig, “Om ’n brug te slaan” sê die digter: “ ’n Brug moet geaard wees / soos die eerste bome / wat wolkekrabbers geword het – / […]/ en nuut uit die wortel uit / na ’n hemel reik.”Die digter is uiteindelik besig om met woorde sy wêreld te karteer en daardeur ’n brug te bou waardeur die verlies van geheue van die lewe hier en nou afgeweer kan word. Dit word ’n poging om steeds met verwondering na die wêreld te kyk, “steeds verwonderd […] /oor jou nugter maag [te vryf]”, om “op my minste nog / van ly na loef [te] laveer”.Benewens die mitologiese onderbou en verdere metaforiese benutting van die atlasgegewe, word intertekstualiteit voorts bewerkstellig deur verwysings na talle digters, onder wie Jonker, Van Wyk Louw, Opperman, Eybers, Boerneef en Malherbe – “aan almal, wat voorgegaan het”.

Kenmerkend van Bekker is sy uitgebreide gebruik van satire: in die tweede afdeling word daar met die politiek en die maghebbers die spot gedryf (“Klimmers”); die wyse waarop die mens met die natuur omgaan kom onder skoot (“Golfsekuriteitsoord”); kommentaar word op taalgebruik gelewer (“Woordskroot” en “Woordweë”) en die algemene beheptheid met media-ikone word gesatiriseer (“Op Juvenalis se panem et circensis”). Liefdesgedigte kom aan die bod in die afdeling “Die wêreld het nog te veel oor vir jou” en die pragtige liefdesgedig “Ingewing” trek veral die aandag. In “Kopatlas” word op ’n besonder sensitiewe wyse die verhouding tussen pa en seun belig. Daar is ongelukkig ook ’n paar gedigte wat minder geslaagd is en nie die aandag gevange hou nie. “Vandag”, “Oudisie”, “Sublimaat”, “Lyfspel”, “Sensorraat” en “ ’n Marsman laat na” is maar enkele voorbeelde van gedigte wat afbreuk doen aan die geheel. Sommige van die satiriese gedigte verloor hul skerp snykant deur die gebruik van ’n volkse, byna gedwonge poësie en geykte uitdrukkings.

In die geheel gesien is Atlas teen die vergeetrivier egter ’n bundel wat onthou kan word. Die leser kan met vreugde die reis na hierdie digter se “bevoelde aarde” meemaak. – Susan Smith is hoof van die departement Afrikaans, Universiteit van Fort Hare.

Advertisements