“Landskapverinniging” as sentrale motief in die gedig “tesis in gestapelde sillabeversteuring oor ingebedheid” in die bundel Mede-wete (2014) van Antjie Krog

“Landskapverinniging” as sentrale motief in die gedig “tesis in gestapelde sillabeversteuring oor ingebedheid” in die bundel Mede-wete (2014) van Antjie Krog

 

Landscape endearment as central motive in the poem “tesis in gestapelde sillabeversteuring oor ingebedheid” in Mede-wete (2014) by Antjie Krog

 

(Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(4-2), Desember 2016)

Susan Smith

Department of Afrikaans, University of Fort Hare, East London campus E-pos: ssmith@ufh.ac.za

 

 


OPSOMMING

In hierdie artikel word daar ondersoek ingestel na die wyse waarop die slotgedig van die bundel, “tesis in gestapelde sillabeversteuring oor ingebedheid” in die bundel Mede-wete (2014) van Antjie Krog, sentraal staan tot die ekopoëtiese tematiek en werkwyse van ingeplaast-heid wat deurlopend in die bundel na vore kom. Daar word ook na enkele ander verband houdende gedigte in die bundel verwys.
Benewens die ooglopende sentrale tema van mede-menslikheid, mede-deelsaamheid en medemens-wees wat deur die bundeltitel geaktiveer word en waarop resensies (Taljard 2014, Van Vuuren 2014, Hambidge 2014 en Jacobs 2015) van die teks oorwegend gefokus het, tref Visagie (2015:229) in sy resensie-artikel onderskeid tussen die veelvuldige sinapse, oftewel “verbindings” of “samevoegings” wat ten grondslag van die bundel lê, waaronder ook verbindings met die niemenslike omgewing. Die Ander, wat implisiet deur die bundeltitel geaktiveer word, is ook die aarde en dié wat van die aarde is. Daar sal aangetoon word dat Krog ook in hierdie gedig en bundel die grense ophef tussen die menslike en die niemenslike en dat die gedig voorspraak maak vir ‘n verinniging in verhoudings tussen alle materialiteite, beide menslik en niemenslik.
Die teoretiese raamwerk waarbinne ek hierdie gedig ondersoek, is dié van die ekokritiek en ekopoësie waarin daar na die verhouding en interaksie tussen die mens en sy omgewing gekyk word. Aan die hand van ‘n aantal kernbegrippe van die ekokritiek, naamlik vervlegting, transliggaamlikheid, die vreemde vreemdeling en vreemdmaking, ingeplaastheid, deelnemende verbeelding en diffraksie, word daar gefokus op mede-natuur en mede-omgewing en die wyse waarop dit in die slotvers funksioneer.

Trefwoorde: Antjie Krog, Mede-wete, Synapse, ekokritiek, ekopoësie, ingeplaastheid, vervlegting, deelnemende verbeelding, diffraksie, transliggaamlikheid, materialiteit, vreemde vreemdeling


ABSTRACT

This article investigates the way in which the closing poem, “tesis in gestapelde sillabe-versteurings oor ingebedheid” in the volume of poetry, Mede-wete (2014) by Antjie Krog becomes central to both the ecopoetic theme and the methodology of emplacement which permeates the text.
The central themes of co-humanity, sharing, co-connectivity and co-existence (mede-menslikheid, mede-deelsaamheid and medemens-wees) which are activated by the title, have been the focus of a number of previous investigations (Taljard 2014, Van Vuuren 2014, Hambidge 2014 and Jacobs 2015). The title allows a multi-referential interpretation which includes the nonhuman environment (as indicated by Visagie 2015:229), an aspect which specifically resonates in the last section of the text and in the closing poem. Visagie comments on the multiplicity of synapses, or connections and junctures which are central to the text, also indicating how the translated title of the text, Synapse (2014) emphasises the ideas of conjunction and bridging between two objects.The Other, who is implicitly activated by the title of the Afrikaans text, also includes nonhuman beings and non-living things. This article explores how in the selected text and poem, Krog suspends boundaries between human and nonhuman bodies through an inter- and intra-active modus operandi through which transcorporeality and exchange and interchangeability of roles occur.
The obvious meta-textual nature of this section and the intense involvement with language becomes a modus operandi to create “verinniging” (closeness, endearment), not only in the knowing/knowledge of a fellow human being, but also by means of co-being and co-existence within the landscape and natural environment.
The long title of the poem includes the word “ingebedheid” (embeddedness, emplacement), in which aspects of co-corporeality and trans-corporeality are already implicated. It closely relates to the theory of emplacement (Buell 2005:65; Smith 2012b:901), described in the Oxford Dictionary as “a structure on or in which something isfirmly placed” and in ecocritical terms defined as being immersed in the physical materiality of place which requires a sensory, emotive and intellectual consciousness from the poet, a so called in-the-body experience (Smith 2012b:902). It also requires attachment to place and alliance to place with the poet.
The theoretical framework for the discussion of the poem is ecocriticism and ecopoetics. By using a number of central ecocritical concepts, entanglement, transcorporeality, the strange stranger and estrangement, emplacement, participating imagination and diffraction, the article focuses on the co-nature and co-environment and the way in which these key concepts function in the final poem.

Keywords: Afrikaans poetry, Antjie Krog, Mede-wete, ecocriticism, ecopoetry, emplacement, entanglement, participating imagination, diffraction, transcorporeality, materiality, strange stranger


 

 

INLEIDING

Die slotgedig in die bundel Mede-wete (2014) van Antjie Krog, “tesis in gestapelde sillabeversteuring oor ingebedheid”, vorm deel van ‘n afdeling met die titel, “vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing” (opgedra aan Jakes Gerwel). Tereg noem Andries Visagie hierdie gedigreeks “manjifieke slotverse” (2015:232) weens die reikwydte en allesomvattende tematiek en maak melding van Krog se “verbluffende omgang met taal” (2015:233). Die bespreking van die slotgedig kan bykans as ‘n vertrekpunt gesien word vir die besinning oor verwante kwessies in die res van die bundel. Die gedigafdeling vorm in velerlei opsigte’n grondslag vir die lees van die bundel, soos ook gesuggereer word deur die bundeltitel van die vertaalde teks, Synapse (2014, vertaal deur Karen Press). Dit veronderstel ‘n poging tot sinapsvorming, oftewel samebinding en die opsporing van samebindende faktore deur die digter met die ander/ Ander wat buite die self teenwoordig is. Die woord sinapse verwys na die “senuselbrug”, oftewel die aansluitingspunt tussen senuselle (Pharos Afrikaans-Engels Woordeboek 2005:1416), ‘n minimale gaping waartussen impulse en boodskappe deur middel van neuronoordrag moet spring. Sinapse is dus die plekke van kontak en oordrag van senuboodskappe, wat die emotiewe en liggaamlike broosheid van oordrag beklemtoon.

Krog skryf vervolgens vier gedigte in hierdie reeks, “in gebreke bly binne-aars”, “sillabe-sinaps in die noord/suid-kompas”, “ESSAY-ABSTRAKTE re: SINAPS” en “tesis in gestapelde sillabeversteuring oor ingebedheid”.

Die motto-gedig van hierdie gedigreeks kan gelees word as ‘n werkskode om die daaropvolgende gedigte in die slotafdeling te interpreteer:

die oopboor van verstopte sillabes die verstelling

van ‘n uitgebrande tweeklank die afsaag

van medeklinkers ‘n volgehoue plaakafbeiteling

van klinkers sodat erbarmlose verstokte woorde gedaag

word skielik kan lug instroom ‘n nuwe geluid

benader vreemd sal die nuwe taal moet lê uitasem

en omgee omgewend apartwees dood begin sê

in die haat wat so bloedgrondritmies dawer (111)

In die motto-gedig stel Krog ‘n vernuwende werkwyse in die vooruitsig: sy wil die “verstopte sillabes” “oopboor”, ‘n “verstelling maak aan “‘n uitgebrande tweeklank” en medeklinkers “afsaag”. Die opdrag van die afdeling kan in hierdie verband saamgelees word en aktiveer die meertalige en polifoniese aard van die gedigreeks, waardeur die lewe en werk van Jakes Gerwel in herinnering geroep word. Benewens die feit dat Gerwel ‘n bekende anti-apartheidsaktivis was, was hy ook ‘n gerespekteerde akademikus wat homself veral met die konsep van meertaligheid bemoei het. Taalfokus en -variasie, vertaling en uiteindelikheid “mede-taligheid” word die voertuig waardeur mede-belewing en mede-bestaan uitgedruk word.

Krog is met kragtige, aktiewe, alles-insluitende taalvernuwing besig. Dit sal ‘n taal wees wat “omgee omgewend apartwees dood begin sê” (111). Die woord “omgewend” in hierdie gedig dui eerstens op kwessies rondom menswees en medemenswees, dit dui op begrip en “omgee” vir mekaar, vir die Ander – dus, om deur die bemiddeling van taal ‘n mens te wees wat “omgewend” word, nie apart van die ander nie, tussen ander, ook in die omgewing van ander. Hierdie aspek sluit aan by een van die sterkste deurlopende motiewe in Krog se oeuvre, naamlik die verhouding tussen mens en mens, kleurkwessies, die gevolge van apartheid en saam- en medebestaan in hierdie land. Mede-bestaan en mede-menslikheid word alreeds in die bundeltitel veronderstel. Dit plaas ‘n soeklig op die gebrek aan “wete” van mekaar, die insig in of gebrek daaraan wat ons van mekaar se wêrelde het, ons saambestaan op dieselfde plek, en ons mede-deelsaamheid al dan nie.

Soos Jacomien van Niekerk (2014) tereg in haar resensie opmerk, aktiveer die meerduidige bundeltitel ook die woord “gewete”, waardeur die introspeksie en aandadigheid van die Afrikaner binne die breë sosiale konteks onder oë geneem word. Terselfdertyd word van die veronderstelling uitgegaan dat die mens ook ‘n “gewete” behoort te openbaar teenoor die niemenslike omgewing en wesens waarin die mens hom bevind. ‘n Verdere aktivering is die woord “weet” of “wete” – om kennis te dra van.

Daar is egter ‘n tweede betekenis in die woord “omgewend” wat in die bundel geaktiveer (en ‘n sinaps wat opgespoor) word, naamlik dié van “omgewing” – met inbegrip van plek en grond (as ‘n uitgebreide bundeltema) – waarop hierdie artikel wil fokus, en wel hoe dit in die geselekteerde gedig aan bod kom. Die fokus op die mede-natuur en mede-omgewing word gedoen aan die hand van ‘n aantal kernbegripppe in die teoretiese raamwerk van die ekokritiek, waaronder vervlegting en transliggaamlikheid, die vreemde vreemdeling en vreemdmaking, ingeplaastheid, deelnemende verbeelding en diffraksie. Hierdie terme lê ten grondslag van die ekokritiese diskoers waarin die kultuurprodukte, in hierdie geval die literêre tekste, ondersoek word aan die hand van die wyse waarop dit die verhouding tussen die mens en al die organismes van die natuurlike wêreld wat hom omring, uitdruk.

In ‘n vorige artikel (Smith 2012a:512) definieer ek ekopoësie onder andere as “die beweging wat spruit uit die spanning waar die verhouding tussen mens en natuur ‘n kruispunt bereik” en daar gepoog word om “die sistematiese samehang en ordening van die geheel uit te druk, dikwels deur die destabilisering van die gedig”. Die destabilisering van die gedig hou direk verband met die tegniek van sillabeversteuring wat Krog in die slotgedig aanwend. Sillabeversteuring kan dus inherent as destabiliseringstegniek gesien word, wat daarin slaag om die leser op ‘n nuwe manier na die gedig en die omgewing te laat kyk en vooropgestelde idees oor skoonheid en natuur omverwerp deur nuwe verbande te skep, ook deur die opheffing van grense tussen skoonheid en nieskoonheid, en tussen natuur en kultuur. Die ekogedig fokus op die menslike kreatiewe skryfaksie waarin die fisiese omgewing van die mens en sy verhouding met alles wat hom omring, ondersoek word. Ekopoësie is uiteindelik konneksie: dit is ‘n manier om met die omringende wêreld in verbinding/verbintenis te tree deur middel van taal.

Om die sinapse of verbindings wat in die bundel en in die slotgedig gevorm word te ondersoek, neem ons ‘n tree terug en werp eerstens ‘n blik op die visuele aanbod van die buiteblad.

 

DIE VISUELE SINAPS VAN DIE BUITEBLAD

Die leser word deur die kunswerk van Otobong Nkanga met die titel “Social Consequences” op die buiteblad (versprei oor die voor- en agterplat) paratekstueel voorberei op die belangrike rol wat plek, aarde, grond en grondbesit in sosiale verband en dan ook in die bundel speel. Paratekstualiteit, kortliks, is ‘n term wat gemunt is deur Gérard Genette in sy teks, Paratexts: thresholds of interpretation (1997:1-2), waarmee bedoel word die addisionele inligting, insluitende die buiteblad, wat die teks omring en wat bydra tot die interpretasie van die teks. In die geval van Krog, wat benewens digter ook ‘n bekende openbare figuur is, speel die parateks dus ‘n bydraende rol tot die interpretasie van die teks. Die kunswerk beeld twee pertinent manlike figure uit (met ‘n prominente uitbeelding van die geslag) wat besig is om twee stukkies aarde te manipuleer. Die manlike figure, wat bykans spieëlbeelde van mekaar is, is koploos (by implikasie sonder rede) en beskik elk oor verskeie pare arms wat die werk moet doen. Die uitoefening van krag deur die veelvuldige arms word die enigste rede en logika: dit vervang die logika van helder denke en deurdagte optrede en dui op brutale, instinktiewe krag. Daar word tougetrek, wat ‘n sug na mag en oorheersing en besitterskap oor die aarde/ grond/land suggereer. Die stukke aarde pas in ‘n brose web van tou (nog ‘n sinaps-beeld) en kan op enige oomblik kantel, of soos ‘n woer-woer gespin word, terwyl die rooi tou steeds die brose verbondenheid en gebondenheid tussen die twee figure maar ook tussen die figure en die aarde bevestig. As opponente is hulle egter onherroeplik spieëlbeelde van mekaar.

Die leser word in die tersaaklike slotgedig, “tesis in gestapelde sillabeversteuring oor ingebedheid” gekonfronteer met hierdie lang titel wat aansluit by die bykans akademiese benadering wat reeds sigbaar is in die titel van die gedigreeks, wat voortgesit word in die derde gedig, “ESSAY-ABSTRAKTE re: SINAPS” en in die tersaaklike gedig ‘n hoogtepunt bereik. Drie kernterme bied hulself in die titel aan: “tesis”, “gestapelde sillabeversteuring” en “ingebedheid”.

 

“GESTAPELDE SILLABEVERSTEURING”

Die opstapeling van ‘n lang lys van taalvariante, samestelling, nuutskeppings en afwykings word deur die digter ingespan as ‘n manier om die “verstopte sillabes” “oop te boor” (111) en die grense van taalstrukture uit te daag. Dit dien as ‘n sinapsopsporing – ‘n wyse om morfologies en semanties nuwe verbintenisse op te spoor en te aktiveer, terwyl die opstapelingstegniek letterlik die herhalende, immer bewegende en voortstuwende aard van beide taalkonstruksie en betekenisverruiming beklemtoon. Interessant genoeg tree die kragdadige “oop [ ] boor” van “sillabes” intertekstueel in gesprek met Loftus Marais se lugdrukboorbeeld uit die gedig “Die digter as rockstar” in Staan in die algemeen nader aan vensters (Marais 2009:40), waarin korte mette gemaak word met Van Wyk Louw se “beiteltjie” in die gedig “Die beiteltjie” (Brink 2009:161).

Die woord “sillabeversteuring” veronderstel bepaalde veranderinge of versteuringe wat doelbewus ingespan word om wyer betekenismoontlikhede of -afwykings tot stand te bring. Die sillabeversteurings, vervormings, klankomwisselings en samevoegings dui op deelnemende betekenisskepping en deelnemende verbeelding in die Krog-gedig. Dit dui op die proses waardeur die digter die “vibrerende” moontlikhede van die konkrete taal (taal as materie) op so ‘n wyse benut dat dit afwyk van die norm. In die bundel vind verskeie toespelings op Paul Celan (bekend vir sy kreatiewe en onortodokse taalaanwending) plaas, waaronder dan ook die verset teen gesag, die bemoeienis met die Ander en eksperimentering met taal. Die eerste gedig in die afdeling begin juis met ‘n aanhaling deur Celan waarin sy eie spel met taal en sillabewisseling voorkom, waardeur die aanvanklike betekenis van “estrange” verruim en selfs omvergewerp word om die teenoorgestelde van die oorspronklike betekenis in te sluit, bedoelende dat die kennis jou te binne moet gaan – ‘n bewustelike proses van inname en binnetoe-wending, selfs ingebedheid, wat terselfdertyd vervreemding teweegbring:

Instrange yourself, /deeper. (112)

Die fokus op ingang binne die self, en daarmee gepaardgaande vervreemding, word deurlopend in die bundel aangetref:

om te ver-jy (112, r46-47)

So ook veral die volgende:

as jou gesig begin sterrefiseer

                                         bomefiseer

                                                         halmkleurig leeuefiseer (112, r49)

Hierdie kragtige werkwoord-nuutskeppings dui op meer as ‘n uitreik na die natuurlike wêreld; dit dui op ‘n wordingsproses en op materiële uitruil. Dit wys op eenwording en transliggaam-likheid waardeur normale liggaamlike grense getransendeer word; dus liggaamlike transfor-masie deur middel van taaltransformasie – ster word, boom word, leeu word. Dit vorm sinapse regdeur die bundel, tot in die slotgedigreeks: “vergras vermier verwolk verswartwitpens // Kabbo landskapverinniging enkelmensvel-opgee-end” (117).

Taalversteurings en -vreemdmaking is deel van ‘n groter konsep van vervreemding en vreemdelingskap van die self wat nie net in die slotgedig nie, maar deurlopend in die bundel plaasvind. Dit gaan gepaard met ‘n toenemend ander/Ander-wordende en allesinsluitende ervaring van die digter. Sy stel die “metodologie” daartoe voor, naamlik dat sy die ander – haar “verbonde verbande” – “moet […] bly pla” om te “ontsnap uit die enkele mond van w(a) onde”; sy moet dus voortdurend bemoeienis maak met alles en almal waarmee sy verbind is, om die wonde en mure wat afsondering, enkeltaligheid en enkel-benoeming (“enkele mond”) teweegbring, te ontsnap. Waarop gehoop word, is ‘n “vrymakende kantelduik” (119, r33), “die salige sillabe opstygend vanuit enkel ha(o)ltes”, die “vrymaak-verslinding na veelvoud” waardeur die digter tot “uiteindelike kwalitatiewe diskoers” “aflosbaar” word – beide oplosbaar in en omruilbaar met die materie wat haar omring. Veelvoudigheid en veeltaligheid word as doelwit gestel; daardeur bereik die digter ‘n staat van betrokkenheid en vervlegting; dus die daarstelling van ‘n elementêre opposisie van enkel teenoor mede-; en van een- teenoor veelheid.

 

VERVLEGTING

Verwikkeling en vervlegting van lettergrepe en sillabes bring vervlegting met die omgewing mee. Karen Barad praat van “entanglement” as “[m]atter and meaning [that] are not separate elements” (Barad 2007:3) as gevolg van hul vervlegte intra-verhouding (Barad 2007:ix) en die herdefiniëring van realisme, waardeur die Cartesiese subjek/objek-onderskeiding uitgedaag word. Om te “sterrefiseer”, te “bomefiseer” of te “leeuefiseer” fokus op die materialiteit van beide menslike en niemenslike liggame en die bewussyn van die liggaamlikheid van alle materie. Die agentskap van realisme is uiteindelik nie die teenwoordigheid van onafhanklike realiteite nie, maar die gevolge, ingrypings en kreatiewe moontlikhede van intra-aksie daarvan in die wêreld. Die vervlegting waarvan Barad praat, vind weerklank in Stacey Alaimo se konsep van transliggaamlikheid (Alaimo 2008:238), wat gedefinieer kan word as die kartering van die vloei van materie en diskoers regoor menslike en niemenslike liggame. Grense tussen die materiële liggame word hierdeur geherdefinieer. Dit lei tot vrae soos: waar eindig die mens? Waar begin die boom? Hoe is ons deel van mekaar? Die “mede-lug” en die “asemhaalmekaar” (2014:57) wat die digter aan bod stel, dui op die verskuiwing en opsegging van tradisionele grense. Die digter voel haar bewus van die skeidslyne wat al dunner word – die “aflosbaar”-heid (119, r55) van alle dinge (oplosbaar en vervangbaar, omruilbaar), die “dun danheid” (r54) (wesenlikheid) van “eweningspunt en newel-aar”, die punt of skeidslyn waar die ewewig van dinge na enige kant kan kantel. Op soortgelyke wyse word die grense van taal as kommunikasiemiddel uitgedaag deur die digter:

… ek praat leeu [ ] ek

sneeu ek [ ] hoor die boom teen die saag skreeu – onverleë

die einde van liedletsels en die begin van getweë

asem (r42-45)

Die digter bewerk transliggaamlikheid deur die vermoë om in die taal van die dier te kommunikeer (leeuefisering), om tot sneeu te transformeer en die aksie daarvan uit te voer, om die boom te hoor (bomefisering). Die asem van die digter word getwyn, dus, soos drade ineengevleg, met die asem van alle ander dinge – ‘n vervlegte transliggaamlike interaksie tussen alle menslike en niemenslike liggame en materiële uitruil van elemente, om alles en almal tot “soomloses te vernu” (r51) en letsels te heel.

Die materialiteit van liggame, beide menslik en niemenslik, lewend en nielewend, wat in die gedig op die voorgrond gestel word, is ‘n meervlakkige konsep. Dit veronderstel “‘n dig verstrengelde en meervoudige weefsel wat sowel sosiolinguistiese konstruksies en kulturele verteenwoordiging (die diskursiewe praktyke) as die materialiteit van ekologiese verhoudings en ervaring insluit. Materie veronderstel ‘n terrein van kennis en aksie waar materiële formasies ontstaan; dus, menslike en niemenslike liggame wat in samehang en vervlegting met mekaar optree” (Smith 2014:755).

Die fokus op materialiteit is deel van ‘n internasionale teoretiese beweging wat die nuwe materialisme en die objekgeoriënteerde ontologie insluit, laasgenoemde veral bekend gemaak deur die werk van Timothy Morton, waaronder Ecology without nature (2007) en The ecological thought (2010). In ‘n vorige artikel som ek die nuwe materialisme soos volg op:

Nuwe materialisme as teoretiese raamwerk sien die natuur nie as ‘n passiewe sosiale konstruksie nie, maar eerder as ‘n bemiddelende krag wat interaksie met en verandering van ander elemente teweegbring, insluitende die mens. (Smith 2012b:892)

Materie kan gesien word as ‘n meervlakkige konsep wat die materialiteit van sowel die menslike as die niemenslike en nielewende liggame insluit. Dit bring ‘n klemverskuiwing mee vanaf ‘n passiewe geobjektiveerde beskouing van die niemenslike wêreld na ‘n beskouing wat fokus op ‘n lewende, vitale materialiteit waarby die mens interaktief betrokke is en waarvan hy deel is.

Die waarde van teorieë oor materialiteit en objekgeoriënteerde ontologie lê vir die ekokritiek daarin dat die antroposentriese posisie van die mens bevraagteken en omvergewerp word. Grense van materialiteit, insluitende die menslike materiële liggaam, word geherdefinieer.

 

DIFFRAKSIE EN DEELNEMENDE BETEKENISSKEPPING / DEELNEMENDE VERBEELDING

Diffraksie word deur twee ekokritici, Karen Barad en Donna Haraway ondersoek en beide beskryf diffraksie as ‘n lees- en skryfmetodiek wat op fisiese fenomene gebaseer is, ‘n deelnemende breuk of skeuring in die lineariteit van individuele elemente se eienskappe (Barad 2003:803). Barad sien diffraksie as die teenoorgestelde van refleksie; volgens haar is laasgenoemde slegs ‘n herhaling op ‘n ander plek, terwyl diffraksie elemente op ‘n nuwe wyse in patrone (Haraway 1997: 33) kombineer wat nuwe eksperimentele voorwaardes tot stand bring. Deelname geskied intra-materieel: materie-betekenis en dus materie-diskoers, wat die mens insluit, word geproduseer. Om te weet, is volgens Barad om op direkte wyse met materie betrokke te raak, om te besef dat subjekte en objekte verweef is met mekaar en dat objektiwiteit ook te make het met ‘n verantwoordelikheid teenoor die verweefdhede waarvan ons deel is. Diffraksie is dus op ‘n manier om die representasie van die werklikheid te hanteer: die verwagte lineariteit van oorsaak en gevolg word omvergewerp deur nuwe patrone wat interaksie, ingryping en bevestiging opteken.

In die gedig ter sake kan diffraksie waargeneem word wanneer ‘n breuk in die verwagte lineariteit van die gedig plaasvind wanneer bestaande perspektiewe opgehef word. Taal, as ‘n stel vooropgestelde konsepte wat ons benadering tot die werklikheid beïnvloed, word deur ingryping (van die digter) verander en verruim, waardeur die verwagte lineariteite opgehef word. Deur te “leeuefiseer”, te “bomefiseer” en te “sterrefiseer” word die taal/woord as blote representasie van die werklikheid gebuig om interaksie, intra-aksie en ‘n nuwe materie-diskoers tot stand te bring. ‘n Nuwe “allesherstellende begrip / van boomwees” (r21-22) kom tot stand. Die onderlinge verweefdhede van materie word in berekening gebring en deelnemende kennisskepping, wat nuwe ervaringsmoontlikhede inhou, is die gevolg.

Die deelnemende en aandaggewende aard van die mens se bestaan, soos veral verwoord deur David Abram se seminale teks, Becoming Animal (2010), sluit by bogenoemde aan. Abrams lê klem op die sensuele realiteit van die aarde, “the directly sensed world [which] is still explained by reference to realms hidden beyond our immediate experience” (Abram 2010:5). Hy verwys veral na die domein van dendriete, neurongeleiers en sinapse, tot by die mees verborge subatomiese ruimtes van kwarke, daardie komponente van atomiese nuklei en fundamentele boustene van alle materie, wat hy sien as “the deepest source and truth of the apparent world” (2010:5). Die aarde, “earth”, behoort volgens Abram eerder “eairth” te wees, waarin die woord “air” ingebed is – “i” of “I”, vir “self”, want lug is geheel deel van aarde, net soos die self, wat ten volle ingebed is in die vloeibare element lug (2010:101). Hiermee bedoel Abram dat aarde en lug deel uitmaak van die geheel wat die mens omring, en waarvan die mens ook deel is. Die liggaam van die mens is veel minder self-ingeslote en -afgeslote as wat dit ‘n ruim is waarin diverse materie op subatomiese vlak konvergeer: “[t]he body is a place where clouds, earthworms, guitars, clucking hens, and clear-cut hillsides converge, forging alliances, mergers, and metamorphoses” (Abram 2010:229):

opwarrelend ontmoet ek dele van myself

in wolke waar ek lankal reeds duikel as asem (102)

Die metamorfiese aard van die menslike liggaam (soos ook alle ander dinge) word op die voorpunt gestel – “shapeshifting” genoem deur Abram (2010:229) – deur te “bomefiseer”, te “leeuefiseer” en te “sterrefiseer”; deur “landskapverinnigend” te “vergras vermier verwolk verswartwitpens”, en daardeur die “verbonde verbande” van “veelwees” ervaar. ‘n Bykomende vooropstellingstegniek, die v-alliterasie, versterk die verbandlegging tussen die nuutskeppings, waardeur die mens uiteindelik deelnemend word, deur middel van deelnemende verbeelding:

die inverbeel in ‘n bosbakermat die heilig nooit-

gehoorde te beskryf nuwe woorde moet download (92)

om woordondeurswerfbare bome te tolk (92)

Hierdie frase sluit aan by die poging tot begrip wat deurgaans in die gedig op die voorgrond gestel word. Om “bome te tolk” suggereer iets van die spreker se drang, nie net om bome te verstaan nie, maar ook uit te lê wat die bome, as “ander”, sê.

 

DIE VREEMDE VREEMDELING

In die proses van taaltransformasie en sillabeversteurings word beide taal en mens al vreemder. Vreemdmaking sluit ten nouste aan by die vreemde vreemdeling -konsep van Timothy Morton. Morton sê:

Strange stranger names an uncanny, radically unpredictable quality of life-forms. Life-forms recede into strangeness the more we think about them, and whenever they encounter one another – the strangeness is irreducible. Ecological philosophy that does not attend to this strangeness is not thinking coexistence deeply enough. (Morton 2011:165)

Die vreemde vreemdeling is volgens Morton die dier waarvan die vreemdheid sodanig is dat die dier nie deur die mens verabsoluteer en gedefinieer kan word nie; die mens kan nie die dier van ‘n etiket voorsien nie want die mens kan nooit die dier ten volle begryp nie. Net so met ander vorme van niemenslike dinge: as die digter praat van “bomefiseer” (49), is sy besig om die “allesherstellende begrip / van boomwees molmneutig mosbassig” (118, r22) aan te gryp, om haar “boomlinggeliefdste” en die “bloedgreep wat tussen sy wortels begrawe / lê” “aflosbaar” (dus, oplosbaar/vervangbaar) met haarself te sien. Die grense en beperkinge, die etikettering van wat boomwees beteken, word oplosbaar en vervangbaar; dit word uitruilbaar met die digter terwyl die digter algaande self die vreemde vreemdeling word. Sy is nie meer haarself nie; algaande word sy die vreemde Ander. Hoewel daar geargumenteer kan word dat die digter se strategie van “bomefiseer” en haarself “aflosbaar” van/met die natuur sien, juis kennis, innigheid en liefde en dus minder vreemdheid bewerkstellig, moet daarop gewys word dat die vreemde vreemdeling-konsep van Morton juis ook die bekende insluit wat toenemend onbekend word.

Die sillabeversteurende aard van die gedig en die volgehoue spel daarmee in die bundel is ‘n sleutel wat nie net taalverruiming en transformasie deur taalvervreemding uitdruk nie, maar op ‘n verdere vlak veral werk met die uitdaging van konsepte van enkelheid teenoor mede-bestaan, van Self teenoor Ander, van lewend teenoor nielewend en van menslik teenoor niemenslik. Uiteindelik daag dit ook die grense van materialiteit uit.

Die tweede kernterm in die slotgedig is “tesis”.

 

DIE GEDIG AS TESIS

Die slotgedig neem die vorm aan van ‘n tesis met inspeling op die navorsingsvoorstel wat voorgele word deur ‘n voornemende nagraadse student by die aanvang van sy of haar studies. Die gedig bied die onderafdelings van ‘n navorsingsvoorstel aan deur die subtitels (in skuinsdruk en hakies) van die onderskeie strofes. Daar word onder andere aandag gegee aan die tipe navorsing wat gedoen moet word (kwalitatief of kwantitatief) (“die onkwantifiseer-bare”, (r1)), die navorsingsvraag (“die kritieke vraag”, (r8)), definiëring van kernbegrippe (“definiërings van onderlinge verbinding”, (r19)), metodologie (“vraag oor metodologie”, (r29)), die navorsingstelling (” ‘n verontrustende postulaat”, (r32)) en die teoretiese begronding (“teorie anderkant die sogenaamde aard van denke”, (r41)). Die digter neem die proses verder deur voorsiening te maak (in die twee laaste subtitels) vir die verwagte diskoers (“uiteindelike kwalitatiewe diskoers”, (r52)) en moontlike interpretasie (“voorspraakmakende interpretasie”, (r59)) wat op die navorsing volg. In alle gevalle word die subtitels in hakies geplaas, wat wys op ‘n voorlopige aard van die waarnemings en neerpen van die “tesis”. Dit sluit ten nouste aan by die idee dat die woord tesis die betekenis dra van ‘n voorlopige postulaat, ‘n stelling wat reg of verkeerd bewys moet word deur die navorser.

Dit word vir die leser duidelik dat hierdie gedig as ‘n raamwerk gelees kan word vir die hele bundel en dat die kerntemas van die bundel hier aangespreek word. In die eerste strofe wil die digter ‘n filosofiese agtergrond daarstel, naamlik “die ontologie van ansigbaarheid” (r2). In die woord “ansigbaarheid” skuil die verwysing na Kant se siening van “das Ding an sich”, oftewel die ding/fenomeen in die natuurlike wêreld soos dit op sigself bestaan en die feit dat dit nie ten volle deur menslike sensasie geken kan word nie (Kant 2007). Deur sillabeversteuring word die woord onsigbaarheid in “ansigbaarheid”omskep, wat eweneens kan sinspeel op aansig en sigbaarheid, en daardeur beide sigbaarheid en onsigbaarheid aktiveer, wat spanning tussen die kenbaarheid al dan nie, van die omringende werklikheid bewerkstellig. Voorts betrek die woord ook die kyker, vir wie dit moontlik word om te kyk en te probeer ken en herken. Die digter leer geleidelik om die ontologie (wordingsleer, wysgerige leer oor die syn) van onsigbaarheid te lees en om daardeur “onsekerheid” (r4) en “allenighede” (r5) en selfs “die gryp van mortaliteit” (r6) te ontwyk. Dit doen sy deur “heelhei(l)dswordende vibrasies” (r4) en “op(p)erlug” (r5). Die eensaamheid en onsigbaarheid van die mens (en sy “wees”) word die hoof gebied (tot “onfinaliteit” (r7) gemaak) deur lug – wat nie net oop is nie, maar ook die opperheerser is – en vibrasies wat beide heelmakend en heilsaam is. Die werkwoorde “wordende” en “wees” plaas die gegewe binne die ontologiese konteks wat in die eerste strofe veronderstel word en word verder gevoer in “midde-syn” (r10), “word-deurwarde” (r13-14), “wesenheid” (r25), “veelwees” (r26), “wesende gewordendes” (r27), “is” (r42) – al die taalpermutasies van wees. Ook hier dra die alliterasie by tot die trefkrag van onkonvensionele taalgebruik.

Wat gesuggereer (en onkwantifiseerbaar) is in die eerste twee strofes, word in die derde strofe by die naam genoem: die verbintenis van die mens aan die natuur, naamlik “berg” (r9), bome (r20-22, 43, 56), “leeu” (r42), “sneeu” (r43), “jasmyn” (r45), “wimpelvlerknaguile” (r49), “koedoe” (r55), “ster” (r58) en “duiwe” (r64). Die digter sê:

:die berg strik die kleur van gestoofde pienkgeprikte kweper

in ons midde-syn (118, r8-9)

Die digter bevraagteken uiteindelik, in die strofes met die subtitel, “(die kritieke vraag)”, (wat inspeel op die navorsingsvrae van die tesis), haar emosionele reaksie (“onkodeerbare pyn”(r10)), haar vervoering met en behoefte tot uitreik en deelname en deel ‘n skrams hou uit na die “inhomse filosowe”, waardeur beide die plaaslike (inheemse) sowel as manlike geïmpliseer word.

In die volgende strofe, met die subtitel, “(definiërings van onderlinge verbinding)”, bou die digter voort op die akademiese formaat van die gedig. Die toonaard is egter nou emosioneel gelade en onakademies. Sy breek weg van die formele teoreties-wetenskaplike gegewe van die eerste twee strofes deur hierdie uiters liriese beskrywing van plek. Die blik verskuif na die persoonlike vlak van die digter as die self deur die herhaling van “my”, waardeur sy haar sterk persoonlike verbintenis tot die natuurgegewe bevestig. En daarmee word die tema van ingeplaastheid betrek, met die fokus op gedeelde besit/belewing, geaktiveer deur “ons middesyn”. As “definisie” oorskry hierdie strofe die formele en feitelike van definiëring; dit word ‘n loflied aan bome en klip en sterre:

jirre my takkerasie my boomlinggeliefdste –

hoe sjarmantogig waak jou allesherstellende begrip

van boomwees molmneutig mosbassig (118, r20-22)

Ook in die opvolgende reëls word die sterk eenheidsbelewenis van beide “ek” en “jy” met die omgewing as teenvoeter vir “allenighede” belig, en die digter voel die “wesenheid” (bestaanswese) van haarself en die mense om haar ingeslote, ingebed, “ín” die natuur, moontlik as fragment of splinter (splint = “skerp afgesplitste stukkie hout”, Odendal en Gouws 2005:1080):

en iets wat voorlopig bloedbeeks splint

ek is daar ín

én jy jy’s opgeraap tot die radiogolwe van wesenheid

ook besig om veelwees te huidig om heelsaamheid

van al ons wesende gewordes […] (118, r23-26)

Die woord “huidig” as ‘n volgende sillabeversteuring (met die betekenislae van “huldig” en “huidig”) veronderstel ‘n omarming en viering van die “veelwees”, in die huidige moment. Die digter speel ook in op die woord “huid” as vel (van menslike en niemenslike wesens), wat eweneens kan dui op oppervlak of begrensing, wat die leser bewus maak van die arbitrêre aard van hierdie grens. Die ingeslotenheid (ingebedheid) van almal saam ín die natuur, lei tot “heelsaamheid” (heelheid/heelwording, heilsaamheid en samesyn) van die “ons”.

Vervolgens word ‘n werkwyse daargestel in “(vraag oor metodologie)”: die digter dui aan dat sy die omringende wêreld sal “bly pla” – ‘n werkwyse wat dui op herhaalde bevraagtekening van die bestaande orde. Dit bring haar by ‘n “verontrustende postulaat”, naamlik die hoop op vrywording (“vrymakende kantelduik”, “snikstase / van die vrymaak-verslinding”) en ‘n wonderwerk (“mirakelmakendheid”) wat “hoop” (herhaling in reël 33 en 39) en verbinding moet bring. Dat dit verontrustend is, bevraagteken nogeens die hoop op ‘n positiewe uitkoms.

In die volgende afdeling, “(teorie anderkant die sogenaamde aard van denke)” rig die digter haar opnuut tot konsepte van samesyn, van mede-wesenheid en soomloosheid tussen materiële liggame. Die deelnemende materiële verbeelding van die digter skep ‘n mede-wete met die lewelose en niemenslike dinge wat haar omgewe. Dit plaas prosesse van voortdurende verskuiwende verhoudings tussen wees en fisiese konteks op die voorgrond, hetsy die fisiese materialiteit van mense, plek of lewende en nielewende liggame waardeur die digter uiteindelik toetree tot die “kwalitatiewe diskoers” (subtitel) tussen wesens.

Die slotafdeling van die gedig, “(voorspraakmakende interpretasie)” skets egter ‘n realiteit wat “wegstammel” (stamel, strompel, van die stam wegbeweeg) van die hoopvolle verbeeldingscenario’s wat tevore deur die digter tot stand gebring is. Dit keer terug na die werklikheid van mense wat “ontkannend” en “botmakend” is, wat “haatdorwend” en net op die self aangewese, vol “handgooiende hatery” – wat die hoop op mede-wesenheid ontken. Die slot is ‘n bykans wanhopige oproep of voorspraak tot mede-wetendheid, tot mede-lewing en mede-wees met alle mense en met alle lewende en nielewende liggame waarmee die mens omgewe is.

 

“INGEBEDHEID”, “LANDSKAPVERINNIGING” EN INGEPLAASTHEID

Die woord “landskapverinniging” word gevind in die voorlaaste gedig van die siklus (117). Hierdie samestelling tussen landskap+verinniging suggereer ‘n emotiewe verbintenis (sinapsvorming) tussen mens en landskap/natuur, terwyl die woord “ingebedheid” sinoniem is met ingeplaastheid en die hele teoretiese agtergrond van ingeplaastheid oproep.

Die term ingeplaastheid word gedefinieer in terme van die fisieke materialiteit van plek wat ‘n sensoriese, emotiewe en intellektuele bewussyn van die digter verg, ‘n sogenaamde binne-die-liggaam ervaring (Smith 2012b:902). Dit vra eweneens om ‘n bepaalde plekverbondenheid en plekgehegtheid van die digter. Ingeplaastheid aktiveer al drie die dimensies wat Lawrence Buell (2005:63) aan plek toeken, naamlik die materiële, fisiese ingeplaastheid van die digter (en uiteindelik ook die leser) in ‘n spesifieke plek; tweedens suggereer dit die verband en persoonlike kontak van die digter met plek en derdens maak die term ook voorsiening vir ‘n “taalbewuste skryfaksie, waardeur taal as sosiale waarnemings- en konstruksie-instrument ingespan word” en waardeur die sosiale dimensie van taal geaktiveer word (Smith 2012b: 902). Ingeplaaste skryf behels ‘n aktiewe en sensoriese bewussyn van die digter vir die plek waar sy haar bevind; ‘n bewussyn van die plek wat die liggaam fisies in beslag neem, die spesie-spesifiteite van die materiële liggame wat haar omring.

Buell noem plek ‘n “spatial container” (2005:63) waardeur die suggestie van behouering uitgedruk word. Eweneens het ingeplaastheid, en daarmee saam “ingebedheid”, ook te make met hoe die digter taal as raamwerkskeppende instrument inspan om ingeplaastheid te bewerkstellig. Sowel materiële as linguistiese, sosiale en persoonlike ingeplaastheid vorm die agtergrond waarvan die digter haarself nie kan losmaak nie, ‘n ingeplaastheid wat opnuut erkenning gee aan die materialiteit en sentraliteit van die menslike liggaam binne die totaliteit van sy omgewing. Want die konteks van plek sluit ook in die menslike konteks en liggaam, die sosiale en kulturele kontekste van plek (die komplekse Suid-Afrikaanse landskap, almal wat daarin woon en hul verhoudings met mekaar) en die taal-spesifieke kontekste, waarbinne die taalverruimende aanbod van die digter werksaam is.

Wat Buell pleksensitiwiteit noem (Buell 2005:66) en wat vra om ‘n bewussyn van die fisiese plek, is ewenseens van toepassing op plek- en omgewingsensitiwiteit ten opsigte van die verbeelde plek, die omgewing van die bewussyn. Wanneer die digter bewustelike verbindings en vervlegting, uitruil en interaksie skep tussen haarself en die materiële liggame waaruit plek bestaan, soos bome en sterre en uile, vind dit plaas ingebed in die groter konteks van behorende tot, omsluit in, omring van, maar ook manifesteer dit uiteindelik as verbeelde plek, ‘n deelnemende materiële verbeelding, “iets méér as invoelende verbeelding méér as erbarming” (r35) wat uitreik en aanhits en voorspraak maak vir ‘n soomlose vernuwing van denke en optrede, tussen mense, en veral ook tussen spesies en tussen alle materiële liggame.

 

SLOT

‘n Bewussyn en verwoording van die interaksie en selfs die hunkering na eenwording tussen die mens en sy omgewing is reeds in vorige bundels van Krog merkbaar, soos byvoorbeeld uitgewys in ontledings (Smith 2015:1-24) van die gedigte “Vier seisoenale waarnemings van Tafelberg” en “rondeau in vier dele” in Verweerskrif (2006), waarin die fokus op die materialiteit van alle dinge, menslik en niemenslik, en materiële uitruil ter sprake was. Met die bundel Mede-wete bevestig Krog haar omvattende blik op die omringende werklikheid en die samehang van alle dinge. Die relasionaliteit tussen menslike subjek en omgewing kan egter nie sonder meer tot eendimensionele eenheidsbegeerte gereduseer word nie. Die onderliggende spanning tussen verskil en die hunkering na omvattende en samehangende gehele, tussen mens en mens, en tussen mens en omgewing, is deurgaans sigbaar.

Mede-wete strek soveel verder as net die konteks van mede-menswees. Dit omsluit al die liggaamlike dimensies van plek, naamlik die fisiese, die sosiale en die taalkundige. In die gedig “tesis in gestapelde sillabeversteuring oor ingebedheid” lewer die digter kommentaar op die verweefde intra-aktiewe, transliggaamlike wêreld waarin die mens leef – een materiële liggaam in samehang en vervleg met al die materiële liggame wat ons omring en bied sy ‘n raamwerk of postulaat waarbinne daar na die werklikheid gekyk kan word.’n Ideologie van apart-wees en selfs antroposentries in-die-middel-wees, maak plek vir ‘n voorgestelde ideologie van wisselwerking, insluiting, vervlegting en mede-afhanklikheid – van mede-bestaan en mede-wete.Die digter bied ‘n alternatief wat vernuwing kan bewerkstellig, ‘n verinnigende verhouding met alle materiële liggame wat die mens omring en waarvan hy deel is.

 

BIBLIOGRAFIE

Abram, D. 2010. Becoming Animal. An Earthly Cosmology. New York: Pantheon.         [ Links ]

Alaimo, S. 2008. Introduction: Emerging models of materiality in feminist theory. In Alaimo & Hekman (eds). 2008:1-22.         [ Links ]

Alaimo, S. & S. Hekman (eds). 2008. Material feminisms. Bloomington: Indiana University Press.         [ Links ]

Barad, K. 2003. Posthumanist Performativity: Towards an Understanding of How Matter Comes to Matter. SIGNS, 28(3):801-831.         [ Links ]

Barad, K. 2007. Meeting the Universe Halfway: Quantum Physics and the Entanglement of Matter and Meaning. Durham, N.C.: Duke University Press.         [ Links ]

Brink, André P. (red.). 2008. Groot Verseboe kDeel 1. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Buell, L. 2005. The Future of Environmental Criticism. Environmental Crisis and Literary Imagination. Oxford & Malden: Blackwell Publishing.         [ Links ]

Genette, G. 1997. Paratext: Thresholds of Interpretation. Translated by J.E. Lewin. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Hambidge, J. 2014. Mede-wete (Antjie Krog). Woorde wat weeg. Internet. http://joanhambidge.blogspot.co.za/2014/11/antjie-krog-mede-wete-2014.html [13 Julie 2016].         [ Links ]

Haraway, D. 1997. Modest_Witness@Second_Millenium: FemalMan_Meets_OncoMouse: Feminism and Technoscience. New York & London: Routledge.         [ Links ]

Jacobs, I. 2015. Resensie: Mede-wete (Antjie Krog). Tydskrif vir Letterkunde, 52(2):235-237.         [ Links ]

Kant, I. 2007 [1781]. Critique of Pure Reason. Translated by M. Weigelt. London: Penguin Books Ltd.         [ Links ]

Krog, A. 2014. Mede-wete. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Krog, A. 2014. Synapse. Translated from Afrikaans by Karen Press. Cape Town:Human & Rousseau.         [ Links ]

Marais, L. 2009. Staan in die algemeen nader aan vensters. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.         [ Links ]

Morton, T. 2007. Ecology without nature. Cambridge, Massachusetts & London: Harvard University Press.         [ Links ]

Morton, T. 2010. The ecological thought. Cambridge, Massachusetts & London: Harvard University Press.         [ Links ]

Morton, T. 2011. Here comes everything. The promise of object-oriented ontology. Qui Parle, 19(2): 163-190.         [ Links ]

Odendal, F.F. & Gouws, R.H. (reds.). 2005. HAT. Kaapstad: Maskew Miller Longman.         [ Links ]

Oxford Dictionaries. 2016. Oxford University Press. http://www.oxforddictionaries.com/definition/english/emplacement[16 Junie 2016].         [ Links ]

Pharos Afrikaans-Engels Woordeboek English-Afrikaans Dictionary. 2005. Kaapstad: NB Uitgewers.         [ Links ]

Smith, S. 2012a. Die aard van ekopoësie teen die agtergrond van die ekokritiese teorie met verwysing na enkele gedigte van Martjie Bosman. LitNetAkademies, 9(2):500-523.         [ Links ]

Smith, S. 2012b. Plek en ingeplaaste skryf. ‘n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk. LitNet Akademies, 9(3):887-928.         [ Links ]

Smith, S. 2014. Ekokritiek en die nuwe materialisme: ‘n Ondersoek na die nuwe materialisme in enkele gedigte van Johann Lodewyk Marais uit die bundel In die bloute (2012). LitNet Akademies, 11(2):740-774.         [ Links ]

Smith, S. 2015. Liggaam as plek en plek as liggaam: Tendense van die Nuwe Materialisme en interaksie tussen mens en plek in enkele tekste uit Verweerskrif (2006) van Antjie Krog. LitNet Akademies, 12(2):1-24.         [ Links ]

Taljard, M. 2014. Resensie: Mede-wete (Antjie Krog). Versindaba. http://versindaba.co.za/2014/12/08/resensie-mede-wete-antjie-krog/ [13 Julie 2016].         [ Links ]

Van der Tuin, I. 2010. A Different Starting Point, a Different Metaphysics: Reading Bergson and Barad Diffractively. Hypatia, 26(1):22-42.         [ Links ]

Van Niekerk, J. 2014. http://www.netwerk24.com/vermaak/2014-12-07-lewe-sonder-wete-van-anderLewesonder wete van ander. Media24. https://www.academia.edu/9686508/Lewe_sonder_wete_van_ander_-_Resensie_van_Mede-wete_deur_Antjie_Krog [14 Julie 2016].         [ Links ]

Van Vuuren, H. 2014. LitNet Akademies Resensie-essay: Mede-wete deur Antjie Krog. http://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-mede-wete-deur-antjie-krog/ [13 Julie 2016].         [ Links ]

Van Wyk Louw, N.P. 2009. Die beiteltjie. In Brink, A.P. (red.). 2009:161.         [ Links ]

Visagie, A. 2015. Sinaps-opsporing tussen self en ander in Antjie Krog se Mede-wete (2014). Tydskrif vir Letterkunde, 52(2):225-234.         [ Links ]

 

 

 

Susan Smith woon en werk in Oos-Londen waar sy professor in Afrikaans is aan die Universiteit van Fort Hare (UFH). Sy tree voltyds toe tot die akademie in 2005 en speel in daardie jaar ‘n deurslaggewende rol in die tot stand bring van ‘n Afrikaans departement op die Oos-Londenkampus ná die sluiting van die departement op die Alicekampus. Die departement floreer sedertdien en lewer ‘n belangrike bydrae tot Afrikaans in ‘n oorwegend Engelse omgewing.
Susan is ten nouste betrokke by die herskryf van die taalbeleid (2012) by UFH waarinAfrikaans, naas Engels en IsiXhosa, as amptelike taal aanvaar en erken word, wat ‘n platform skep vir ‘n multitalige universiteit.
Die navorsingsterrein wat Susan verken, is ekokritiek en ekopoësie. Dit is veral die ondersoek na plek en ingeplaastheid waarmee sy ‘n bydrae lewer. Sy is ook ‘n digter: in 2012 verskyn haar debuutbundel, In die afwesigheid van sin en in Oktober 2016 Die aarde is ‘n eierblou ark, beide van Protea Boekhuis. Susan is onlangs verkies tot sekundus van die Letterkundekommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Susan Smith lives and works in East London where she is a professor at the University of Fort Hare (UFH). She joins academia fulltime in 2005 and in that year she is instrumental in establishing an Afrikaans department at the East London campus after the closure of the Afrikaans department at the university’s Alice campus. Since then the department has flourished and continues to play an important role in contributing to Afrikaans in a predominantly English environment.
Susan has been intensely involved in the rewriting of the language policy at UFH (2012), a policy in which Afrikaans, in addition to English and IsiXhosa, is recognised and adopted as an official language of the university, thereby paving the way for a multilingual university.
Susan’s research fields of interest are eco-criticism and ecopoetics. In particular, her contribution to the discourse on ecocritcism and eco-poetics is realised in her investigation of place and emplacement in literature. She is also a poet: in 2012 her first volume of poetry, In die afwesigheid van sin is published, followed in October 2016 by Die aarde is ‘n eierblou ark, both from Protea Boekhuis. Susan has recently been elected as secundus to the Literature Commission of the SA Academy of Science and Arts.

Advertisements

Versindaba-onderhoud oor “Die aarde is ‘n eierblou ark”

 

ONDERHOUD MET SUSAN SMITH (DIE AARDE IS ‘N EIERBLOU ARK)

onderhoud-gisela-en-susan

Susan Smith gesels oor haar nuwe digbundel

die aarde is ‘n eierblou ark, met Gisela Ullyatt

.

Susan, hartlik geluk met die aarde is ’n eierblou ark.

Die bundeltitel impliseer ’n metaforiese verhouding tussen aarde en ark. Die byvoeglike naamwoord dui op die kleur van hierdie aarde-ark. Hoe het jy op die titel besluit?

Dankie, Gisela.

Die frase, “die aarde is ’n eierblou ark” kom uit een van die gedigte, maar het vroeg reeds bly vassteek as ’n moontlike titel. Die alternatief wat ek oorweeg het, was bloot “ark”. Nadat ek dit aan ’n paar mede-digters voorgelê – en uiteenlopende reaksie gekry het – het ek besef dat ek maar my instinkte sal moet vertrou. Die verbonde verbande laat ek aan die leser oor.

Die voorbladkuns is een van jou eie skilderye. Die ongewone tekstuur daarvan is opvallend en sluit goed aan by jou tweede bundel-motto wat uit Neruda se “Memory” geneem is:

I have to remember everything,

keep track of blades of grass, the threads

of all untidy happenings

the resting places, inch by inch,

the infinite railroad tracks,

the surfaces of pain.

 

(a) Het die keuse van die skildery meer te make met die bundeltitel of die bundel as geheel?

(b) Vertel ons meer oor die skildertegniek(e) wat jy gebruik het om daardie ‘gekraakte’ tekstuur te verkry.

Die skildery is gemaak ten tye van die skryfproses, seker so ’n jaar gelede, toe ek met verskillende teksture gespeel het om ’n organiese oppervlak tot stand te probeer bring wat moontlik verband sou kon hou met die woorde waarmee ek gedurende daardie tyd besig was. Ek het in dieselfde tyd ook ’n aantal linodrukke gemaak wat tot bepaalde gedigte spreek en deel vorm van ’n kunstenaarsboek – byvoorbeeld die albatros, die meisie met vis, die selakant en pas nou ook die kantblom. Ons “printmaster”, Jeff Rankin, het daarin geslaag om my te laat nadink oor wat ek probeer uitdruk, oor die simboliek van lyn en tekstuur en kleur.

Wat op die buiteblad van die bundel afgedruk is, is ’n nabyskoot van ’n skildery. Elke makrobeeld onthul ’n nuwe perspektief op die geheel. Die kleure – goud, blou, wit, sandkleur, grys – was ’n doelbewuste keuse. Vir my is blou die kleur van ontroering, die kleur van broosheid.

Ek het geëksperimenteer met verskeie mediums wat krakies op die boonste laag verf veroorsaak, letterlik vanaf kouelym en spreiverf tot kraakglasuur wat dan verder gemanipuleer word om krake in verskillende groottes te vorm, na gelang van die dikte van die oppervlakmedium. Die uitkoms is ’n totale verrassing en die skildery kan nie werklik herhaal word nie.

netwerk-2016-susan-smith

“Netwerk”, 2016 (Susan Smith)

Wat verder verrassend is, is die nuwe wêreld wat oopgaan voor die kameralens se inzoemende oog: detail wat bykans verlore gaan vir die blote oog, word landskappe van kraters en riviere uit verf en glasuur.

netwerk-makrobeeld-1

“Netwerk”: makrobeeld 1

netwerk-makrobeeld-2

“Netwerk”: makrobeeld 2

netwerk-makrobeeld-3

“Netwerk”: makrobeeld 3

Ek hoop dat die voorblad weerklank vind regdeur die bundel, nie net as beeld van oppervlak nie, maar ook van netwerk en verbintenis. Die spanning op die oppervlak van die verf en glasuur, die vorming, eers, van klein krakies, wat uurliks groter word, totdat groter kontoere tot stand kom, is nie net ’n metafoor vir die voortdurend veranderende landskap nie, maar ook die verrassende vorming van woorde oor tyd.

“patryspoort” (13) se eerste strofe aktiveer die Karoo-hemelruim:

 

in die kom van die Karoo kan jy

deur die patryspoort van die nag

die diereriem se werwelinge hoor

met gestrekte vinger

deur die krakies in die lugruim boor

met versigtige nael

ágter die foelie skilfering van die heelal skraap

 

In jou debuutbundel, in die afwesigheid van sin (2012), verskyn daar ’n reeks gedigte genaamd ”karoo-narratief”. Hou “patryspoort” daarmee verband?

My geboorteplek is die Karoo, De Aar, om presies te wees. Nêrens anders is die aarde so oop nie, nêrens anders die lug so helder nie. Dit voel vir my na ’n natuurlike vertrekpunt, hetsy per voet of metafisies die hemelruim in.

Reeds in die inhoudsopgawe kan die leser sien dat die bundel ryklik omgaan met gedigte wat water as leitmotief utiliseer. Voorbeelde hiervan is “onderwater” (15); “Wildekus” (18); “water (i)” (55-56); “water (ii)”(57); die “alfabet van water” (59), en so meer.

Een van die sterkste gedigte in die bundel is so ’n voorbeeld:

 

in ons saadskulp is ek en jy

soogvisse van die water

twee gesigte na mekaar:

’n konkawe vivipaar

 

Wat beteken die waterelement vir jou as digter?

Die voor die hand liggende belang by water is dat dit in die algemeen en ook mities gesien word as ’n plek van oorsprong, dalk van lewe self. Die rykheid aan mitiese sowel as religieuse simboliek bied oneindige moontlikhede aan die digter. Water is egter ook deel van die verbintenis wat ek voel met plek en is omgewingspesifiek, vandaar my belang by die Ooskusstreek en al die dinge hier in hul onderlinge verbintenisse tot water en aarde en plek.

Dit gaan vir my daaroor om die betekenis en evolusie van water te karteer op veelvuldige wyses: die kennis en beskrywing van water lê in die parallelle tussen wetenskaplike feite en mitiese verhale, tussen skepping en “mothering”, tussen Darwin en die akwagenesiese wordingsteorieë van Ellis, tussen die ryk Bybelse verwysingsraamwerke en die oratuur. Dit sluit in om water te sien as ’n soort aqua mater, maar ook simboliese, mitiese en religieuse aspekte in berekening bring; om soos Elaine Morgan die moontlikheid te oorweeg dat sommige van die sleutels tot evolusie opgesluit lê in die fisiologiese karakteristieke van die vrou.

Water is magies; water is enigmatiese materie. Water is die fokus van menslike nuuskierigheid – die alomteenwoordige gemene deler van alle dinge en in wisselwerkende verbintenis met die aarde beskermer van lewe en behouering van lewende en nielewende dinge.

’n Verdere leitmotief is taal/die woord: ’n voorbeeld hiervan is die program-gedig, “huls”:

 

die droë peul knal naatlangs oop

die halwe huls ’n ligte boot

waarin ’n klein swart alfabet

van sade stroomaf

na ’n beskutte hawe vaar

 

Praat met ons oor die verhouding tussen skryf/dig en die natuur soos aangedui in bogenoemde gedig.

Hierdie gedig is ’n hele ruk gelede geskryf en het verskeie permutasies beleef. Dit is as ’t ware ’n saadkern waaruit ander gedigte ontkiem het. Ek vermoed dat ’n digter voortdurend besig is met die gedagte aan die proses van “woordplanting” en hoe een woord tot ’n ander lei. ’n Doelbewuste ars poetica is dit nie: eerder ’n onbewuste proses van alliansies soek tussen dinge. Of dalk ’n knal.

Soveel berus daarop om die wêreld om ons op ’n nuwe manier te sien deur dit nuut naam te gee, die soeke na die ewig ontglippende vaspen van dinge. Die volmaakte woord is eweneens ’n knal. Dit verplant die aarde en dit wat daarin en daarop is, oor op die bladsy; die leser ruik nog die omgedolwe grond. Die presisie daarvan moet ’n skok wees van sowel feitelikheid as van verbeelding, van herkenning en geheue.

Digter William Merwin skryf met passie oor die drang om name te ken en te onthou. Hiermee identifiseer ek:

I have lived without knowing

the names for the water

from one rock

and the water from another

and behind the names that I do not have

the color of water flows all day and all night

the old man tells me the name for it

and as he says it I forget it

Ek is ’n ewige soeker na die woorde wat in herkenning kan knal, om naam te gee aan elke oppervlak, elke gras, om te onthou, om te bewaar. Ek ervaar ’n intense gevoel van verlies oor voëls in my omgewing wat ek nog nie “ken” en geïdentifiseer het nie (oor die 40 spesies om my huis en tuin het name, afgemerk in my voëlboeke); ek het nodig om die grasse en die bosse van my omgewing te lys: droog-my-keel, duinekatstert, koedoebessie, krulkransie, maagpynbossie, marramgras, skilpadbos, sonskynster. Ek is bang dat hierdie name verlore raak.

(My redakteur het my van myself gered deur my ellelange lys van noemname met spesiename daarnaas, liefs weg te laat, en ’n onmoontlike lang opnoemgedig tot sinvolheid te verkort.)

Maar met elke naam wat ek “red”, is daar soveel wat verlore gaan. “Always naming, always words galvanizing the things of this world”, sê Felstiner in Can Poetry Save the Earth? En Linnaeus self het gesê: “As die name onbekend is, gaan ook die kennis van dinge verlore.” Taal is die enigste ark waarin ons die name en die kennis kan bewaar.

In die gedigreeks, “saad”, is daar ’n beduidende interaksie tussen die oopskryf van ’n digter se verlede en die ontkieming van saad. Hierdie ontkieming word ook gelykgestel aan die ‘ontkieming’ van ’n digter.

Verder is daar ‘n sterk wisselwerking tussen gebruiksaanwysings wat gebruikstaal verteenwoordig en poëtiese taal. Ironies genoeg word hierdie katalogisering juis die stramien vir die poëtikale. Kan jy vir ons meer oor hierdie wisselwerking vertel en waar die idee ontstaan het?

Ek is ’n aantal jare gelede aan Robert Kroetsch se briljante Seed Catalogue bekend gestel deur Peter Midgley, digter en skrywer wat tans in Alberta, Kanada woon. Die lang gedig van Kroetsch het my bygebly, veral sy gebruik van “gevonde” taal in iets so alledaags soos ’n saadkatalogus. Uit die nie-poëtiese het Kroetsch doelbewus en dikwels op ironiese wyse poësie geskep. Ek het lank met die gedig geworstel, en probeer om gebruikstaal en selfs verbruikerstaal sodanig te stroop dat dit gelade kon word, in samehang en wisselwerking met die gedigkern. Die gebruik van gevonde taal het nuwe uitdagings gebied en spel met vorm toegelaat.

Ek skryf doelbewus teen eenvormigheid in, sekerlik nie altyd geslaagd nie, maar ’n genuanseerde, geskakeerde digbundel wat beide vorm en inhoud betref, laat my sintuie tintel. Miskien, iewers in my toekoms, lê ’n droombundel wat meer palimpsestiese skets- en notaboek as digbundel sal wees.

Jou bundel maak melding van onder andere Mary Oliver, Walt Whitman, Linda Hogan, Karl von Frisch, Carl Linnaeus, Jane Bennett, Thomas Huxley en Spinoza. Hoe het hulle hulleself by jou aangemeld? Watter rol het hulle gespeel in die skryf van die bundel?

Elke gedig is ’n ontdekkingstog en ’n speurverhaal die onbekende in. Karl von Frisch het byvoorbeeld navorsing gedoen oor die gedrag van bye en in 1927 die ontdekking gemaak dat die lengte en rigting van die “rondtedans” en “wiggeldans” van bye in direkte korrelasie is tot die ligging van en afstand na voedselbronne en dat hierdie navigasie onder andere moontlik gemaak word deur die polariserende patrone van blou lug. Dit is die alfabet van bye. Linda Hogan se kinderverhale het ’n bewussyn van die lewe van vlermuise geskep; my vriende Jane Bennett, David Abram, Greg Garrard, Timothy Morton en vele meer is my medereisigers deur die wêreld van die ekokritiek. Hulle het nogal ’n manier om so ’n bietjie aan mens af te gee.

Dit is vir my noodsaaklik dat die feite in my gedigte moet klop. Ek vind dit onmoontlik om met enigiets anders as die waarheid te werk, ek jaag die meedoënlose akkuraatheid van ’n Marianne Moore na; die wetenskaplikheid van ’n T T Cloete. Selfs die realm van die verbeelding en die magiese moet met noukeurigheid betree kan word.

mangliete-1

mangliete-2

Mangliete in die Nahoonstrandmeer, Oos-Londen (Foto’s: Salmon Smith)

tafoni

Tafoni by Keisterstrand, Oos-Londen. (Foto: Susan Smith)

 

Opvallend in die bundel is die ikonisiteit van sommige van die gedigte in die bundel, soos byvoorbeeld in “die oortjies van die gedig” (49) en “skulpgruisgrys” (63):

 

keiserstrand

34 km wes van oos-londen

 

wolkgrys misgrys meeugrys  veergrys

watergrys brandergrys skuimgrys

rotsgrys klipgrys  klipskeurgrys

sandgrys   skulpgrys

skulpgruisgrys

 

32°58’ suid

 

Is konkrete poësie of die gedig-as-ikoon ’n proses wat jou na aan die digterlike hart lê? En is dit ook ’n aspek wat “groen poësie” mee omgaan?

Ikonisiteit gaan natuurlik oor soveel meer as net die uiterlike tipografie van die gedig. Dit is wel so dat die bladspieël en die wit van die bladsy groter prominensie het in die sogenaamde groen poësie, veral waarneembaar by die Kanadese ekodigters. Die bladsy word ’n plek, ’n terrein of perseel waarop bepaalde ruimtelike patrone neerslag vind – ’n materialisering van die gedig.

’n Ikoniese gedig is veronderstel om die leser in ’n energieke ontmoeting te plaas met die materiaal en materialiteit van skryf: die alfabet as sisteem van lyne en hoeke; herhalings van komponente; fisiese en visuele lyne. Die digter orkestreer die alfabet en woorddele as visuele rym en die aandag verskuif vanaf die transparante funksie van betekenis na die konkrete funksie van plek op papier. Die digter is besig om die fokus van die leser te manipuleer en te beheer, selfs te disoriënteer. Ritmiese stiltes, perkussiewe enumeratiewe herhalings en die oopmaak van spasies tussen woorde verkry ’n betekenis in sigself.

Ikoniese gedigte word dikwels nie as hoofstroompoësie gesien nie, maar die speelse en selfs dramatiese aanslag daarvan, boei my. Om te dink hoe die oog moet kyk, hoe die bladsy en die gedig self plek word, maak die digter deel van die materialiseringsproses, maak die lesende leser ’n kykende leser op ’n konkrete vlak.

’n Boeiende gedig is “Xolobeni Mineral Sands, Wildekus” (87). Hier word melding van gemaak dat dit “na ’n gedig van Derek Walcott is“. Kan jy vir ons aandui watter gedig jy hier in gedagte gehad het?

Is Walcott ’n gunsteling op jou boekrak?

Walcott se uitbeelding van land en see en sy verwoording van veral die Karibiese eilande vertoon ’n intense gewaarwording van die verhouding tussen plek en bewussyn en gewete, waarby ek aanklank vind. Enkele versreëls uit die lang gedig “Omeros” het my aandag getrek weens die toepaslikheid daarvan op die gebeure wat oor die afgelope aantal maande ontvou het by Xolobeni aan die Wildekus.

Na maande van intimidasie, geweld en die uiteindelike sluipmoord op mense wat die voorgenome mynbedrywighede deur ’n Australiese mynmaatskappy by Xolobeni teenstaan, word daar nou in die media ook oor Gupta-betrokkenheid en grondkaping gespekuleer.

’n Mens vra vrae: is hierdie lewens nie belangrik nie? Is die mense wat ’n leeftyd daar woon se stemme nie belangrik nie? Hoekom word ons natuurlike omgewing minderwaardig behandel? Waar kom aardreg te pas?

Benewens ooglopende omgewingsrisiko’s is daar die wit-, rooi- en swartmanglietwoude in die strandmeergebiede by Xolobeni (ironies beteken die naam Xolobeni “plek van hartseer”) wat dien as wieg vir jong marienevisse en skulpdiere. Die raar Manglietvisvanger is ook inheems aan hierdie gebied. Dit is die Wildekusstrook waar ’n versteende woud in die rivierbeddings van die Mazambarivier gevind kan word en wat die hoogste konsentrasie fossiele bevat, waarvan sommige gedurende laagwater ontbloot is, wat die bestudering van die beweging van tektoniese plate moontlik maak en wat, na raming tussen 84 en 86 miljoen jaar oud is.

fossiele

Fossiele blootgelê tydens laagwater (Foto en blog: http://simontothemax.blogspot.co.za/2009/06/red-dunes-of-xolobeni-curse-of-black.html)

Dit is ironies dat inwoners van ’n land soos Australië, wat self so intens sy eie grense teen stroping bewaak, gewetenloos toesak op teikens in Afrika en dit vir geldelike gewin probeer uitbuit. Dieselfde geld natuurlik vir die dreigende skaliegasontginning van die Karoo en Oos-kaap deur die Shell-maatskappy.

Susan, sou jy jouself as “ekodigter” identifiseer of is so ’n etiket nie haalbaar vir jou as digter nie? 

’n Doelbewuste groepering of etikettering kan verskralend inwerk en ek sal altyd versigtig daarmee omgaan.

Terselfdertyd besef ek egter dat weens die invloed van my spesifieke belangstelling in ekopoësie en –teorie daar ’n bepaalde “insuur” plaasvind wat my siening van dinge en my eie werk beïnvloed. Ek dig oor allerlei dinge; in hierdie spesifieke bundel het daar ’n onbewuste weerspieëling tot stand gekom met dit waarmee ek op ander plekke in my lewe besig is – ’n bewussyn vir die bevraagtekening van hiërargiese strukture, die bevraagtekening van benoeming, wat in essensie ook ’n soort toe-eiening is, wat juis die hiërargiese bewussyn uitkalwer.

Ten laaste: watter gedig uit die aarde is ’n eierblou ark sal jy graag met Versindaba-lesers wou deel?

Moontlik is dit gepas om af te sluit met die slotgedig in die bundel, “Missa Gaia: ’n hooglied van die kompos”:

 

Ons is van die aarde

en ons sal terugkeer

aarde toe. Ons bemin

die onthegte blomme;

die geknakte stingels

is vir ons mooi. Kyk hoe lieflik

die molmwording van fyngesnaarde

blare; ons hoor die inleidende korale

van nagskoflarwes. Die sonate

van Latour se liewe wurm-

en maaierwerkers het ons lief;

in u wonings van fosfaat-

en kalsiumvlegsels grond

is ons tuis.

Wys tog, sielsbeminde, waar u

die takkies neerlê,

waar u nuwe steggies plant.

Ons is die wemeling van donker sterre

onder die grond; die engele

se heilige mikropartikels

wat die kosmos tot kontoer

en gefermenteerde leefspin smee.

Ons is van die aarde. Die aarde

het ons gemaak.

(Arikel te lees op Versindaba)

Plek as liggaam en liggaam as plek. Tendense van die nuwe materialisme en interaksie tussen mens en plek in enkele tekste uit Verweerskrif (2006) van Antjie Krog

Susan Smith

Volledige artikel hier beskikbaar

By die sien. Kennisname en kennisskepping

Duif (Foto - Marlene van Niekerk)

Ek het my die afgelope tyd met ekokritiek en veral ekopoësie doenig gehou en met groot opwinding ’n literatuurkritiese en ekofilosofiese teorieruimte ontdek wat tot talle nuwe insigte lei. Wat my egter veral opval is dat die internasionale kritici hulself meestal met teorie besig hou, terwyl hulle weinig aandag gee aan die toepassingsmoontlikhede binne die literatuur. Dit is iets wat ek tot dusver juis op gefokus het in enkele van my navorsingsartikels.1 Ek vra myself die volgende vrae: Hoe lyk die groen gedig? Op watter wyse vind aspekte van die nuwe materialiteit neerslag in ’n bepaalde gedig? Hoe werk intra-aksie in die teks? Wat is die konneksie tussen die menslike en die niemenslike wêreld?

Soos dit maar gaan, neem my leeswerk my op interessante paaie. In ’n onlangse artikel van Serenella Iovino praat sy van “participative rupture” (2015:73), ’n term wat my verbeelding aangegryp het. Sy beskryf ’n proses wat deel uitmaak van ’n breër konsep, naamlik “diffractions of matter”. Donna Haraway (1997:14) definieer diffraksie as “producing a participative rupture in the linearity of the single elements’ performative properties”. Om by diffraksie uit  te kom, en boonop te sien hoe dit in ’n gedig manifesteer, moet ek die storie ’n entjie terug gaan haal.

Die ekokritiek – en meer spesifiek die nuwe materialiteit – ondersoek nie net materie en die meer-as-menslike wêreld in tekste nie, maar ook materie as tekste. Dus, die wyse waarop materie self uitdrukking gee aan hul eie konkrete realiteit deur interaksie met mekaar en met die menslike dimensie, en konfigurasies van betekenis en diskoers produseer wat ons as stories kan interpreteer (Iovino 2015:71). In ’n vorige artikel (Smith 2012:893,928) het ek reeds die term “storying matters” oftewel verhalende materie voorgestel, in aansluiting by Iovino (2012:136) se term van “storied matter” – die vertelling wat deur bemiddeling van die mens oorgedra word. John Felstiner sê “nature itself wants in on the storytelling” (2009:337).

Ook David Abram sluit in sy seminale teks, Becoming Animal (2010) hierby aan met sy ekofenomenologiese benadering wat gesien kan word as ’n sensoriese en sensuele bewustheid van die deelnemende en aandaggewende aard van die mens se bestaan as deel van die meer-as-menslike wêreld en hoe hierdie wêreld sigself uitdruk (2010:7, 11). Karen Barad (2007:3) redeneer dat materie en betekenis nie van mekaar geskei kan word nie. Ons is nie buitestaanders wat die wêreld waarneem nie; ons is ook nie maar toevallig op ’n bepaalde plek in die wêreld nie – ons is deel van die wêreld in sy totaliteit van intra-aktiwiteit. Ons kyk en neem kennis, en om te weet is om intra-aktief betrokke te wees. Elke aksie van kennisname is ’n kognitiewe toe-eiening wat patrone van ingryping of tussenkoms en uiteindelike kennisskepping.  Die vraag ontstaan: hoe neem die digter deel aan die uitdrukking van die meer-as-menslike wêreld?

Wat my by diffraksie bring: ’n deelnemende skeuring/breuk in die lineariteit van individuele elemente se eienskappe. Diffraksie word binne hierdie konteks deur Karen Barad (2003:803) gesien as die teenoorgestelde van refleksie. Volgens Barad is laasgenoemde slegs ’n herhaling op ’n ander plek, terwyl diffraksie elemente op ’n nuwe wyse kombineer wat nuwe eksperimentele voorwaardes tot stand bring. Deelname geskied intra-materieel: materie-betekenis en dus materie-diskoers, wat die mens insluit, word geproduseer. Om te weet is volgens haar om op direkte wyse met materie betrokke te raak, om te besef dat subjekte en objekte verweef is met mekaar en dat objektiwiteit ook te make het met ’n verantwoordelikheid teenoor die verweefdhede waarvan ons deel is. Dit dan, ’n baie oorsigtelike en voorlopige kennismaking met diffraksie.

Die volgende stap sal wees om deelnemende betekenisskepping en diffraksie aan die hand van ’n gedig te probeer nagaan. Marlene van Niekerk laat die volgende gedig as kommentaar by my Poolshoogtegesprek (2014) op LitNet oor ekokritiek wat, sover ek weet, nêrens anders gepubliseer is nie:  

Dubbelportret: mens/duif 

Om so op riwwe van sink af te wiek uit die takke
van wilde-amandel, om kloek en versigtig,
soos betaamlik vir een met bloedweinig kans
in die groter verband, eers net te kýk wat aangaan,
lugtig na links en regs –  want weerskant sit
nou eenmaal die oë – besorg hoofbrekens.
Want deursigtig geraam in ’n oorkantste nis blyk
’n ander opeens die blik te ontmoet. Eenmalig
in beider heugenis droog verjaging of skrik
die oognat nie uit nie. Pupille ondergaan momenteel
’n stil, gespieëlde gradasie van aftas, takseer
en herkenning, daarna, onverbloembaar
’n verwyding tot reslose adorasie. Veral betref
dit die swart, vorentoe lekkende traan, die git
op die nek –  houtskool geduim op gebleikte
maroen – wat die voël vir sigself uit die kaatsing
verhaal. Knipvliese open en sluit simultaan
oor die rondings weerskant die vlak indentasie
in die front. Kontoer word dubbel bewonder,
lyn, dressuur, balans van stertpunt, pote.
Vliegwerk, russtand dring aan op  begrip
deur ’n vogtige transsubstansie –  één lyding,
één lyf, kwalik verskil hierdie mensdier
van duif. Skigtig volg dan ’n eerste notasie, ferm
geskrap, voorts ’n getortel wat die indamp
van lig op mat pluimasie uit die vingers wil speel,
en terselfdertyd bind.  Maagkiesel, grit, slegs
’n vlugtige por vir die uitgee van kropmelk,
is dit nie die kuns van ’n skets nie? Bly sit lank genoeg,
word gevra, bly sit, want die kleur is onsegbaar,
die subtielste vilet van die skemer, rooidag
gegrys tot kripsis onder skaduweeblare.
En dan die verplompte knikkoppende tred,
uit onder takke van wilde-amandel,
reg in die val van die hoognoenson op die dak,
die trant van ontwapening, wedersyds,
en, voorlopig, die onderling uitgestelde afskeid.
 

(Gedig en foto: Marlene van Niekerk/LitNet Poolshoogte)

In hierdie gedig neem ek iets waar van difraksie en ’n deelnemende breuk in verwagte lineariteit van die gedig wanneer die verwagte perspektief van mens=waarnemer/duif=waargeneemde omvergewerp word. In die gedig kyk die digter na die omringende wêreld, in hierdie geval die duif, en benoem dit: kennisname vind plaas. Die digter is intra-aktief betrokke by die duif deur haar deelnemende betekenisskepping wat dus ook kennisskepping tot gevolg het. Die digter se reaksie, in die vorm van haar gedig, is meer as net die daarstelling van ’n refleksie van die duif – dit veronderstel ’n verdere kennisskepping en ’n wyse waarop die digter elemente op ’n nuwe manier kombineer, wat nuwe ervaringsmoontlikhede produseer – dus, diffraksie. Die leser se fokus word gevra op die kykproses van beide die duif en die digter, waarmee die ervaring van die leser eweneens verruim word en die leser ook deelneem aan die nuwe betekenisskepping.

In die kyk (deur die duif) herken die duif sigself in die digter/refleksie/portret en die digter haarself as “mensdier” in die duif: 

… één lyding,
één lyf, kwalik verskil hierdie mensdier
van duif.

Deur middel van “transsubstansie” ervaar die digter ’n eenheidsgevoel met die duif. Transsubstansie kan ook vertaal word met transmaterie, die uitruil tussen materie en materie – in hierdie geval die uitruil tussen mens en duif.

Die effek van ’n “dubbelportret” word geskep: meer as refleksie, is die digter van die duif. Meer as refleksie (in die konteks van Barad se definisie van die begrip), is die omringende materie in die oë van die deelnemende digter. Die suggestie van die skeppingsproses word tot stand gebring deur die digter wat beide portretteer en selfportretteer is deur die verwoording van die digtersblik na buite en die verwoording van die duifblik op die digter na binne. Ook die duif is betrokke in ’n dubbelproses: die duif eien sigself en word verdubbel in die refleksie van die ruit én sien die “mensdier” daaragter. Die duif word ook verdubbel deur inskrywing in die gedig.

Die elemente van verdubbeling en refleksie, wat deurlopend in die gedig voorkom (“Dubbelportret”, “weerskant”, “gespieëlde”, “sigself uit die kaatsing / verhaal”, “dubbel bewonder” en “wedersyds”) herinner aan Elisabeth Eybers se “Twee kleuters in die Vondelpark” waarin die dubbelbeeld van die swaan beskryf word en wat hier as interteks optree.  

Smetloos geteken dryf die dubbelswaan:

Gesplete hart van hals en dubbelhals,

Geskulpte vlerk met dubbelvlerk teenaan,

Geslote snawel dynserig vervals

Met eenkant lug en water anderkant. (Brink 2008:243)

In die Eybersgedig bly die blik egter op die objekte gevestig (die swaan en die twee kleuters), terwyl Van Niekerk se gedig die duif self as medewaarnemer daarstel, en daarmee dus diffraksie bewerkstellig en die bekende elemente (duif, digter-kunstenaar-kyker) op so ’n wyse kombineer dat nuwe voorwaardes en betekenisskepping tot stand kom.

In die deelnemende kennisname en kennisskepping word ’n kunswerk geproduseer: die intense beskrywing van kleur is ’n verdere herhalende motief in die gedig: “git op die nek”, “houtskool geduim op gebleikte maroen”, “die subtielste filet van die skemer” en die “rooidag gegrys”. Die woord “skets” dui enersyds op die proses waarmee die digter deur middel van woorde besig is om vinnig die voorkoms van die duif vas te lê, en sy vind uiteindelik dat kleur “onsegbaar is”, maar kan op ’n volgende vlak ook aanduidend wees van ’n kunstenaarsproses waardeur die duif tot visuele kunswerk gemaak word.

Die woorde “deursigtig geraam” laat die suggestie van ’n vensterraam (waardeur die “mensdier” na die duif kyk), maar verwys ook na die raam van ’n portret. Deur die wedersydse kykproses is beide mens en duif vir mekaar “geraam”.

Interessant in hierdie gedig is die gebruik van die woord “ander”, wat altyd gelade is.  

Want deursigtig geraam in ’n oorkantste nis blyk
’n ander opeens die blik te ontmoet.

Die suggestie word gelaat dat die “mensdier” die ander is – die ander van die duif, wat interessante gevolge inhou deur nie net die ekokritiese siening van die niemenslike wêreld as die ander te sien nie, maar dan ook die bordjies te verhang en die dier/duif as Self te sien, terwyl die mens in hierdie geval die Ander word, op die periferie, vanuit die perspektief van die duif.

Uiteindelik gaan dit oor sien. Ek hou van John Felstiner (2009:19-23) se kommentaar wat hierby aansluit: die idee dat die digter die omringende wêreld  opnuut benoem/van naam voorsien en daardeur as ‘t ware deelneem aan die eerste skeppingsaksie en die daaropvolgende benoemingsaksie van Adam. Om te kyk, om vir ’n oomblik te begryp, te noem, terselfdertyd onbegrip toe te gee. Dit bly steeds die rol van die digter.

Om te sien is dus om deel te neem. Dit is beide kennisname en kennisskepping.

_____________________________________

1My artikels oor ekokritiek en ekopoësie is Die aard van ekokritiek, Plek en ingeplaaste skryf en Ekokritiek en die nuwe materialisme (verkorte titels).

Bibliografie

Abram, D. 2010. Becoming Animal: An Earthly Cosmology. New York: Pantheon.

Barad, K. 2007. Meeting the Universe Halfway: Quantum Physics and the Entanglement of Matter and Meaning. Durham: Duke University Press.

Barad, K. 2003. Posthumanist Performativity: Toward an Understanding of How Matter Comes to Matter. SIGNS, 28(3).

Brink, A.P.  2008. Groot Verseboek. Kaapstad: Tafelberg.

Felstiner, J. 2009. Can poetry save the earth? A field guide to nature poems. Yale: Yale University Press.

Haraway, D. 1997. Modest Witness@Second Millennium. FemaleMan©Meets Onco-Mouse™: Feminism and Technoscience. New York: Routledge.

Iovino, S. 2015. “The Living Diffractions of Matter and Text: Narrative Agency, Strategic Anthropomorphism, and how Interpretation Works”. Anglia, 133(1): 69–86.

Iovino, S. 2012. Steps to a material ecocriticism. The recent literature about the “New Materialism” and its implications for ecocritical theory. Ecozon@, 3(1):134–45.

Smith, S. 2014. Die tasbaarheid en die on(aan)tasbaarheid van literatuurteorie: ekokritiek en die nuwe materialisme. LitNet Poolshoogte. Internet http://www.litnet.co.za/Article/poolshoogte-die-tasbaarheid-en-die-onaantasbaarheid-van-literatuurteorie-ekokritiek. (Afgelaai 1 Mei  2015).

Smith, S. 2012. Plek en ingeplaaste skryf. ’n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk. LitNet Akademies, 9(3).

Skakel na Versindaba-blog

Ekokritiek en die nuwe materialisme: ’n Ondersoek na die nuwe materialisme in enkele gedigte van Johann Lodewyk Marais uit die bundel In die bloute (2012)

Plek, die digter; mens, die digter

John Felstiner sê: “Our word-sense renews a place on earth that’s long been unrecognized for itself.”

Die digter en die woordsmid is die oproeper van geheue, die herskepper van plek in die hede. “Through time and memory, poems go about remaking place. [R]eclaiming a place of […] desire has everything to do with wordcraft, art, light.” (Felstiner 2009)

In die herskepping en her-oproep van plek word dit ‘n plek gemaak van stories, ingevul deur drome en verbeelding. David Abram sê: “A world made of story is an earth permeated by dreams, a terrain filled with imagination.” Dit is egter nie soseer die mens/digter se verbeelding nie, as wat dit ook die aarde en die plek self se verbeelding is wat medeskepper en -verteller is. Ons lewens is ingebed in die ewig-veranderende, ewig-evolerende plek waarin ons onsself bevind, in die psige van plek.

Die veranderende plek, soms gevul met son en lig, soms met storm en wind, dui op die vloeibare atmosfeer van plek. Dit is wat Abrams “the mind of place” noem: “So mind is not experienced as an exlusively human property, much less as a private possession that resides within one’s head.” Hy gaan voort deur te sê:

“While there may indeed be an interior quality to the mind, for a deeply oral culture this interiority derives not from a belief that the mind is located within us, but from a felt sense that we are located within it, carnally immersed in an awareness that is not ours, but is rather the Eairth’s.” (Abrams 2010:271)

Plek skep sy eie atmosfeer, nie as ‘n stel afgeronde feite nie maar as ‘n aaneenlopende verhaal waarin ons deelnemers en medeskeppers is deur ons benoeming en verwoording daarvan.

Uiteindelik is die mens nie net die digter van plek nie, maar is plek self sy eie digter: die ritme van somer en winter, die tempo van blare se hernuwing, die tyd van vrug dra, seisoene van wind en seisoene van stilte – al hierdie fenomene word die kragtige aktante wat die mens van ‘n stel sensuele metafore voorsien vir ons eie komplekse emosies. Die mens is dus ingebed in ‘n groter gemeenskap van aktante of subjekte, die meer-as-menslike wesens wat hom of haar omring en wat voortdurend hulself skryf.

©Susan Smith

Die groen (in) die gedig

Woordfees 2012

 

Lesing gelewer oor “Die groen (in) die gedig” tydens Woordfees 2012.

 

____________________________________________________________________________

Die groen (in) die gedig

Susan Smith

Onlangse navorsing oor die wyse waarop die literêre teks as kultuurproduk deur middel van taal die samehang van die mensdom en die natuur uitdruk, het die belangrikheid beklemtoon van ’n groeiende bewussyn van die rol wat ekokritiek en ekopoësie in die letterkunde speel, plaaslik en internasionaal. In haar artikel oor die aard van ekopoësie, skryf Smith die volgende:

As wêreldwye reaksie op die toenemende vernietiging van die verhouding tussen die mens en die natuur bied ekokritiek ’n interdissiplinêre kyk op die wyse waarop kultuurprodukte soos poësie hierdie verhouding ontgin en verwoord en dien dit as ’n reaksie op die behoeftes, probleme en krisisse wat die mensdom in die gesig staar. (Smith 2012a:506)

Die verbintenis tussen die ekokritiek en plek is eweneens deur Smith ondersoek en sy beklemtoon die belangrikheid van plek en ingeplaaste skryf as definiërende kenmerke van die groen gedig (Smith 2012b:901–2). Tereg merk Linda Russo op dat plek en materiële geplaastheid binne die omgewing tot gevolg het dat die mens ’n verbintenis met plek opbou wat verder strek as woorde op papier:

 Thus addressing place, and more specifically the “being located” or localism that is central to environmental writing, enables consideration of the material “emplacement” of “environ-ment” of the writer, of language as a perceiving and construction tool, and of connection (affect, bond) in many senses. (Russo s.j.:2)

 Die ekogedig gebeur iewers, dit is verbonde aan ’n spesifieke plek, ’n gebeurtenis wat in samehang en gelyktydig met ander menslike en niemenslike gebeure plaasvind; die wisselwerking tussen gedig en plek veronderstel volgens Russo ’n ekopoëtiese praktyk, waardeur die grense tussen die gedig en die plek of landskap opgehef word en die gedig as ’n veld van aktiwiteit aangebied word (Russo sj.:4). Hierdeur word die materialiteit van taal beklemtoon, die plasing van die woord op papier binne die materialiteit van die oomblik en die plek. Russo beskryf hierdie aksie as “the poem [that] is on-the-page and in-the-world at once through a co-mingling of experience, thought, perception, and fact” (Russo s.j.:4). Die fisiese materialiteit van plek lei daartoe dat daar opnuut gekyk moet word nie net na die landskap en plek van die gedig en in die gedig nie, maar veral ook na die gedig as landskap.

In hierdie artikel sal daar ondersoek ingestel word na die wyse waarop die ekogedig as landskap optree deur die visuele en strukturele aanbieding van die gedig. Dit sal gedoen word aan die hand van voorbeelde uit beide die Afrikaanse en internasionale digkuns.

[…]

© Susan Smith