Byderhand Tuinverse

Gedurende 2014 – 2016 is ek betrokke by die Byderhand Tuinverseprojek van Noordwes Universiteit. Besoek die webwerf Byderhand om meer  hiervan te lees. Ek haal aan vanaf hulle webwerf:

“Byderhand is ‘n eksperimentele ruimte vir skep, skryf en lees in nuwe kontekste. In Byderhand Clover Aardklop 2015 het die fokus op plekspesifieke digitale literatuur geval. Byderhand Clover Aardklop 2015 (6 tot 10 Oktober 2015) was ʼn interaktiewe leesfees vir ieder en elk.

Die projek het uit vier subprojekte bestaan: Tuinverse in die Botaniese Tuin, Rusplekstories in die Boeke-Oase, ‘n Dwaalverhaal by die Hoër Tegniese Skool (HTS) en Taxistrips op die pendelroete. Hier kon besoekers met ‘n selfoon of tablet gedigte en stories in Potchefstroom oor Potchefstroom lees en nuwe werk ervaar van skrywers en kunstenaars soos TT Cloete, Strijdom van der Merwe, Hans du Plessis, Harry Kalmer, Khaya Mtshali, Sophia Kapp, Roela Hattingh, Franci Greyling, Frederick J Botha, Susan Smith, Helene de Kock, Heilna du Plooy, Flip Hattingh, Gerrit Jordaan, Deon Meiring en Zinelda McDonald.

Byderhand het die ATKV-Aartvark-Prys vir Grensverskuiwende Werk by die fees ontvang.

Byderhand word aangebied deur die Vakgroep Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus.

Die projek word onderneem in die Navorsingseenheid Tale en Literatuur in die Suid-Afrikaanse Konteks en vorm ook deel van die vestiging van digitale humaniora aan die Noordwes-Universiteit.

Die projek word moontlik gemaak deur befondsing van Die Dagbreek Trust, die Navorsingseenheid en die vakgroep Skryfkuns in die Skool vir Tale, NWU.”

(Uittreksel vanaf Byderhand webwerf)

Gedigte is digitaal verwerk en op spesifieke plekke (waaroor die gedig geskryf is) aangebring. Die leser gebruik sy selfoon om die QR-kode te aktiveer deur ‘n QR-leser toepassing wat vinnig afgelaai word. Musikale verwerkings van die gedigte, visuele voorstellings, vertalings, die stem van die digter en vele meer is dan toegangklik vir die leser en die leser kan die omgewing inneem terwyl hy na die gedig luister.

Fotogalery

Enkele foto’s geneem tydens die Byderhand Aardklopfees op Potchefstroom, NWU Botaniese Tuine. Die gedigte en totempale is ‘n permanente installasie en indien jy in die omgewing is, gaan stap gerus deur die tuin en lees die gedigte.

Advertisements

Tuin van mondings

Tuin van mondings

                            (Sylvia Plath)

 

Toe doen jy dit weer.

Jy was suksesvol, hierdie laaste keer.

 

Jou nat pensketse van geïnkte winterbome,

oorgroot tulpe, nog ingesneeu

en nabyskote in die leem

van sampioene se sagte vuiste,

 

nader nog, kring op kring in pers en swart en rooi

die dringende muskus van jou oopgeskilde

blomkrone wat jou asem smoor, bloedpapawers

is jou mond se vel, die saadkapsules vol ingedrinkte

dampe opiaat herinner aan ’n vorige keer,

 

die moed van geslote monde

en uitmondings se rooi vlamme –

 

al die rame waardeur

jy na jou wêreld kyk.

 

Op ’n koue dag in Februarie is jou mond

’n mond van rou wonde, ’n mond

van taai pêrels

in jou tuin van digte mondings

 

toe die laaste lug aan jou tulpe vashaak

en jy bloedloos die wêreld uit jou oë loslaat.

 

© Susan Smith

EsiKhaleni

EsiKhaleni

(Hole-in-the-wall)

 

mooi sing Ntombi

in die dubbelvolmaanmaand

waar die seeman met die vinhande

die meisie tussen kleihuise

en oor prilgroen heuwels sien loop

 

Ntombi sing

waar die golfbreker boegvis ploegvis stamp

en stamp       tot die sandsteen maagdelik

breek           tot die skalie in gitblou skywe

uiteenkraak

 

Ntombi sing

waar die meisie tussen strandnguni’s

oor die sandsoom water toe hardloop

opkyk      die halfgod en sy stormvis

déúr die landmuur sien kom

 

sing Ntombi     sing uit die water

sing waar die wit hingste skuimbek

runnik       die hoewe oor klippe

dreun         die water deur die sagte landplooi

van die Mpakovallei

stroomroof       die aarde skreeu     die tata

sy klere skeur

 

Ntombokuqala sing

die seemense sing

die landmense ween

die plek donder

die plek klink

esiKhaleni     sê die plekmense

die plek van klank

 

©Susan Smith

 

5 haikoes


ingestik, vroegsomeraande
die eerste brons Caco
se naaldsteekkwake

Wahlberg se grootoog 
witkol-vrugtevlermuis pieng 
eine kleine Nachtmusik

laatwinter kraakloop
katstertriet se kruiprisome
bros van oor tot oor die agterduine

slank kleefgrashalms 
se klitshakies steek
in kusruigte lyf weg 

blouduinebessie duinemirt
vlesig persryp geswel
die tyd van growwebroodkonfyt

Susan Smith

as die lug deursigtig is

 

as die lug deursigtig is
skoon winsor&newton ceruleun
ongemeng uit die buis van die Meesterlandskapmaker
as die voëlroepe vroeg
die roerlose lug van my klein wildernis
teen 50 desibel oopkraak
soos vanoggend
is dit die fel cadmium rooivlerkflits
die langste golflengte kleur
wat die oog ontmoet
is die chromium groen van romp en bors die sneller
wat die ses miljoen M-kegelselle
in die oog aktiveer
is dit die drie trompetroepe
die sewe gromnote
die ghok-ghok-ghok
van die mitiese knysna-loerie
die koggel-uur van Igolomi
singtyd van iGwalagwala
wat op die oortimpaan vibreer
wat aan my sinne ruk
©Susan Smith

……………………………………………………..

The perception of greenness (in opposition to redness forming one of the opponent mechanisms in human color vision) is evoked by light which triggers the medium-wavelength Mcone cells in the eye more than the long-wavelength L cones. Light which triggers this greenness response more than the yellowness or blueness of the other color opponent mechanism is called green. A green light source typically has a spectral power distribution dominated by energy with a wavelength of roughly 487–570 nm (Nanometre).

sjuutloop

sjuutloop

 

doekvoet soekloop op die dier se spoor
oor bontplakkie oor gnarrabosblaar
veervoet blaarvoet sjuutloop oor mokala se oortjieshuls
dat die kameeldoring nog kan peul
dat die kameelperd se tong nog om die dorings
kan skurf
die tsessebe nog
met die vinnigste hoewe  dreun
dat die kind se onthou nog
toegevou in die pit van môre kan sit

©Susan Smith

kameeldoringpeule

(Foto: ©Wini Esterhuizen)

as die son stilstaan (2)

 

as die son stilstaan (2)

as die son stilstaan
in daardie tyd
as die maan uit sy wentelbaan geruk
sy donker kant verloor
die aardas effens kantel
die pole magneties skuif

as die laaste sjamaan in daardie tyd
haar voormoeders se doeke skud
die laaste inyanga die kannabis en nagskade en eendagmooi
per kapsule sluk
en met onseker hand op ‘n glaspalet
die lyne digitaal trek
probeer onthou
hoe die eland hoe die renoster van lank gelede lyk
en heimlik dié mitiese spore
wat nog net elektronies deur die kuber loop
bekyk

dan
dan sal die kil tyd aanbreek
van nie behoort nie
die skriktyd van verlies
wanneer die lyf onverwant losdryf uit hierdie heelal
en vál

©Susan Smith