Neville Alexander toekenning vir multitaligheid en Afrikaans

Lees die berig by Die Afrikaanse Taalmuseum

Drie medewenners: Neville Alexander-prestige-eerbewys

neville-alexander-prestige-eerbewys-wenners-2Fiona van Kerwel (WOW-projekbestuurder),
Elizabeth Dennise van Schalkwyk en prof Susan Smith

Die Raad van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) het op Erfenisdag die 2016 Neville Alexander-prestige-eerbewys aan drie medewenners, twee individue en een instelling, toegeken. Die wenners is Elizabeth Dennise van Schalkwyk, prof Susan Smith en die Woorde Open Wêrelde (WOW) projek van die Universiteit Stellenbosch (US) Woordfees.

Die Voorsitter van die ATM-Raad, prof Mashudu Mashige, het sertifikate aan Van Schalkwyk, prof Smith en Fiona van Kerwel, projekbestuurder van WOW, oorhandig. Elke wenner ontvang ook prysgeld van R10 000 vir ‘n relevante taalprojek.

Volgens Michael Jonas, Direkteur van die ATM, is die eerbewys ’n poging om erkenning aan die onbesonge helde van Afrikaans te gee en om taalprojekte te bevorder: “Alexander was ‘n bekroonde taalkundige, opvoedkundige en akademikus, wat hom sterk beywer het vir veeltaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika. Die eerbewys word toegeken aan  ʼn geskikte kandidaat of instelling wat ʼn beduidende bydrae op voetsoolvlak in die gemeenskap gelewer het op enige gebied van Afrikaans as moedertaal of voorstander van veeltaligheid.”

Van Schalkwyk is ‘n prokureur van Johannesburg wat reeds sedert 2009 Afrikaans as tweede taal onder nie-Afrikaanssprekendes, waaronder buitelanders, bevorder. Sy spandeer sowat vyf uur per week om graad 12-leerders, wat met Afrikaans as tweede taal op skool sukkel, te ondersteun. Van Schalkwyk laat dié leerders kinderboeke lees, wat volgens haar “soos ʼn bom” werk om hul taalvaardighede te verbeter. Sy wil haar prysgeld gebruik om ʼn groter verskeidenheid Afrikaanse leesboeke en hulpbronne aan te koop.

Prof Smith is benoem vir haar toewyding tot die totstandkoming en uitbou van die Department Afrikaans aan die Universiteit van Fort Hare. Tertius Kapp skryf in sy motivering: “Bo en behalwe haar eie akademiese uitsette, wat behels vele vooraanstaande navorsingsartikels, veral in die nuwe veld van eko-kritiek, en haar eie digterlike werk, behartig sy ʼn enorme hoeveelheid administrasie en loods sy projekte wat op kreatiewe wyse die unieke uitdagings van haar direkte omgewing aanspreek. In ʼn tyd waar studente by vele tersiêre instellings negatief reageer op Afrikaans, is dit bewonderenswaardig dat Afrikaans by die Universiteit van Fort Hare nie net een van studente se gunsteling departemente is nie, maar ook deur personeel as ‘n broodnodige deel van die universiteit gesien word. Dit is ʼn direkte gevolg van Susan Smith en haar personeel se werk.”

Die Woorde Open Wêrelde (WOW) jaarprojek van die US Woordfees is gerig op woordvaardighede, lees, geletterdheid en die kunste, met Afrikaans as fokustaal. Naas ’n groot aantal WOW-aktiwiteite wat aangebied word tydens die jaarlikse US Woordfees word talle projekaksies deur die jaar aangebied, soos skrywersbesoeke aan skole, leeskringe, leesfeeste, skoolkoerante, debatfeeste, kuns en- kultuurfeeste, werkswinkels, kompetisies en veral die snelgroeiende nasionale Sanlam WOW Spelfees. ’n Belangrike fokus van die WOW-projek is om belowende leerders te identifiseer en hulle aan te moedig tot tersiêre studie, veral binne die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe.

Die medewenners van die eerste prestige-eerbewys, in 2015, was die fakulteit onderwys van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) in Wellington, en Sabina Dumas, opvoeder aan New Orleans Sekondêre Skool in die Paarl. KSUT het vier behoeftige Afrikaanse studente se klasfooie met hul prysgeld gedek. Dumas het ingeteken op Die Burger sodat 250 leerders dié koerant en susterkoerante digitaal kan lees. Sy het verder uitgawes vir verskeie projekte geborg, waaronder leerders se deelname aan die WOW-Spelfees en ‘n skoolkoerantkursus. Volgens Dumas het die toekenning verskeie deure vir haar leerders oopgemaak, “blootstelling wat baie meer as geld beteken”.

Vir navrae, kontak die Direkteur, Michael Jonas, by 021 872 3441 of admin@taalmuseum.co.za.

Oktober 2016

Advertisements

Susan Smith ontvang ATKV/SA Akademie Navorsingsprys 2014

Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) stel jaarliks prysgeld van R60 000 beskikbaar vir die bekroning van ses gepubliseerde Afrikaanse artikels wat in ’n betrokke jaar in ’n geakkrediteerde tydskrif verskyn het. Vier pryse is bestem vir artikels in die geesteswetenskappe en twee vir artikels in die natuurwetenskappe. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hanteer die keuringsproses.

Vanjaar is die beste artikels wat in 2012 verskyn het en deur redakteurs van geakkrediteerde tydskrifte aan die Akademie voorgelê is, beoordeel. Daar is 16 artikels uit 8 tydskrifte voorgelê en die pryswenners van die van die ATKV/SA Akademieprys 2014 is pas bekend gemaak.

Drie van die wenartikels is in LitNet Akademies gepubliseer. Die pryse is toegeken aan:

Susan Smith, Departement Afrikaans, Universiteit van Fort Hare vir haar artikel: “Plek en ingeplaaste skryf. ’n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk” wat in LitNet Akademies, jg 9, no 3, Desember 2012 verskyn het.

Volledige artikel op LItNet

Susan Smith

Francis Galloway
Redakteur: Geesteswetenskappe

JM (Jannie) Otto, Departement Privaatreg, Universiteit van Johannesburg vir sy artikel “Die afkoelreg in die Nasionale Kredietwet en die Wet op Verbruikersbeskerming” wat in LitNet Akademies, Jg 9, no 1, Maart 2012 verskyn het.
Jannie Otto

Johann Neethling
Redakteur: Regte

Helgard Raubenheimer, Departement Chemie en Polimeerwetenskappe, Universiteit Stellenbosch vir sy artikel “Asikliese karbeenkomplekse maak eerste opslae in goudstormloop” wat in LitNet Akademies, jg 9, no 3, Desember 2012 verskyn het.
Helgard Raubenheimer

Dirk Laurie
Redakteur: Natuurwetenskappe

 

Image may contain: 2 people, people smiling

Prof Susan Smith en Mnr Japie Gouws, van die ATKV, tydens die oorhandiging by NMMU in Port Elizabeth.

2014 Kokertoekenning van die Afrikaanse Taalraad vir Beskerming van Afrikaans aan Susan Smith

Viertal erken vir taalstryd

Beeld: Deur Susan Cilliers Maandag 03 November 2014 4:00 vm.

Van links is prof. Wannie Carstens, Marlene le Roux en prof. Susan Smith. Regs is Christina Mashobane, ‘n Afrikaans-onderwyseres van Hammanskraal, naby Pretoria, wat met ‘n aansporingsmedalje vereer is. Foto: susan cilliers

In 2005 het sy ’n Afrikaans-departement by die Fort Hare-universiteit in Oos-Londen gevestig.

Prof. Susan Smith het boonop ’n groot rol gespeel om Afrikaans naas Engels en Xhosa as amptelike tale by Fort Hare erken te kry.

Sy is Vrydagaand hiervoor en vir verskeie ander projekte om Afrikaans te bevorder met ’n Kokertoekenning vir die beskerming van Afrikaans vereer.

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) het haar en nog twee mense met Kokertoekennings in Potchefstroom beloon vir hul bydrae tot Afrikaans.

“Ek is oorweldig, ’n mens doen maar wat voor jou is om te doen,” het Smith, ook ’n digter, gesê.

Marlene le Roux, direkteur van Kunstekaap se Kunstesentrum, is ook met ’n Koker vereer vir haar bemagtigingswerk op die gebied van die kunste, opvoeding, armes, en veral binne gestremde gemeenskappe.

By Kunstekaap bied sy jaarliks Afrikaanse voorgeskrewe letterkunde van gr. 1 tot gr. 12 aan. Só het sy meer as 50 000 leerders deur Afrikaans bereik. Le Roux is ook ’n Afrikaanse skrywer en medeskrywer van onder meer Die Wellingtonse Klopse.

Sy is voorsitter van die Wes-Kaapse Kultuurkommissie en die enigste Suid-Afrikaner ooit wat in die Olimpiese en Paralimpiese Spelekomitee gedien het.

Oor haar eerbewys het sy gesê: “Afrikaans moet met liefde en omgee beskerm word. Mense van inbors en integriteit moet daarmee geassosieer word. Ek besig nie net die taal nie, ek leef daarin. Ek wil my ouma bedank dat ek soggens 4:00 kon wakker word met die klanke van haar Afrikaanse gebed.”

Prof. Wannie Carstens, wat leiersposisies in talle taalorganisasies beklee, is ook met ’n Koker vereer vir sy rol in die bevordering van Afrikaans.

“Enorme foute is in die verlede in Afrikaans begaan, maar ons moet besef ons het die wil en vermoë om dit reg te maak. Ons moenie die ba­klei-tipes wees nie, maar oorredende tipes. Ons moet goeie en sterk mense wees.”

Carstens is direkteur van die Skool vir Tale by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus.

“Die mooiste Afrikaanse woord is ‘oupa’ en die tweede mooiste is ‘Afrikaans’,” het Carstens gesê en sy vrou, Wilma, en hul kinders vir hul ondersteuning bedank.

Hy is outeur en mede-outeur van verskeie akademiese boeke. Onder sy inisiatief is samewerkingsooreenkomste met België gesluit.

Lees ook die artikel hier.

Taalbeleid by UFH

Taalbeleid by die Universiteit van Fort Hare

Die Burger

Beeld

Volksblad

22/11/2013

In ‘n rigtinggewende stap het die Universiteit van Fort Hare einde 2013 ‘n nuwe taalbeleid aanvaar. Professor Susan Smith, Departementshoof van Afrikaans en lid van die Taalkommitee van die Universiteitsraad, het ‘n leidende rol gespeel in die totstandkom en aanvaarding van hierdie beleid.

Die hersiene taalbeleid wat eenparig deur die Senaat van die Universiteit van Fort Hare aanvaar is, is ‘n oorwinning vir ‘n multitalige en multikulturele benadering en in ooreenstemming met nasionale taalbeleid.

Die taalbeleid maak voorsiening vir die insluiting van Afrikaans, naas Engels en IsiXhosa, as een van die amptelike tale van die instansie, wat ‘n weerspieëling is van die multikulturele en multitalige demografie van die universiteit en ‘n bewustelike houding van insluiting kommunikeer. Die doelgerigte en aktiewe ontwikkeling van IsiXhosa en sy funksies tot volwaardige akademiese taal, en ‘n erkenning van die waarde en status van hierdie taal sal ‘n belangrike komponent van die toepassing van hierdie taalbeleid uitmaak. So tree die Afrikatale ook toe tot die meertaligheidsdebat en word ‘n belangrike vennootskap met Afrikaans gesmee, wat tot wedersydse voordeel sal lei.

Die oorlewingskrag van ‘n taal word nie net gemeet aan die hoeveelheid sprekers wat die taal op ‘n informele en spontane wyse gebruik nie; soveel meer is op die spel. Dit is veral die sogenaamde hoër funksies van ‘n taal wat bepalend is vir lewenskrag: dit sluit in die gebruik van ‘n taal op ‘n formele vlak soos byvoorbeeld in staatsinstansies, in kerke, in howe, as onderrigtaal en in die openbare media; ook as taal waarin belangrike literêre tekste gepubliseer word. Dit het veel te make met die amptelike status wat ‘n taal beklee, d.w.s. die waarde en erkenning wat aan ‘n taal toegeken word.

In ‘n tyd wat Afrikaans toenemend onder druk kom by talle tersiêre instansies en waar Afrikaanse departemente in sommige gevalle gesluit is, is die erkenning wat by die Universiteit van Fort Hare aan Afrikaans gegee word, beduidend en moet geprys word. Dit beteken onder andere die insluiting van Afrikaans (saam met isiXhosa) tydens universiteitsgeleenthede, op amptelike dokumente, korrespondensie en beleidstukke – en dit by ‘n universiteit wat tot op hede uitsluitlik Engels vir al hierdie funksies gebruik het.

Die groot uitdaging vir die universiteit sal die effektiewe toepassing van die nuwe taalbeleid wees, ‘n voortdurend evolerende proses wat sal afskop met die totstandbring van ‘n Taalsentrum. Dit vra om ‘n daadwerklike verbintenis tot, ‘n beteknisvolle implementering en ‘n toegewyde bestuur van die beleid.

LEES DIE BERIG IN DIE BEELD

Susan Smith, Afrikaans, UFH

Afrikaans in die nuus by UFH

Afrikaans in die nuus by UFH

Susan Smith, Afikaans, UFH

 

Stille stryder vir Afrikaans

Rapport

2010-11-20 21:58

Berig: René-Jean van der Berg

Foto: Denvor de Wee

Terwyl die groot taalstryders om die behoud van Afrikaans op talle kampusse stry, werk
dr. Susan Smith stil-stil met ’n groep studente in Afrikaans op die Fort Hare Universiteit
se Oos-Londen-kampus.

Al sê akademici die Afrikaansvuur brand nie meer so hoog nie, is dit die klein, smeulende kooltjies wat dié taal van uitwissing kan red.Dié klein kooltjies is wat dr. Susan Smith, digter en hoof van die departement Afrikaans by die Fort Hare Universiteit in Oos-Londen, in die harte van jong studente aanblaas.

“My werk is hiér. Daar is genoeg mense wat in Stellenbosch op die verhoog kan klim en vir die taal baklei. Aan so ’n aggressiewe debat neem ek nie graag deel nie,” sê Smith, wat in 2002 bekroon is met die Premierstoekenning van die departement van kuns en kultuur in die Oos-Kaap vir haar bydrae tot die Afrikaanse taal en letterkunde in die Oos-Kaap.Toe die Afrikaansdepartement van die Fort Hare-universiteit in Alice in 2004 weens lae studentegetalle sluit, het juis dié debatte en noodkrete woes deur die land getrek oor die taal nou kwansuis besig is om te sterf. Die Rhodes-universiteit het in 1997 ’n satellietkampus in Oos-Londen geopen, waar Smith Afrikaans gedoseer het.

In 2005 het die Rhodes-satellietkampus saamgesmelt met die Fort Hare-universiteit.Smith het toe die kans gekry om ’n volledige Afrikaansdepartement tot stand te bring. In 2005 is daar met net nege eerstejaars begin en vanjaar is 109 studente vir die vak Afrikaans ingeskryf. Van dié groep is daar twee doktorale, twee MA- en vier honneursstudente.Baie van die voorgraadse studente is Xhosa- of Engelssprekend en neem dus die taal as hul tweede of derde taal. Smith verduidelik op voorgraadse vlak word die vak in twee strome verdeel: prakties en akademies. Veral die nie-Afrikaanssprekendes bestudeer die taal op praktiese vlak. Daar is egter ook studente wat baie negatiewe persepsies oor die taal het, maar Smith spog dat die persepsies nie van lange duur is nie.

Smith en haar medelektor, mev. Shamiega Chaudhari, verduidelik sommer op eerstejaarsvlak aan nie-Afrikaanssprekendes dat jy nié jou eie taal, geskiedenis en kultuur verraai deur Afrikaans te neem nie.“Van die negatiewe persepsies is dikwels deur die geskiedenis heen en selfs op skoolvlak in die studente ingemessel. Hul ouers se idee rondom Afrikaans het ook ’n groot invloed op hoe húlle die taal sien en ervaar. Ons probeer om ons klasse prettig te hou om dié idees af te breek. Dit is in dié klasse wat die studente vir die eerste keer leer hoeveel hul eie taal en kultuur Afrikaans beïnvloed het. “Dan besef hulle Afrikaans is nié ’n Europese taal nie, maar ons éie taal. Dan dink hulle, ‘hei, ek kan mos ’n stukkie van my hart ook vir dié taal gee’.”

Smith debuteer in 1997 in Nuwe Stemme 1 en van haar gedigte word daarna in verskeie publikasies opgeneem, o.a. in Groot verseboek (2000), Versereise (2001), Raamwerk 11 & 12 (2001), Pret met poësie (2007), Versjoernaal (2008), Groot verseboek (2008), De Onbestemmelingen (2011) (saam met ’n Nederlandse vertaling van haar gedig deur Gerrit Komrij) en Vonkverse (2011). Een van haar gedigte is nasionaal voorgeskryf vir gr. 12-leerlinge.

LEES BERIG IN RAPPORT HIER

Gemeenskapsbetrokkenheid en studenteaktiwiteite

Afrikaanse Feesaand, studentedrama, ATKV studentetak, Forum vir Afrikaanse onderwysers:

 

Afrikaanse aand 2012.1l00015   

    Afrikaanse aand 2012.2l00005

Studentedrama

UFH Kaap Toer 1 052  UFH Kaap toer 2013 015

Besoek aan die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl en Dianna Ferrus tydens die Kaapse taaltoer

 

2013 ATKV.1l00024   April 2012 018

Eerste student ATKV-tak in die land, so hoor ons!      Nederlands by UFH met Dr Daniël van Olmen

UFH Kaap Toer 1 128   214

Taalmonument en Tafelberg

179

Op Seinheuwel